Gedagte vir Vandag
26 Januarie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (35)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit.
(Matt. 19:1-30)
Gesprek oor egskeiding (2)
(Mark. 10:1-12)
Ewige band wat nie gebreek mag word nie!
Matt. 19:7-9 – “Hulle vra Hom toe: ‘Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou ‘n skeibrief gee, hy van haar kan skei?’ Hy antwoord hulle: ‘Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met ‘n ander een trou, pleeg egbreuk.”
Vergelyk ook Matt. 5:31-32 – “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”
Die Fariseërs is egter nie gediend met Jesus se antwoord nie en vra waarom Moses dan wel egskeiding toegelaat het. Hulle impliseer dat Jesus se antwoord aan hulle, Moses se bevel in Deuteronomium 24:1 weerspreek. Jesus reageer hierop deur ’n belangrike regstelling te maak met die oog op die oënskynlike konflik tussen verskillende Skrifgedeeltes: die “bepaling” van Deut. 24:1 is geen bevel nie, maar slegs ’n toelating vanweë die hardheid van die hart van die mens wat nie aan God gehoorsaam wil wees nie. In plaas van om in ‘n debat met die Fariseërs betrokke te raak oor egskeidingspraktyke, soos hulle verwag het, neem Jesus hulle terug na God se bedoeling met die huwelik, deur te sê dat “dit van die begin af nie so was nie”. Jesus neem hulle terug na Genesis toe waar God man en vrou aan mekaar geskenk het.
Jesus beklemtoon steeds dat dié reëling van Moses, weens die hardheid van die harte van mense soos die Fariseërs, later bygekom het. Maar ’n mens moet nie van ’n toelating in ’n spesifieke situasie, ’n beginsel maak nie. Egskeiding behoort nooit die norm te wees in die verhouding tussen gelowiges nie, huwelikstrou wel. Owerspel verplig ons nie tot egskeiding nie maar laat dit wel toe. Deur God se genade word ons vrygelaat om te skei oor owerspel en word ons nie gevange gehou deur ons sonde nie. Vandag sou iets soos gesinsgeweld ook ‘n toelatende rede wees. Tog kan dit nooit sonder berou en rou oor die skending van God se bedoeling plaasvind nie. Om die beginsel suiwer te kan sien, moet die voorskrif van Moses getoets word aan die wil van God soos Hy dit by die skepping tot uitdrukking gebring het. Daar het God man en vrou in ’n monogame huwelik saamgevoeg met ’n band wat hegter is as dié wat ’n kind aan sy ouers bind (Gen. 1:27; 2:24).
Tydens die Ou Testamentiese tyd was dit manlike baasskap en die vrou is as minderwaardig beskou, en daarom kon net die mans skei. Die vrou was dan weerloos gelaat teen egskeiding en kon sy as vrou, nie sinvol alleen aangaan nie, want ‘n vrou het geen regte gehad nie. Sy was menslik gesproke, volkome afhanklik van ‘n man om te oorleef. Getrou aan die mens se sondige natuur het die manlike Jode van daardie tyd, die wet oor die skeibrief as ‘n geleentheid gesien om egskeiding maklik te maak. Jesus verset Hom egter hierteen om te sorg dat die vrou haar regmatige posisie as getroude vrou, moet behou.
As gevolg van die kultuur tydens Jesus se aardse tyd, was dit feitlik onmoontlik vir ‘n vrou om alleen te oorleef, veral na ‘n egskeiding. Gevolglik het sy haar dan tot prostitusie gewend of so gou as moontlik weer ‘n man probeer kry om haar teen haar weerloosheid te beskerm. Die onheilige gevolge van die “maklike” egskeiding het veroorsaak dat die geskeide vrou “maak dat sy egbreuk pleeg.” Jesus beklemtoon dat die vrou dan in sonde verval as gevolg van haar weerloosheid, omdat die man gesondig het deur haar sonder voldoende rede (owerspel uitgesonder) weg te stuur. Sy verbreek haar huwelik wat in der waarheid, nog eintlik bestaan, omdat haar wettige man haar weggestuur het oor onbenullige “skrifgeleerdes en Fariseërs reëls.”
Dit is nie waar dit eindig nie – “iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” Die man wat met haar trou, verbreek ook haar huwelik met haar vorige man met wie sy eintlik nog wettig getroud was. Al trou hulle nie en woon net saam, is dit steeds ‘n sondige owerspelige verhouding. Die onverskillige leer van egskeiding en hertrou van die skrifgeleerdes en Fariseërs het veroorsaak dat ‘n gemeenskap van menigte owerspelige verhoudings, aan die orde van die dag was. Dit is ongelukkig vandag nog so, nie as gevolg van onbenullige bepalings van destyds nie, maar omdat die mens sy eie aangepaste reëls maak om te skei.
Huwelike waar mense nie by mekaar aanpas nie of waar die liefde “gesterf” het, het nog nie misluk nie – die mens het misluk. Die liefde van 1 Korintiërs 13 is nie meer van toepassing by hulle nie en dan word God verkwalik omdat Hy kwansuis die breuk bewerkstellig het – “Here, hoekom het U nie tussenbeide getree toe U gesien het dat ons huwelik aan’t verbrokkel is nie?” Dit is nie God se skuld nie. God huil saam met duisende geskeides wat die pyn van egskeiding moet verwerk.
Niemand gaan deur die trauma van ‘n egskeiding sonder dat daar diep letsels gelaat word nie. “God haat egskeiding. God sê egskeiding is niks anders as geweld nie” (Mal. 2:16). Richard Foster het die volgende bygevoeg: “It is true that in the absolute will of God his creative intent is for marriage to be a permanent ‘one flesh’ reality that should never be severed.” Die ou mense het ‘n gesegde: “In die huwelik is daar na omtrent ‘n maand, redes vir egskeiding. Die geheim is om te soek en aan te hou soek na redes om getroud te bly.” Dit is belangrik om nie net die regte maat te kies om mee te trou nie, maar om die regte maat ook te wees.
“Voor my huwelik kies ek wie ek wil liefhê. Ná my troue het ek die een lief wat ek gekies het”
(Martin Luther).
Gebed: Liewe Heer, daar is só baie mense wat as gevolg van egskeiding rondgeslinger word deur stormwinde van emosies. Woede, eensaamheid, hartseer, vrees, depressie en Ú weet wat nog alles, is aan die orde van die dag. Gevoelens van intense verwerping en die onsekerheid wat die breuk veroorsaak het, skeur mense, U liggaam, uitmekaar. Weerloosheid veroorsaak sonde en ons as medegelowiges se pogings om te help, is meestal nutteloos. Here, dit is net U wat ‘n egpaar wat wil skei kan rustig maak en te laat besin. Omvou hulle met U helende teenwoordigheid. Vul dié wat nogtans skei en wat reeds geskei is, met U allesomvattende en allesdeurdringende liefde wat altyd trou bly. Amen.
Comentarios