Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Oct 12, 2022
- 3 min read
Woensdag, 12 Oktober 2022
Koos Espach
Vervolging en verstrooiing (1)
Saulus vervolg die kerk (1)
Jesus is die Skeidingmaker
Hand. 8:1-3 – “Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur. Daardie dag het daar ‘n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria. Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou. Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.”
Godvresende mense wat aan God toegewy gelewe het, het Stefanus begrawe en daar was groot roubeklag oor hom, die eerste Christen martelaar wat vir sy getuienis teenoor Jesus, vermoor is. ’n Gestenigde moes op dieselfde dag begrawe word om die land nie te ontheilig met sy lyk nie (Deut. 21:23). Volgens die Joodse wet, is alle openbare rou verbied oor ’n gestenigde. Hierdie rou oor Stefanus bewys egter sy onskuld en dat sy steniging nie ’n amptelike teregstelling was nie, hy is onskuldig vermoor! Om oor hom te rou, was in hierdie geval vir dié wat hulle oor hom ontferm het, iets wat vir hulleself gevaar ingehou het.
In skrille kontras met die optrede van die mense wat Stefanus begrawe, is dié man Saulus wat ook die moord op Stefanus goedgekeur het, “daardie dag” besig om die Christene tot in hulle huise te vervolg, mans en vroue, te laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit. Die groeiende gemeente wat tot nou toe in guns was by die volk (Hand. 2:47), kon nie langer rustig in Jerusalem voortgaan nie. In Jerusalem is hulle met die Heilige Gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig (Hand. 4:31). Maar nou vlug hulle uit Jerusalem en word verstrooi deur die gebiede van Judea en Samaria. Dit is treffend dat die apostels, wat reeds soveel van die Joodse Raad verduur het, voorlopig nog in Jerusalem gebly en die gemeente daar versorg het.
Dit is vir die kerk van die Here belangrik om by voorbaat te besef dat ons die skyf van die haat van die wêreld is. Deur al die eeue heen gebruik ongelowiges verskeie metodes om te probeer om die kerk van Jesus Christus te vernietig. Gelowiges is gemartel, doodgemaak, en die mense wat dit doen het dit met ‘n, volgens hulle, skoon gewete gedoen want hulle het “gedink dat hulle ‘n diens aan God bewys” (Joh. 16:2).
Die stryd is nog steeds nie verby nie. Satan is oorwin maar hy het nog nie die stryd gewonne gegee nie. Talle Christene se lewenswandel is omvergewerp omdat hulle volgelinge van Jesus geword het. Hulle Christenskap het hulle sosiale lewe uiteengeskeur; families is uiteen omdat sommiges van hulle lojaal aan Jesus was en ander nie. Die enigste “misdaad” wat hulle gepleeg het was om Jesus Christus te kies – dit het al duisende se lewe gekos en die statistieke van vervolging en gruwelmisdade teen Christene, groei steeds daagliks.
“Wanneer vervolging aanbreek, moet ons daaraan dink dat Jesus dit vir ons gesê het.” (Joh. 16:4). God se plan het egter nie ontspoor of iets het verkeerd gegaan nie, dit het immers met Jesus gebeur, daarom sal ons gelowiges nie vryspring nie. As Christus ons voorbeeld vir bediening is, kán ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As ons doel is om te getuig vir Christus, moet ons gewillig wees om soos Hy, verwerping te waag. Mense kan ons teleurstel, beledig, valslik beskuldig, ons motiewe verkeerd verstaan en verag, “vervolg” en selfs doodmaak. Ons Verlosser het immers nie toegelaat dat lyding Hom verhoed om deur God gebruik te word sodat elkeen wat Hy liefhet, te red nie.
Wanneer ons swaarkry terwyl ons dissipels van Jesus wil wees en soms wonder of die prys wat ons daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie, is dit nodig om stil te raak en na te dink oor die prys wat God gewillig was om te betaal om ons te red! Ons vervolgers kan maar alles in die stryd werp om te steel en te verower, hulle sal nooit slaag om die hemel van die gelowiges-in-Christus, weg te neem nie. “Ons is erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid”(Rom. 8:17b).
“Jesus het vir ons gelowiges drie uiteenlopende beloftes nagelaat: Ons sal heeltemal vreesloos wees, onbegryplik gelukkig, en altyd in die moeilikheid by mense wat anders dink” (TR Glover).
Gebed: Ons dierbare Vader, wanneer ek swaarkry hoor ek U stem duideliker. Dit is dan wanneer ek dink aan my opregtheid van my persoonlike toewyding aan U. Help my om myself te verloën en my kruis op te neem, positief op my swaarkry te reageer, nie om moedeloos te raak nie en te besef dat U my nooit alleen sal laat nie. Amen.
Recent Posts
See AllDinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...
Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...
Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...
Comments