top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 10 April 2023

Koos Espach


Ons het ons reeks oor “Die Handelinge van die Apostels”, Vrydag en vandag onderbreek, om aan te sluit by die Kruisiging en Opstanding van Jesus, sodat ons saam met die kerk van alle eeue, by die hart van ons geloofslewe kon aansluit.


Die leë graf – Jesus hét opgestaan


Joh. 20:1-2 – “Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: ‘Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”


Vergelyk ook Matt. 28:2-4 – “Skielik was daar ‘n geweldige aardbewing. ‘n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. 3Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. 4Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.”


Volgens die ander Evangelies het drie of vier vroue daardie Sondagoggend na die graf gegaan (Matt. 28:1; Mark. 16:1; Luk. 24:10), waaronder ook Maria Magdalena. Johannes vertel net van Maria Magdalena, waarskynlik omdat Jesus eerste aan haar verskyn het. Toe dit nog nie goed lig was nie, kom sy, "(hulle) by die graf met reukolie om die liggaam daarmee te balsem" (Matt. 16:1), en sien dat die klip voor die ingang van die rotsgraf weggerol is. Sy vind geen lyk in die nuwe graf nie. Sy kon nie ‘n fout maak nie, want net Jesus se lyk was in daardie graf. Sonder om nader ondersoek in te stel, aanvaar sy dat die liggaam van Jesus nie meer in die graf is nie.


Sy het gedink iemand “het die Here uit die graf weggevat, en hulle weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.” Hulle was egter by die regte adres – JESUS LÉÉF! Omdat die getuienis van vroue in daardie tyd nie as betroubaar beskou is nie, was dit belangrik dat sy onverwyld die manne gaan roep het om die waarheid van haar berig te bevestig. Daarom hardloop sy om dit aan die dissipels te vertel, eers na Petrus en dan na “die dissipel vir wie Jesus baie lief was.”


Haar boodskap aan die twee dissipels het tot gevolg dat Petrus en die “ander dissipel vir wie Jesus baie lief was”, in ‘n wedloop betrokke raak om by die graf uit te kom. Die geliefde dissipel, Johannes, wen die wedloop en word die eerste getuie van die opgestane Here! Hy loer by die graf in en sien die doeke daar lê, en Johannes besef dat daar iets ongewoons gebeur het. Die Persoon vir wie die doeke bedoel was, het dit nie meer nodig gehad nie. Getrou aan sy geaardheid, steur Petrus hom nie daaraan dat grafte as onrein plekke beskou is nie. Hy huiwer nie om die graf binne te gaan en noukeurig rond te kyk nie. Die graf is leeg, maar die grafdoeke is nog daar, nie in wanorde nie maar netjies bymekaar. Die doek wat om Jesus se kop was, lê eenkant opgerol, wat beteken: Ek kom weer! Aangespoor deur Petrus se voorbeeld, gaan Johannes ook die graf binne en sien alles wat Petrus sien, "en hy het geglo" (Joh 20:8b).


Johannes vertel vir ons van die gebeure dat sewe keer, iemand iets “gesien” het by die graf van Jesus (Joh. 20:1-18): Maria Magdalena “sien die klip is weggerol” (v. 1); Johannes kom daar en “sien die doeke lê” (v. 5); Petrus gaan die graf binne en “sien die doeke ...” (v. 6); Johannes gaan ook in en het “gesien en geglo” (v. 8); Maria “sien twee engele ...” (v. 12); sy draai om en “sien Jesus staan” (v. 14) en Maria Magdalena rapporteer aan die dissipels: “Ek het die Here gesien!” (v. 18). Elke keer “sien” iemand iets, maar elkeen se “sien” verskil – hulle “sien” maar verstaan nie juis elke keer nie!


Ons het gister Paassondag (Opstandingsondag) gevier. Dit beteken, ons glo ook dat Jesus die graf oorwin het. Soos die vrou(e) en dissipels het ons ook in die leë graf ingekyk, "iets gesien", en die verlatenheid daarvan, gee ons hoop. Ons leef met die wete dat Jesus Christus waarlik opgestaan het en dat sterflikheid saam met Hom opgestaan het. Die dood kon Hom nie vashou nie – die leë graf bevestig ons Verlosser lééf! Dit beteken Jesus Christus moet dus êrens leef, en dit kan nie anders wees as ín óns, wat in Hom glo nie. Die krag van Sy opstanding is dieselfde krag wat ons van God ontvang om in Sy opstanding te glo en dit te bely, en so vorm ons die kerk. Ons gelowiges maak só saam die koninkryk van God sigbaar, ten spyte van ons verskille.


Sewe keer het Maria Magdalena en die dissipels daar by die graf iets “gesien!” Hoe sien ek en jy vir Jesus? Sien ons werklik ons redding in die lydensgebeure en opstanding van Jesus ráák, of “sien” ons sonder om regtig ráák te sien? Ons belydenis dat Jesus opgestaan het, moet sigbare dade word, dat Jesus in ons leef, dat ons anders as die wêreld is omdat ons saam met Christus opgestaan het en nou nuwe mense is. Dat ons saam met Paulus sal “sien” én verstaan: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou” (2 Kor. 5:17-18). As ons dus aan die ou mens met ál sy sondes bly vasklou, laat ons Jesus Christus steeds aan die kruis hang, los ons Hom steeds in die graf en maak ons Sy opstanding, iets wat nooit gebeur het nie! Hoe sien en beleef ons vir Jesus?


“Christus het alles wat toe was, oopgemaak ... Ook die donker van hierdie wêreld se deur sodat ons ‘n toekoms kan hê. Ons lewe eindig nie meer met ‘n Vrydag, of met ‘n Saterdag in ‘n kerkhoftuin, maar met ‘n Sondag, met die opstanding uit die dood” (Murray Janson).


Gebed: Jesus Christus, ek juig vandag oor U onsterflikheid. Ek juig omdat U die dood oorwin het. Ek juig omdat U “die wêreld klaar oorwin het” (Joh. 16:33). Dankie opgestane Heiland, dankie dat U opstanding my weergeboorte moontlik gemaak het. As nuwe mens maak ek die deur van my hart oop vir U. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page