Gedagte vir Vandag
Maandag, 10 Oktober 2022
Koos Espach
Epiloog en Stefanus se steniging (5)
Jesus se bloedoortapping
Hand. 7:57-58 – “Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by ‘n jongman met die naam Saulus.”
Vergelyk ook Heb. 13:11-13 – “Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buite die laer verbrand. Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het.”
Meer kon Stefanus nie sê nie, want die Joodse Raad het ingegryp. Stefanus, een van die eerste sewe diakens van die jong gemeente in Jerusalem, wat aangestel is om verantwoordelikheid vir die versorging van die armes te neem, se toespraak kom tot ’n einde. Om ons geheue te verfris: Hy was "vol van geloof en die Heilige Gees" (Hand. 6:5). "Vol genade en krag" het hy groot wonders en tekens onder die volk verrig (6:8). Verskeie Jode argumenteer met Stefanus, maar hul “argumente was nie opgewasse teen die wysheid en Gees waarmee hy gepraat het nie” (6:10). Uit frustrasie hits hulle vals getuies aan om te sê Stefanus laster teen God en Moses. Die godsdienstige leiers gryp Stefanus en sleep hom voor die Raad, waar mense vals verklaar hy praat teen die tempel en teen die wet. Hy het selfs gesê dat Jesus van Nasaret, in wie hy glo, “die tempel sal afbreek en die wette wat die Jode van Moses ontvang het, tot niet maak” (6:11-15).
Stefanus draai nie doekies om nie. Stefanus het die beskuldiging teen hom letterlik omgedraai en rig dit nou teen sy aanklaers! Skokkend moes die Raad en sy aanklaers hoor hoe Stefanus getuig van God se handelinge oor die eeue deur Sy volk. Hy verdoesel nie die volk se mislukking om God en God se bedoelinge te gehoorsaam nie. Ook nie oor hulle verwerping van God se hoogste en grootste openbaring in Jesus van Nasaret nie. Die laaste strooi was Stefanus se belydenis dat hy Jesus, wat deur die Jode verwerp is, sien staan by die ereposisie aan die regterhand van God. Dit was vir die Jode te veel. Kort hierna breek die damwal van hulle aggressie.
Die Raad se emosies oorweldig hulle en hulle verloor hul selfbeheersing. Daar word geen formele skuldigbevinding gemaak of vonnis uitgespreek nie. Alle skyn van orde verdwyn. “Hulle het hard geskreeu en hulle ore toegedruk om nie verder te hoor nie, en het soos een man op hom afgestorm.” Jerusalem, die heilige stad, mag nie deur bloed verontreinig word nie. Soos Jesus word Stefanus buite die stad uitgeneem volgens die voorskrif van Lev. 24:14 en gestenig. Die persone wat teen Stefanus getuig het, moes volgens Deut. 17:7 die eerste klippe gooi. Hulle trek hulle boklere uit om makliker te kan beweeg en lê dit aan die voete van ’n jongman, Saulus, neer. Stefanus word die slagoffer van die Jode se minagting vir Jesus en sy volgelinge.
Wanneer bloed uit ’n mens loop, gaan die mens sterf indien dit nie gestop word nie. Dis asof die lewe uit die mens tap. Sonde tap die lewe uit die mens. Sonde maak dood. Sonde bring verwoesting en om van die straf van die sonde ontslae te raak, moes die bloed loop. Jesus se bloed is koninklike bloed. Dis blou bloed. Nee, dis nog meer, dis Goddelike bloed. Die Goddelike bloed is oorgenoeg en die enigste bloed wat goed genoeg is om die straf van die sonde van die hele mensdom te dra. Dis die enigste bloed wat ons sondige mense vir God aanvaarbaar kan maak.
Gelukkig het God ‘n plan met die sonde gemaak. Soos Stefanus moes “Jesus ook buitekant die stadspoort gely het om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig.” Jesus se bloed moes uittap. Sy lewe moes uitloop. Hy moes sterf, vir jou en my, sodat ons kan lewe. Eintlik is dit die sonde wat ons doen wat ons doodmaak, met ander woorde, wat die lewe uit ons tap en die loon daarvan is die dood (Rom. 6:23). Soos ’n misdadiger, is Jesus na buite die stad geneem. Geen misdadiger is binne Jerusalem se mure gehang nie. Daar, aan ’n houtkruis moes Hy hang, sodat Sy bloed kon uittap, die uurglas van Sy lewe kon uitloop, sodat God weer na ons kan kyk.
Jesus kom gee as’t ware vir ons ’n bloedoortapping, natuurlik figuurlik gestel. Ons kan weer lewe as gevolg van Jesus se bloed wat gevloei het. Op ’n manier is dit juis hierdie bloed wat ons weer lewendig en goed in God se oë maak. Dan kan ons mos nie anders as om Jesus te eer en aanbid nie. Dan kan ons mos nie anders as om Hom te volg nie. Hy gee dan lewe. Hy “skenk bloed”, sodat ek en jy werklik kan lewe. “Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het.” Ek en jy kan dit met vrymoedigheid doen. Dit is maklik met nuwe bloed – Jesus se bloed!
“Daar is slegs een Wese wat die laaste pynlike afgrond van die menslike hart kan vul, en dit is Jesus Christus” (Dietrich Bonhoeffer).
Gebed: Jesus, hoe sê ek dankie vir so ’n groot daad? Hoe sê ek dankie vir U bloed wat vir my sondes gevloei het? Ek wil dit uitleef! Ja, ek wil die wêreld wys wat dit vir my beteken dat Jesus se bloed my aanvaarbaar in God se oë gemaak het. Help my asseblief daarmee. Amen.
Comments