Gedagte vir Vandag
Maandag, 28 November 2022
Koos Espach
Petrus in Lidda en Joppe (2)
Die opwekking van Tabita (1)
Leef só in geloof dat die dood nie gevrees word nie
Hand. 9:36-38 – “In Joppe was daar ‘n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ‘n bokamer neergelê. Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: ‘Kom tog gou na ons toe oor.”
Handelinge is die verhaal van God se groot dade waar Hy besig is om die wêreldtoneel van ons gelowiges permanent te verander. Paulus is al op die toneel en eintlik is alles reg vir die groot geestelike beweging na die heidene, en dan kom Lukas en hy voeg binne hierdie groot storie, twee klein los storietjies wat eintlik nie so lekker inpas nie – Petrus wat deur die lewendmakende krag van God, in die Naam van Jesus, eers vir Eneas in Lidda gesond maak en daarna Tabita in Joppe uit die die dood opwek.
In Joppe, vandag Jaffa in Tel Aviv, was daar ‘n gelowige vrou met die Hebreeuse naam Tabita, in Grieks vertaal Dorkas en in Afrikaans beteken dit “wildsbokkie.” Sy het in die gemeente ’n besondere plek ingeneem deur die baie goeie werke wat sy gedoen het. Sy het uitgemunt in mededeelsaamheid en barmhartigheidsdiens aan armes. Gedurende die tyd wat Petrus in Lidda besig was, het Tabita in Joppe siek geword en gesterf – ‘n groot ramp vir die armes! Daar was niemand anders soos sy wat daadwerklik vir hulle omgegee het nie.
Daar is min mense wat nie intense droefheid ken nie, want ons leef in ‘n wêreld gevul met pyn, lyding, ongeluk, beproewings en natuurlik, die dood. Niemand kan dit ontvlug nie. Lukas laat ons stop en hy laat ons kyk – na die onopsigtelike mense, doodgewone mense soos ek en jy, wat God aanraak, vir wie Hy omgee, en dan gebruik op die groot en belangrike pad wat Hy vir die evangelie – die goeie boodskap van die opgestane Here Jesus, oopmaak. Wanneer droefheid ons oorval, is daar net Een wat lig in die duisternis kan gee, wat die gebroke hart kan heel, wat weer vrede in die binneste en kalmte in die gemoed kan bring: God ons Vader. Hy “is die ewige Skuilplek, sy arms is altyd onder my en jou” (Deut. 33:27). Sonder geloof in Hom, sal ons nooit droefheid oorwin nie!
Die Here waarborg nie dat ek en jy vry sal wees van alle droefheid nie, maar Hy belowe wel sy liefdevolle vertroosting en krag in die stryd. Hy alleen kan kwaad in goed omskep, droefheid in blydskap, trane in lag. Die feit dat ons nie weet hóé Hy dit gaan doen nie, beteken nie dat ons Hom nie kan vertrou nie. God maak nooit ‘n fout nie. Elke gebeurtenis op my en jou lewenspad voltooi ‘n stukkie van Sy groot legkaart vir ons lewe. Ek en jy kan vashou aan Jesus se belofte – “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe, Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” Joh. 5:24). Verruklik né ! Ons moet net in Hom glo!
Peter Marshall vertel die mooi verhaal van die terminaal siek seuntjie wat vir sy ma gevra het hoe dit sal wees om dood te gaan en of dit seer sal wees? Sonder huiwering het sy geantwoord: “Onthou jy nog dat jy partykeer so moeg gespeel was dat jy sommer so met jou klere en al op ons dubbelbed aan die slaap geraak het? Die volgende oggend het jy op jou eie bedjie in jou eie kamer wakker geword, omdat pappa jou, terwyl jy geslaap het, soontoe gedra het. Die dood is net so. Ons almal sal een oggend wakker word en ontdek dat ons in ons regte kamer is. Dié kamer in die hemel waar ons hoort, omdat Jesus gesterf het sodat ons vir altyd by Hom kan wees; dié kamer wat Hyself vir ons gereed gemaak het.” Hy het nooit weer oor die dood uitgevra nie. ‘n Paar weke later het hy saggies aan die slaap geraak, net soos sy mamma gesê het, en sy Vader se sterk arms het hom kom wegvat na sy eie kamer in die hemel.
Van twee dinge kan ek en jy absoluut seker wees: Ons sál doodgaan, en as ons in Jesus Christus glo, sál ons vir altyd lewe! Elke dag wat verbygaan, is ons ‘n tree nader aan dié dag waarop ons gaan sterf, en daarom moet ons sorg dat ons elke dag só lewe dat die dood maar kan kom. Niemand weet wanneer nie. Wat ons wel weet, is dat die manier waarop ons elke dag lewe, betrekking het op ons lewe ná die dood. Dit is daarom belangrik dat ek en jy genoeg tyd afstaan aan dinge met ewigheidswaarde. Dinge wat ook ná my en jou se dood sal bly, want die dood is nooit die einde van die lewe nie, maar die poort na ‘n ander lewe. Ons moet dus só leef, dat ons nie die dood hoef te vrees nie, of die poort na die ander lewe mis nie!
“In hierdie wêreld roep Jesus Christus ons: ‘Kom!’ In die wêreld hierná staan Hy gereed om uit te roep: ‘Welkom!’ (John Donne).
Gebed: Here Jesus, alhoewel die dood ontwrigtend, onbekend en vol hartseer bly, hoef ek dit nie te vrees nie want U het reeds in my plek deur die dood gegaan. Dankie dat U daar by my sal wees wanneer ek ook deur die doodsvallei moet gaan. Help my om só te leef dat ek gereed sal wees wanneer U my kom haal. Amen.
Comentários