top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 23 September 2022

Koos Espach


Stefanus se toespraak (17)


Die periode van Moses (9)


God is die Bron van ons krag


Hand. 7:35-36 – “Dit is dieselfde Moses vir wie die Israeliete nie wou aanvaar nie en vir wie hulle gesê het: ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ Tog het God juis vir Moses as leier en redder na hulle toe gestuur deur die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het. So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Veertig jaar lank het hy tekens en wonders in Egipte, by die Rooisee, en in die woestyn gedoen.”

Stefanus verander die metode wat hy tot dusver in sy toespraak gevolg het. Hy fokus nie meer op die geskiedenis van Israel in noue aansluiting by die O.T. nie, maar eerder ’n interpretasie van die optrede van Israel in die verlede en van die Jode van sy dag. Van die begin af word Moses se verhaal doelbewus met dié van Israel bygevoeg om sy integrale rol in die uittog uit Egipte te beklemtoon. Die lot van die Israeliete sou van hierdie punt af van die lot van Moses afhanklik wees, soortgelyk as wat Christene se lot aan dié van Jesus verbind is. Die verset van die Joodse Raad teen Jesus en sy apostels het dieselfde karakter as dié van ou Israel teen Moses.


Die eerbied waarmee Stefanus oor die werk van Moses praat, is ’n weerlegging van die beskuldiging van die Jode teen hom. Dit is dieselfde Moses wat deur God geroep maar deur die volk verwerp is, wat die volk uit Egipte uitgelei het. Dit is dieselfde Moses wat vir nog veertig jaar die wonders en tekens in Egipte en die woestyn gedoen het – die tien plae (Eks. 7-12); die wonderbaarlike deurtog deur die Rooisee (Eks. 14:21-29); die kwartels en die manna (Eks. 16:4-31); die water uit die rots (Eks. 17:6); die oorwinning oor die Amalekiete (Eks. 17:8-13).


Dis net menslik om te dink dit was nie altyd vir Moses maklik nie. Neem nou maar die deurtog deur die Rooisee. Terwyl Moses daar voor die see staan, met die hele leër van die farao wat in hulle nekke blaas, die Israeliete wat nie gewapen is om teen die soldate te veg of in oorlogvoering opgelei is nie. Hulle is eintlik vasgedruk teen die see en het nêrens om heen te gaan of uitkomkans gehad nie.

Al uitweg was deur die see. Toe God vir Moses sê dat dit die pad is wat hulle moet vat, het hy seker vir ’n oomblik gewonder of hy vir God reg gehoor het: “Is U ernstig Here? Dis ’n see, nie ’n rivier nie en ons is miljoene. Ons het g’n bote of niks nie. Hoe gaan ons hierdie ene regkry?” Ons weet ook dat die volk nie maklik was nie. Daar was hordes van hulle wat erg steeks was en nie geskroom het om hulle gedagtes op die tafel te sit nie. “Moses, wat het in jou gevaar? Is jy ernstig? Moet ons klomp mense hier deur die see swem? Dis nou malligheid. Waar het jy nou al gehoor van ’n volk wat deur ’n see geswem het? Hierdie is die begin van die einde. Ons moes nooit uit Egipte getrek het nie.” En so het hulle seker aangehou om kommentaar te lewer oor Moses se plan.

Tog het Moses hom nie van stryk laat bring nie. God het wonderwerke laat gebeur om hulle uit slawerny te verlos. Hoekom sal Hy dan nou nie daarmee aangaan nie? En God het: “Omdat die Israeliete geglo het, hulle deur die Rooisee laat trek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het” (Heb. 11:29). Dit is deel van wie God is. God is God omdat Hy juis sulke dinge doen. God maak paaie waar daar nie paaie is nie. God sal Sy woord gestand hou en sorg dat daar ’n uitkoms is. Niks is vir Hom te veel nie. Al moet Hy ’n pad van etlike kilometers deur ’n see bou, sal Hy dit doen. Ons moet dit net glo.


Probleme en bekommernis is ‘n wesenlike deel van ons bestaan. Dit voel soms ons sit in ‘n donker hoek en kan nie daar uitkom nie. Daar blyk geen tekens van ’n oplossing te wees nie. Die laste op ons skouers dreig om ons te laat knak. Dis veral in sulke tye wat ons moet terugkyk oor ons lewe en die plekke sien waar God ons gehelp het en ’n uitkoms gebied het. Ons moet deur Sy Woord gaan blaai en al die hordes plekke sien waar Hy uitkoms gebied het vir mense in nood i.p.v. om die stryd gewonne te gee.


Ons kan nie self ons moeilikhede oplos nie. Daar is net een geneesmiddel wat effektief is om met ons probleme af te reken: ‘n sterk en onstuitbare geloof in Jesus Christus. Jesus doen dit nog steeds vandag. Hy bou brûe. Hy maak deure oop. En waar ‘n deur toegeklap is, is daar heel waarskynlik êrens ’n oop venster waardeur ons moet kruip. Kom ons staan bietjie stil. Luister na God. Kom ons steek ons hande uit. God sal ons padbouer wees. Glo dit net!


“Vandag se bekommernis doen niks om môre se probleme minder te maak nie, dit beroof ons net van die krag wat ons vandag kon gehad het” (Corrie ten Boom).


Gebed: Vader, ek het nodig dat U vir my ’n pad bou. Ek is moeg en ek kan nie meer sien waar ’n uitkomkans is nie. Ek glo U kan my help. Dankie dat U altyd dáár is vir my en dat ek in U krag my bekommernis kan afskud en kan leef tot U eer. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page