top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 26 September 2022

Koos Espach


Stefanus se toespraak (18)


Die periode van Moses (10)


Nog ‘n keuse – tussen lewe en dood


Hand. 7:37-38 – “Dit is dieselfde Moses wat vir die volk Israel gesê het: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle ‘n Profeet soos ek laat voortkom. ‘Dit is hy wat, toe die volk daar in die woestyn bymekaar was, die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het. Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel.”


Vergelyk ook Joh. 5:44-47 – “Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie? Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat vir julle aankla. As julle Moses geglo het, sou julle in my geglo het, want hy het van My geskrywe. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle My woorde glo?”


Die valse getuies is aangesê om te verklaar dat hulle gehoor het Stefanus sê lasterlike dinge oor Moses en God (6:11). Stefanus se belydenis aan die Raad is dit duidelik dat hy ’n hoë agting vir Moses het en terselfdertyd verwys hy na ses dinge oor Moses, wat ook op Jesus van toepassing is. Die derde verwysing van Stefanus is dat God uit hulle eie geledere vir hulle ‘n Profeet soos Moses sal laat voortkom.” Sonder om Jesus se Naam te noem, sinspeel Stefanus dat die Raad op grond van Moses se woorde, in Jesus moet glo. Die Jode wat Stefanus van lastertaal teen Moses en God beskuldig, verset hulleself eintlik teen Moses omdat hulle die Profeet verwerp wie se koms deur hom voorspel is. As die Raad dus Jesus verwerp, verwerp hulle Moses.


Met die vierde en vyfde ooreenkoms tussen Moses en Jesus gaan dit oor die wetgewing by Sinai. “Dit is hy, Moses wat die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het en lewende woorde ontvang het om aan ons mee te deel.” Die wet word hier beskryf as Godsprake wat bly lewe en lewe gee. Stefanus spreek daarmee sy eerbied vir die wet uit, teenoor hulle wat hom beskuldig dat hy teen die wet praat (6:13). Hy noem dit nie die wet nie, maar lewende woorde – “In die Woord van God was daar lewe” (Joh. 1:4). In Jesus, wat die Woord van God is, is daar lewe; “die woorde wat Ek tot julle gespreek het, kom van die Gees en gee lewe” (Joh. 6:63); Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh. 10:10); Ek is die opstanding en die lewe” (Joh. 11:25).


Moses was vir die Jode die heel belangrikste persoon in die Ou Testament. Hulle daaglikse lewe is deur die wette van Moses gereguleer. Dit was immers deur hom wat God die wet aan Israel gegee het. Hulle het “hulle hoop op hom gevestig”. Die Ou Testament is deurspek van sy wonderlike dade wat God deur hom verrig het. Hy was die middelman tussen God en Sy volk. Johannes beskryf hoe Jesus egter die mat onder hulle voete uittrek. Die Jode wat hulle toelê op die geskrifte van Moses en hulle daarop beroem dat hulle die wet van Moses onderhou, moet weet dat dit juis “Moses, op wie hulle hulle hoop gevestig het, wat vir hulle aankla.” Jesus beklemtoon dat hulle nie moet “dink dat Hy hulle by die Vader sal aankla nie”; Sy taak is nie dié van aanklaer nie, dit is by uitstek die werk van die satan (Sag. 3:1). Jesus het egter gekom sodat dié wat in Hom glo, die lewe kan hê (Joh. 3:16).


Die Jode het teen hulle eie tradisies, profete en God gedraai want hulle glo nie eers meer wat Moses geskryf het nie, maar eerder na die manier waarop die boodskap van Moses deur hulle gelees word. Hulle het hulle vasgekyk teen die letter van die wet en daardeur die belofte van die Verlosser uit die oog verloor. As dit gebeur met geskrifte wat hulle herhaaldelik kan lees en ondersoek, watter hoop is daar dat hulle die gesproke woord van Jesus sal glo? En omdat Hy die woorde spreek wat Hy van die Vader gehoor het (Joh. 5:30), beteken hulle verwerping van Sy Woord die verwerping van die Woord van God.


Wie sê ek en jy, is Jesus? Of ons stem saam met die Joodse leiers van destyds (en baie ander mense vandag) dat ‘God nie uit hulle eie geledere vir hulle ‘n Profeet laat voortkom het nie” en Hy gevolglik nie die Seun van God is nie, of ons aanvaar die getuienis van God self: “Jy is My geliefde Seun, Oor Jou verheug Ek My” (Mark. 1:11). Die keuse is ons s’n! Daar is egter ‘n waarskuwing aangeheg: die keuse is tussen lewe en dood!


“Die hoofspoor van die geloof is om ‘n mens se hoop vir die lewe, jou hoop vir die toekoms, alleen op God en Sy beloftes te bou. Die meeste van ons kies egter die syspoor van ons eie planne” (I.L. de Villiers).


Gebed: Jesus, ons Here, ek wil U loof vir die wonder van geloof. Dankie dat U self geloof in my hart gewerk het; dat ek seker mag weet dat U leef; dat U ‘n plan het vir my lewe. Vergewe my wanneer ek nog twyfel aan U almag en U liefde vir my. Help my om my geloof uit te leef in alles wat ek doen en sê. Amen.

Kommentare


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page