Gedagte vir Vandag
Maandag, 31 Oktober 2022
Koos Espach
Filippus en die Etiopiër (1)
God slaan ‘n reguit hou met elke bereidwillige krom stok
Hand. 8:26-29 – “’n Engel van die Here het vir Filippus gesê: ‘Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.’ Dit is ‘n stil pad. Filippus het toe klaargemaak en gegaan. ‘n Ontmande Etiopiër wat ‘n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid. Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. Toe sê die Gees vir Filippus: ‘Gaan loop saam met daardie wa.”
Lukas vestig nou weer ons aandag op Filippus. Die Here stuur sy engel na Filippus wat hom ’n opdrag gee om op ’n spesifieke tyd, op ’n spesifieke plek met ’n spesifieke mens te gaan praat. Met respek, ek dink Filippus het miskien gewonder hoekom hy die vrugbare bediening en wonderlike herlewing in Samaria moes verlaat en langs ‘n eensame pad, “n stil pad”, moes gaan sit? Filippus het wel mooi geleer om na die Heilige Gees se stem te luister en was gewillig om ten alle koste, gehoorsaam te wees!
Uiteindelik, terwyl hy daar langs die woestynpad sit, sien hy in die verte ‘n stoffie aankom. Kan dit reg wees? ‘n Lang slap “Mercedes-perdewa” op die eensame stil pad, met Etiopië se minister van finansies daarop. En Filippus ontmoet op die middaguur se hitte wanneer die meeste mense siësta, die eensame reisiger, ’n ontmande, ’n staatsamptenaar van die koningin van Etiopië. Skynbaar was dit destyds die gebruik om amptenare wat “aan die hof van die kandake, soos die Etiopiese koninginne genoem is,” diens gedoen het, se geslagsdele te verwyder ten einde hulle te verhoed dat hulle seksuele verhoudings met een van die koninklikes aanknoop en gevolglik, absolute lojaliteit aan die koningshuis waarborg.
Terloops, Jesaja is die enigste boek in die Ou Testament wat goeie nuus het vir ontmandes wat die Here dien: “’n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ’n droë boom nie. So sê die Here aan die ontmandes … Ek sal in my tempel en aan sy mure ’n teken gee, ’n erenaam wat beter is as seuns en dogters … en ’n naam wat nie uitgewis sal word nie … want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke” (Jes. 56:3-7).
’n Reis wat vir Filippus moontlik sinneloos moes gelyk het, is deur die Here die uitverkore tyd en plek vir Sy openbaring. Hierdie belangrike amptenaar het op die een of ander manier met God se Woord kontak gemaak en was besig om uit Jesaja te lees toe God sy lewenspad op ‘n ongelooflike manier gekruis het. Ek meen, dit was só belangrik dat sowel ‘n engel én die Heilige Gees vir Filippus die nodige roeteaanwysers voorsien het sodat hy by hierdie man uit Afrika moes uitkom.
God soek vandag nog steeds mense om soos Filippus saam met Hom op ’n sending te gaan. Filippus het nie sy agenda bereken of sy reisplan beplan en mooi uitmekaar gesit nie. Hy “het net klaargemaak en gegaan.” Ek en jy moet ons agendas ook soms agterlaat en God se agenda vir ons lewe aanvaar. Miskien is dit nodig dat ons ons gebede aanpas en nie meer bid dat die Here moet seën wat ons doen nie, maar God vra dat ons moet doen wat Hy seën! Ons moet kyk waar God besig is in mense se lewens en gehoorsaam reageer om ‘n verskil daar te gaan maak, gehoorsaam te wees, al maak die rigtingaanwysings nie altyd sin nie. Ek en jy moet bereid wees om gestuur te word, bereid wees om grense oor te steek.
Ja, dis nie maklik nie. Daar is baie gelowiges wat hoor dat hulle teenoor ander mense moet getuig van die verlossing in Jesus. En dan wonder hulle wat op aarde moet hulle sê; die Bybel is só dik en daar is buitendien verskillende standpunte oor alles. En dan los hulle dit eerder. Ons moet mekaar moed inpraat. Ons moet mekaar help met ons geloof. Ons moet geduldig wees, want dalk is ons die een wat die laaste kans het om iemand anders te help. Ons is dalk net die een wat God in iemand anders se lewe wil gebruik. En nee, ons hoef nie ’n graad in teologie of sielkunde te hê nie. Net soos ons is, met al ons foute, wil God my en jou gebruik. Staan op en doen vandag die regte ding. Maak ’n verskil in ander se lewens deur beskikbaar te wees vir God. Al is ek en jy ’n krom stok, Hy sal ’n reguit hou slaan.
Hoeveel keer het ek nie al in my lewe gesê: “Jammer, daai is nie my roeping nie.” Of “Nee, ek kan nie, dis eintlik ‘n flaw wat ek het.” Dis ’n flou verskoning. Vir jou én vir my. Ons moet weet dat God ons sal help om daaroor te kom. Ons moet net bereid wees om nie ’n verskoning uit te dink nie. Ons moet bereid wees om ook te midde van ons oënskynlike foute en tekortkominge steeds te doen waarvoor God ons geroep het. Die Heilige Gees is as geskenk vir ons gegee om ons by te staan en ons te help om ons roeping in die wêreld uit te leef. Die Heilige Gees is ons Vennoot en Helper. Ek en jy het ‘n Vader en ‘n Vennoot wat die bietjie energie wat ons insit, soveel maal sal vermenigvuldig. Hulle sal Hulle kant bring! Ek en jy moet net ons deel doen!
“Baie gelowiges soek mense om te bearbei binne loopafstand van hul huise; soek eerder ‘n reddingstasie om te beman binne loopafstand van die hel” (Charlie Studd).
Gebed: Here, ek is geroep om in U koninkryk te werk, ongeag die beroep waarin ek staan of die rol wat ek in die gemeenskap speel. Dankie dat U my toerus om die werk te doen wat U vir my uitgesit het om te doen. Ek dank U dat U reeds ’n plan het vir al my tekortkominge. Dankie dat U Heilige Gees my lei en wys waar U my wil gebruik. Amen.
Comments