Gedagte vir Vandag
Maandag, 23 Januarie 2023
Koos Espach
Petrus en Kornelius (9)
Petrus gaan Kornelius se huis binne (2)
Glo en doen buite jou gemaksone
Hand. 10:29b-33 – “Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.’ Kornelius antwoord: ‘Vier dae gelede so teen drie-uur die middag was ek in my huis besig om te bid. Toe staan daar skielik ‘n man met blink klere voor my, en hy sê: ‘Kornelius, God het jou gebed verhoor en gelet op wat jy vir die armes doen. Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon, wat ook Petrus genoem word, daar haal. Hy is tuis by ‘n ander Simon, ‘n leerlooier, wat by die see woon.’ Ek het dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het.”
Petrus het wel kortliks van die boodskappers gehoor waarom Kornelius hom laat haal het, maar hy wou nou uit die mond van Kornelius self hoor wat die toedrag van sake was. Lukas skerp dit in by ons en sy lesers vir ‘n tweede keer, waarom Kornelius vir Petrus laat haal het en dit word vir Petrus al duideliker uit Kornelius se vertelling van sy ondervinding, wat die Here met sy eie visioen bedoel het.
Uit Kornelius se woorde blyk dit dat hierdie Romeinse godvresendes glo dat hulle in die teenwoordigheid van God is, in afwagting is op Sy opdragte deur Petrus, en dat hulle bereid is om dit te doen. “Wat die Here alles aan u opgedra het” kom vir die godvresendes, deur die God van Israel omdat hulle nog nie Jesus as die Here ken nie. Petrus kom juis die Here Jesus aan hulle voorstel. Die Here trek die lyn wat Hy met Kornelius en Petrus begin het, bymekaar deur altwee se gehoorsaamheid aan Sy opdragte. Omdat Kornelius vir die apostel op bevel van God ontbied het, moet Petrus hom dus nie daaroor verontrus dat hy die huis van ’n nie-Jood ingegaan het nie.
Soos Kornelius God gedurigdeur in sy gedagtes gehou het, só was Kornelius ook in God se gedagtes. En God besluit om iets aan die saak te doen. Dit kan ons maar weet: Die oomblik wat ons dink ons het ‘n greep op God of op hoe God werk, dan verras God ons. Petrus het verduidelik hoe die Here met hom gewerk het om sy ‘rassistiese’ hart gewillig te maak en ver buite sy gemaksone moet beweeg en saam te gaan na ‘n ‘gehate’ heidense Romein (10:28). Kornelius het op sy beurt, vertel hoe die Here hom oortuig het om hulp te gaan soek by ‘n onbekende man met die naam Simon. Albei was nou gereed vir wat God besig was om in en deur hulle te doen. Is dit nie vir ons ‘n les om sommige van die maniere te herken waarop God met ons praat nie?
Dit is nie net Petrus wat met vooroordele gesukkel het nie. Ons is in dieselfde bootjie. Terwyl een van ons gemeente se uitreikgroepe besig was met uitreike na Hillbrow se ‘sypaadjieslapers’ (boemelaars), en dit nogal saans tot in die middernagtelike ure wat dit in ons oë, ekstra gevaarlik gemaak het, was ons aanvanklik ongemaklik daarmee. Ons was uit ons gemaksone gehaal. Selfs die uitreike na gevangenes was erg! Uitreike na mense wat met die MI-virus saamlewe, was nog erger. Kom ons noem dit maar op die naam: Dit was moeilik om ons vooroordele te oorkom! Ek meen, om een van hulle, meestal anderskleuriges, met die hand te groet, sommiges se wonde behandel het, was moeilik. Sê nou maar die swart gee af. Sê nou maar die vigs-virus ‘spring’ op ons! Dit druis in teen ons bekende lewenstyl. Geen beskaafde mens kan in sulke omstandighede werk nie.
Maar hoe langer ons God se goedheid leer ervaar het, hoe meer deernis het ons ontwikkel vir diegene rondom ons. Ons het begin verstaan hoekom Jesus die skares jammer gekry het (Matt. 14:14); ons het begin besef hoe moeg, moedeloos en sonder hoop baie mense was met wie ons te doen gehad het; ons het begin besef dat daar weer ander aspekte is wat ons oortuig het om téén die omstandighede in, steeds in die rigting te gaan wat ons glo God vir ons wys. Jesus het mos vir ons almal gesterf! Dit help nie ons raak so vasgevang in ons gebedservarings soos Petrus daar op die dak in Joppe, en ons wil nie straat toe stap om mense in hulle nood te gaan help nie. Ons het begin besef wat Jakobus 2:14-26 vir ons sê: “Wat help dit ... as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie ... wat help dit dan?” Geloof sonder dade is dood!
Wat Jesus gedoen het, het Hy vir elke gelowige gedoen. Hy stuur ons nêrens sonder die nodige aanwysings nie. Wanneer Hy ‘n taak aan ons opdra, los Hy ons nie maar net aan ons lot van menslike swakheid oor nie, hy gee ons deur sy Gees die nodige insig en krag om dit te voltooi. Hy bemagtig ons gewone mense wat daagliks met hulle eie selfsugtigheid stry, om op Sy triomftog te loop terwyl satan maar net magteloos kan toekyk. God het vir Petrus geleer dat hy glad nie mag neerkyk op mense uit ander volke nie. God se liefde stoot die skanse wat ons tussen mekaar oprig, uit die pad. Kom ons breek ook daardie skanse met die krag van die Heilige Gees af. Kom ons beantwoord haat met liefde. Laat ons woorde en dade van ontferming ons enigste wapens wees. Kom ons praat sagte woorde wanneer baie om ons bulder. Kom ons vee trane af waar lyding heers. Kom ons praat woorde van hoop tussen al die wanhopiges. Kom ons gee die eerste tree op ons gemeente se jaartema vir 2023: “Oorgee – Omgee – Uitgee”.
“Siek of gesond, blind of siende, is ons almal hier op aarde met dieselfde doel: Om God te dien. En nie net met baie gebede en vroom woorde nie, maar met praktiese dade van liefde” (Helen Keller).
Gebed: Here, maak my blind vir menslike voorkeure. Klee my met U liefde. Omskep my woorde in dade. Amen.
Comments