top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 30 Januarie 2023

Koos Espach


Petrus en Kornelius (14)

Petrus se toespraak by Kornelius (5)


Jesus het nie net lewendig geword nie, Hy sal nooit weer sterf nie


Hand. 10:40-41 – “Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het.”


Petrus beklemtoon die waarheid van die apostels se verkondiging i.v.m. die opstanding deur daarop te wys dat Christus ná sy opstanding nie aan die hele volk verskyn het nie, maar slegs aan bepaalde getuies wat reeds vooraf deur God aangewys is. Mense wat saam as die ware oog-en oor-getuies van Sy opstanding is: Verskyning aan verskeie vroue (Joh. 20:11-18; Matt. 28:9;); mense wat saam “met die opgestane Jesus geëet en gedrink het” – die feesmaal saam met die Emmausgangers (Luk. 24:30-31); dieselfde Sondagaand met die elf dissipels en die mense saam met hulle (Luk. 24:33,41-43); weer met die dissipels op die strand van die see van Galilea na die groot visvangs (Joh. 21:12).


Die graf is leeg! Die keerpunt is dat Jesus geen graf het nie. Hy het net ‘n plek daar in ‘n tuin in Jerusalem waar Hy vir drie dae gelê het – Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Ek weet, ek was binne daardie graf, dit is léég! Ek kon dit vóél en nes Johannes geglo (Joh. 20:8), en ek glo baie ander mense ook, Jesus hét opgestaan! Jesus het nie net lewendig geword soos Lasarus (Joh. 11), Jaïrus se dogtertjie (Matt. 9:25) en die weduwee van Naïn se seun nie (Luk. 7:11-17). Hulle is later weer dood. Jesus was die dood in, maar Hy het nie net weer uit die dood teruggekom nie, Hy het die dood deurgegaan en “anderkant” uitgekom. Hy sal nie weer sterf nie: “Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie” (Rom. 6:9). Volgens die Bybel waarin ek en jy glo, het die opgestane Jesus Christus daarna, elf keer aan enkelinge en groepe mense verskyn voordat Hy in die hemel opgeneem is.


Daar is vandag allerhande teorieë oor wat werklik met Jesus in die graf gebeur het. Die sogenaamde “kenners” beweer dat Sy dissipels Hom iewers tussen Vrydagaand laat, en vroeg Sondagoggend uit die graf gaan haal het en herbegrawe het. Ek wonder hoe het hulle verby die soldate gekom wat die graf bewaak het, én die seël ongesiens gebreek het? Adrio König vra interessante vrae oor die doeke waarna Johannes verwys: “Indien die teorieë dan reg is, hoekom sou die dissipels die doeke afhaal as hulle Jesus se liggaam gaan herbegrawe het? Jesus kon dit ook nie self oprol nie. ‘n Dooie kon nie die doeke afhaal as hy weer lewendig geword het nie, soos ons met Lasarus gesien het (Joh. 11:44). Veeleer skyn dit asof daar regtig Iemand by Jesus in die graf was en die doeke ordelik gerangskik het om as teken van Sy opstanding uit die dood te dien.”


‘n Koue graf en ‘n swaar kliprol kon Jesus nie binnehou nie. Die vroue aan wie Jesus verskyn het, kon waarneem Sy liggaam was op ’n manier anders – ‘n verheerlikte liggaam – tog was dit ’n werklike liggaam. Hulle kon Hom sien en sy voete vashou (Matt. 28:9). Dit was dieselfde Jesus wat hulle geken het; die Jesus met Wie hulle saamgeleef het; die Jesus wat hulle gesien sterf het; die Jesus wat begrawe was; die Jesus met wonde …! Aan Sy dissipels het die opgestane Jesus sy hande en voete gewys. Aan die sigbare merke van die spykers kon hulle sien dat dit nie ’n gees is waarmee hulle te doen het nie, maar met die liggaamlike teenwoordigheid van Jesus. Die Jesus wat aan die destydse Emmausgangers verskyn het, wil vandag vir my en jou ook die goeie nuus gee, nuus wat ons “harte warm laat word wanneer Hy die Skrif vir ons uitlê” (Luk. 24:32), nuus wat ek en jy met ‘n brandende begeerte met ander moet deel en getuig: Hoop is blywend omdat God daarin is!


Met die verskynings aan verskillende mense ná Sy opstanding, het Jesus seker gemaak dat Hy aan my en jou ook daardie versekering gee: Hy leef, Christus lééf! Ek en jy kan jubel oor Sy opstanding. Ons kan dit met oortuiging aan die wêreld gaan vertel dat Hy leef, en ons wat glo in Hom, leef saam met Hom! Ek en jy en die kerk van Jesus Christus in die ganse wêreld, het vandag twee keuses in die getuienis aan die wêreld: Om te glo dat Jesus opgestaan het uit die dood, of om dié waarheid te ontken, te ignoreer of weg te redeneer. Ek weet wat ek reeds gekies het – ek glo dit met my hele lewe. Jesus se opstanding maak van my ‘n mens wat vas glo in die krag van die Allerhoogste. En in Sý krag, pak ek die lewe aan. Christus het die pad van die dood en opstanding vóór my geloop. In Sy hande voel ek veilig! Wat kies jy?


“Die Christelike geloof is ‘n opstandingsgeloof. Die konsep van opstanding uit die dood vorm die hart daarvan. Neem dit weg, en jy vernietig die hele Christelike geloof” (John Stott).


Gebed: Opgestane Heiland, dankie vir die gawe van geloof in U opstanding wat U skenk. Dankie dat ek met oortuiging mag bely dat U leef. Dankie dat U opstanding uit die dood vir my die ewige lewe moontlik maak. My lewe eindig nie by ‘n Saterdaggraf in ‘n tuin in Jerusalem nie, maar by ‘n Sondagopstanding. Versterk my elke dag in hierdie belydenis. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page