Gedagte vir Vandag
7 Januarie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se vierde toespraak; Verhoudings tussen gelowiges.
(Matt. 18:1-35)
Gelykenis van die verlore skaap (2)
(Luk. 15:3-7)
Kommer oor élke siel!
Matt. 18:12-13 – “Hoe dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege en negentig daar in die bergveld laat staan en die een wat weg is, gaan soek nie? En as hy hom kry, verseker Ek julle, is hy blyer oor hom as oor die nege en negentig wat nie weggeraak het nie.”
Om nog verder te illustreer hoe belangrik God se kinders (“die kleintjies”) vir Hom is, vertel Jesus ‘n kort gelykenis oor “iemand wat honderd skape het waarvan een op ‘n dag wegraak.” Ter verduideliking is dit nodig om aan te dui dat dieselfde gelykenis van die verlore skaap by Lukas 'n ander klem as by Matteus het (Luk. 15:3-7). Lukas skryf vir heidene. Gevolglik lê hy meer klem op die blydskap oor die heiden wat teruggevind word, terwyl Matteus weer op sy beurt, meer klem lê op die soekers van die verlorene. Hier sien ons een van die belangrike waardes daarvan om die Bybel in konteks te lees.
Die Jode, en in hierdie geval sommige van ons medegelowiges, wat altyd so selfverheffend op ander neersien, moet hulle gesindheid in die koninkryk van God verander en met broederliefde na mekaar omsien. Deur die jare weet ons van talle mense wat binne ‘n gemeente deur medegelowiges seergemaak is en wat buite die gemeente beland het, sonder dat iemand hulle agterna geloop het, of belangrik genoeg geag het, om hulle in hul seerkry te ontmoet. Philip Yancey skryf in sy boek “What’s so amazing about grace”, van ‘n prostituut wat in ellendige omstandighede om hulp kom aanklop het en hy haar verwys het na die kerk. Hy sou daarna nooit die skokuitdrukking op haar gesig vergeet toe sy antwoord: “Kerk! Waarom sou ek ooit soontoe gaan? Ek voel alreeds verskriklik oor myself. Hulle sal my net erger laat voel.” Só mag verhoudinge binne die koninkryk tussen God se kinders nie lyk nie.
Hoe moet dit dan lyk? Jesus se gelykenis van die verlore skaap kontrasteer juis die korrekte optrede van Sy kinders dat “ons nooit een van hierdie kleintjies moet minag nie, want dit is die wil van ons Vader in die hemel dat nie een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie” (vv. 10 en 14). Die gelykenis benadruk dat die eienaar agterkom dat een van die 100 skape afgedwaal het. Skokkend is die mededeling dat hy die 99 net daar op die bergveld laat, sonder om hulle eers behoorlik te versorg, sonder om te dink dat hulle in sy afwesigheid in gevaar sou verkeer. Dit onderstreep sy groot besorgdheid oor die afgedwaalde, en sy vreugde as hy hom vind, ’n vreugde groter as oor die 99 wat nie afgedwaal het nie.
Elke volgeling van Jesus moet in sy of haar onderlinge verhouding met ander volgelinge, soos dit in die gemeente gestalte kry, nooit toelaat dat deur hoogmoed of deur die skynbare waardeloosheid van een van “hierdie kleintjies”, hulle verlore laat gaan vir die gemeente nie. Dit is nie die wil van ons Vader nie. Elkeen het groot waarde in God se koninkryk. Elkeen wat verlore raak of afdwaal van die regte pad, moet gevind word en teruggebring word. God raak só bekommerd oor die één wat wegraak, dat Hy agter die afgedwaalde kind aangaan, en wanneer Hy hom vind, haal Hy nie ‘n rottang uit en dryf hom terug na die ander nie, Hy tel hom op sy skouers en dra hom terug, vergeet van sy oortredinge en vier fees!
Jesus is die Lam wat al my en jou sondes op Sy skouers gedra het en ons van hoek tot kant nuut gemaak het. Dit is om te vergeet hoe afhanklik ons self is van God se genade. Dit beteken dat ons geloofsgemeenskap as sodanig die opdrag het om uit te reik na mense wat uit ons geledere afdwaal. Dit is wat die Goeie Herder, Jesus, van ons verwag, want dít is wat Hy gedoen het.
Jesus het gekom om ons te vind, ons bymekaar te bring en ons huis toe te lei omdat Hy vir ons opreg omgee. Dit moet ons ook met ander oë na mekaar laat kyk. Ons moet alles in ons vermoë doen om te sorg dat niemand van die geloofsgemeenskap afvallig raak nie. Ons moet hulle saam met ons neem na Jesus want deur Sy bloed, mag ons voor God gaan staan. Dit is dáár waar ons rus vind. Dit is dáár waar ons vreugde vind en kan fees vier!
“God het elkeen van ons só lief asof daar net een van ons is om lief te hê” (Augustinus).
Gebed: Hemel Vader, God van liefde, in frustrasie oor ons sondaars roep U seker uit: “Hoe kan Ek jou vernietig? Ek kan dit nie oor my hart kry nie want My liefde brand te sterk” (Hos. 11:8). Dankie Here dat U ‘n God van omgee is, ‘n God wat nie net ‘n enkeling of ‘n nasie lief het nie, maar ‘n God wat die wêreld so lief gehad het dat U vir elkeen wat glo, die ewige lewe gee. Heilige Verlosser, ek was ook verlore, maar U het my kom soek en my gevind. Here, dit is onbeskryflik om te dink: EK MAAK VIR U SAAK!!! Nou kan ek met vreugde en dankbaarheid, ook by U kudde wees. Help my deur U Gees, om hulle wat afgedwaal het, te soek en hulle saam met ons te neem na Jesus, want deur Sy bloed mag ons voor God gaan staan. Dit is dáár waar ons rus vind. Dit is dáár waar ons vreugde vind en kan fees vier. Dankie Here! Amen.
Comentários