Gedagte vir Vandag
Donderdag, 2 Maart 2023
Koos Espach
Die gemeente in Antiogië (10)
Die Christene van Antiogië stuur hulp aan hulle geloofsgenote in Jerusalem (1)
Die Heilige Gees skep gemeenskap in die kerk
Hand. 11:27-30 – “In dié tyd het daar profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom. Een van hulle, met die naam Agabus, is deur die Gees gelei om te voorspel dat ‘n groot hongersnood die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur. Die gelowiges het toe besluit dat elkeen na sy vermoë sou bydra tot ‘n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges wat in Judea woon, gestuur sou word. Hulle het dit gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur.”
In dié tyd, gedurende die jaar se werk van Barnabas en Saulus in Antiogië, het daar profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom. Een van die profete, naamlik Agabus, is deur die Heilige Gees gelei en het voorspel dat daar ’n groot hongersnood sal wees oor die hele bekende wêreld van destyds. Ons weet uit die werke van Flavius Josefus en die Romeinse geskiedskrywers dat daar gedurende die regering van Claudius in talle streke, ook in Judea, hongersnood voorgekom het. In Jerusalem was die ergste die een tussen die jare 46-48 n.C. Daarby was 47/48 n.C. ’n Sabbatsjaar wat dit vir die Jode ná 46 se droogte nog moeiliker gemaak het om kos te kry. Elke sewende jaar was ‘n Sabbatsjaar wanneer niks geplant en geoes mag word nie, sodat die land self moes rus (Lev. 25:1-7).
Die gemeente, (volgelinge van Jesus), in Antiogië het op grond van Agabus se hongersnood-profesie besluit dat elkeen van hulle volgens vermoë ’n bydrae sal stuur aan die broers en susters wat in Judea woon. Daar is dadelik tot die daad oorgegaan en die geld is met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur. Die besluit deur die gemeente van Antiogië, wat ’n groot komponent bekeerde heidene gehad het, getuig van die gemeente se vrygewigheid wat deur die Heilige Gees in hulle bewerk is, en van hulle liefdesverbondenheid aan hulle broers en susters in Christus in Judea, wat hoofsaaklik uit bekeerde Jode bestaan het.
Wat hier gebeur het, is werklik merkwaardig. Dit is nogal ironies dat juis die tempel in Jerusalem, wat eintlik die bron van inkomste was, noustrop trek en gelowiges wat daarvandaan gevlug het, ‘n “hulpfonds” stig om medegelowiges in Jerusalem (Judea) te help – Antiogië word die gewers en Jerusalem die ontvangers. Hierdie gelowiges kon geredeneer het dat Jerusalem ver van hulle af weg was en hulle niks met Jerusalem te doen wil hê nie. Of selfs iets aan iemand in Jerusalem verskuldig is nie. Hulle kon ook geredeneer het dat Jerusalem en Judea se geloofsrituele te eng is, die Joodse reëls en besnydenis onaanvaarbaar is vir hulle in Antiogië – “laat hulle vir hulle kry, ons sorg vir onsself wanneer hongersnood by ons kom en basta met die res.”
Al hierdie argumente kon met regverdiging aangevoer word, maar hulle het nie toegelaat dat teologiese verskille, of afstand, of enigiets, hulle ontneem van die geleentheid om hulle mede broers en susters in Christus, te help nie – ‘n sprekende voorbeeld van gemeenskaplikheid deur die Gees. Die Heilige Gees gee Homself aan álle gelowiges sodat almal gelyke deelname aan Hom kan hê. Werklike “gemeenskap van gelowiges” beteken dat ons nie kan wegstaan van die mense met wie ons hierdie gemeenskap deel nie – dié wat het moet deel met dié wat nie het nie.
God se mense gee vir mekaar om. Jesus het in sy Bergpreek gesê die barmhartiges sal geseënd wees (Matt. 5:7), maar nooit gesê dat ons kan kies aan wie ons barmhartigheid moet bewys nie. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel om te meng met alle mense: rykes en armes; die aanvaardes en veral die verstotenes; die eenvoudiges en die geleerdes. Is dit nie dalk om vir ons te wys dat ons nie kan kies na wie ons wil uitreik nie?
Die Here wil ons losruk uit ons gemaksone sodat ons kan uitbeweeg en ons behoeftige naaste gaan help. Dit is wat Jesus gedoen het en daarom mag ons as Sy volgelinge, nie minder doen nie. Dit is seker reg om op die skouer geklop te word deur mense wat sê: “Mooi so!”, en erkenning te ontvang wanneer ek en jy ons godsdienstige pligte nakom, maar op die ou end maak dit nie eintlik saak wat mense sê nie, maar wat God dink. God raak opgewonde wanneer mense góéd aan ander doen en dit kom uit die hart, want God kyk tot binne in die hart!
“Skynheiligheid is die enigste boosheid wat onsigbaar tussen ons wandel, maar God weet, want Hy kyk na die hart” (John Molton).
Gebed: Here, dankie vir U voorbeeld van barmhartigheid. Gee my ‘n hart wat blymoedig sal uitreik, opoffer en gee, na die voorbeeld wat U my gestel het. Amen.
Comments