Gedagte vir Vandag
14 Januarie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (30)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se vierde toespraak; Verhoudings tussen gelowiges.
(Matt. 18:1-35)
Die plig om te vergewe (2)
Onbeperkte genade!
Matt. 18:23-27 – “Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met ‘n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’ Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.”
Vergelyk ook Matt. 6:12 – “En vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.”
Jesus illustreer dan met die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser dat dit hier nie gaan om syfergetalle, en grootte van skuld nie, maar om die fyn aanvoeling van die hart. Dit wat 'n mens uit genade ontvang, moet jy ook aan ander deurgee. Die onbarmhartige amptenaar het onberekenbare groot skuld van miljoene rand aangegaan en daar moet betaal word. In sy omstandighede is die enigste beslissing wat verwag kan word van die koning, ‘n volstrekte uitwerping, vernietiging en ondergang vir altyd. Met daardie vooruitsig kan daar slegs by hom, doodsangs en verwilderde radeloosheid wees wat dwing tot 'n smeekbede om genade. Sy hopelose en onmoontlike belofte dat hy “alles sal terugbetaal” was 'n angskreet om begenadiging. En dan, die onbegryplike gevolg: “Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.” Onbeperkte genade!
Al sou die amptenaar probeer het, kon hy nie daarmee 'n noemenswaardige afbetaling doen nie. Die amptenaar se skuld bedra 10 000 talente (1933/1953-vertaling). Vir dié wat die som wil uitwerk: ’n talent was sesduisend denarii werd en ’n denarius was ongeveer die minimum dagloon van een arbeider van daardie tyd. Wanneer besef word dat ’n talent 6 000 mense se dagloon was, kry dit meer betekenis. As die dagloon dus R100 per dag in ons geldeenheid sou verteenwoordig, het die slaaf R6 000 000 000 geskuld – 6 triljoen Rand – ‘n onbeskryflike grootte van my en jou skuld voor God. Die koning het dus ’n amper onmoontlike hoeveelheid skuld afgeskryf en die amptenaar vergewe
Jesus skilder in hierdie gelykenis ‘n prentjie van verskillende verhoudinge. God het die wêreld geskep vir vergifnis, genade en liefde. Ons is aanmekaar geweef deur ‘n God van genade en liefde en vergifnis en daarom verwag Hy dat ons dit verder sal uitleef en sal aangee aan ander. Net soos ons daarna smag dat ander ons so sal behandel, smag hulle ook na ons genade, liefde en vergifnis. Daarom het Jesus hierdie konsep ook in die “Ons Vader” gebed ingebou sodat ons dit elke keer kan bid wanneer dit nodig is: “En vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.”
Die behoefte aan sondevergifnis is seker een van die dringendste behoeftes by elke mens. Wat egter treffend is, is dat Jesus ons leer om vir ander se oortredinge ook te bid. Soms voel dit asof ons eie oortredinge só baie is dat daar nie nog tyd is om God met ander se probleme ook op te saal nie. Hulle kan mos maar self vir hul eie skuld by God instaan. Buitendien, ons kan mos nie sommer enigiemand saam met ons in die beskuldigdebank intrek nie. Ons moet egter onthou dat ‘n gebed wat op ek-gesentreerd is, net ter wille van my en jou eie skuldvergifnis, en nie ter wille van die Vader en Sy koninkryk nie. Ons moet dus onselfsugtig bid vir ons broers en susters, m.a.w. vir elke mede-gelowige wat in skuldnood verkeer.
Waarom moet ek nog bid vir sondevergifnis en om ander te vergewe? Jesus is ons sonde-offer en Hy het mos klaar daarvoor aan die kruis betaal: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (2 Kor. 5:21). Ons móét terug na God se troonkamer toe en bid vir sondevergifnis want dit is nodig. Daardie versoening wat ons in Christus reeds ten volle besit, moet ons daagliks weer vir ons toeëien en aan ander aangee. Ons sondig steeds daagliks, selfs daarvoor het Christus reeds betaal, maar ons moet tog om dié genade dat hy dit ook sal vergewe, elke dag bid. Ons word selfs in sonde gebore en ons hele lewe is ‘n proses van heling. God is daardie gom wat die heling bewerkstellig wanneer ons daarvoor vra!
Vergun my ‘n retoriese vraag: “Ek wonder hoeveel mense het al Matt. 6:14-15 mooi en stadig gelees sodat dit insink?” Ons vra God om te vergewe soos ons vergewe! SIDDEREND! “Maar Here ... Ek het geen skuld daaraan nie!” “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe” (Matt. 5: 23-24). Daar staan nie: “en dit jou byval dat jý iets teen jou broer (suster) het” nie, maar “dat jou broer iets teen jou het.” Jesus se opdrag is dat jý moet gaan versoen. In watter mate is ek en jy dus, ‘n vergewende mens?
Hoe onbegryplik groot was elkeen van ons se skuld nie voor God gewees nie. Nie een van ons kon betaal nie, nogtans was die Koning van alle konings ons genadig. In en deur die krag van Sy bloed is al ons skuld vergewe. Dieselfde kan nou van ons verwag word indien ons naaste in die skuld by ons is. Vergifnis se antwoord is nie 70 x 7 wat gelyk is aan 490 nie, dit is onbeperk, onophoudelik en onvoorwaardelik! Dis moeilik om te vergewe, nog moeiliker om dit sewentig maal sewe keer te doen. Tog doen God dit vir my en jou – en met die Heilige Gees se krag kan ons dit ook regkry, juis omdat ons elke dag opnuut deur God, van harte vergewe word! In hoeverre is ek en jy bereid om ander te vergewe soos wat ons dag vir dag verwag dat God ons moet vergewe?
“Om te vergewe is geen maklike taak nie, want as jy iemand vergewe het, beteken dit drie dinge: Om nie die onreg wat teen jou gepleeg is, probeer terugdoen nie; om nie met ander daaroor te praat nie; om nie gedurig daaraan te dink nie” (Jay Adams).
Gebed: Ons Vader, my grootste skuld is my onvermoë om soos U te kan vergewe. Here, hoe kan ek vergifnis verwag as ek nie kan vergewe nie en dit terwyl U dit onlosmaaklik gekoppel het aan die sekerheid van U vergifnis? Ag Here, as ek net effens te na gekom word of selfs iemand na aan my beledig my, soek ek vergelding eerder as vergewing. Ek veroordeel so graag en so gou. Vader, vergewe my en lei my om soos U te kan vergewe. Amen.
Comments