Gedagte vir Vandag
Maandag, 15 Augustus 2022
Koos Espach
Sewe diakens word gekies (8)
Gelowiges is dood vir die sonde maar lewend vir God
Hand. 6:7 – “Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem.”
Vergelyk ook Rom. 6:12-14 – “Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.”
Jesus het voor ‘n keuse gestaan: Moet Hy sy doel vervul en God verheerlik, of moet Hy terugdeins van die kruis en ‘n gerieflike, selfgesentreerde lewe lei? Dankie tog, ons weet vandag wat Jesus se keuse was – Hy het God verheerlik deur Sy doel op aarde te vervul. Ek en jy staan ook voor hierdie keuse: Gaan ons vir ons eie doelwitte, gemak en plesier leef, of God vir die res van ons lewe verheerlik en ook deel wees van die “gelowiges wat geweldig toeneem.” Ek en jy kan onsself nie red nie; ons kan ook nie versoening bewerk vir ons sondes nie en ons kan nie wat onheilig is, heilig maak nie. Dit alles is die soewereine werk van God.
Paulus beklemtoon dat ons gelowiges in Christus vir die sonde dood is, en daarom voortaan vir God behoort te lewe. Ons mág nie in die sonde voortlewe nie, maar volgens ons nuwe status as Koningskinders, en daarvoor moet ons Hom eer deur soos Christus te word. Ons moet self opstaan in ’n nuwe lewe en ons ou geaardhede kruisig en in Christus lewe. Ons moet nie meer toelaat dat die sonde nog langer oor ons heerskappy voer nie en langer gehoorsaam wees aan die begeertes van ons “sterflike aardse bestaan”, wat deur die sonde ’n bron van verleiding is nie. Ons moet geestelik volwasse word in hoe ons dink, voel en optree.
Soos in Paulus se tyd, is die swakste plek in ons mondering vandag steeds “die begeertes van ons sterflike aardse bestaan”, begeertes wat ontaard het in hartstogte, drange en luste wat “dele van ons liggaam in diens van die sonde stel.” Wanneer Paulus twee keer na die dele van ons liggaam verwys, sluit dit álles in, álle liggaamsdele en organe wat ons in staat stel om volledig mens te wees, nie net ‘n oog of hand nie. Wanneer God baas is van ons lewe, sluit dit élke vermoë en funksie van mens-wees in wat ‘n “werktuig kan wees om te doen wat God wil”, en nie wat die wêreld voorskryf nie.
“Weet julle nie, julle ontroues, dat vrienskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is” (Jak. 4:4). Om ons begeertes te vermeng met die wêreld beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “‘n vriend van die wêreld te wil wees” wat buite die konteks is om ‘n “werktuig te kan wees om te doen wat God wil.” Iemand wat hom deur sy eie begeertes laat lei, bewys daarmee dat hy uit die verhouding met God wil wees, en eerder in ’n vriendskap met die wêreld wil gaan. God en die sondige wêreld is in konflik met mekaar en sluit mekaar uit!
Dit beteken ons moet gewillig wees om met dit wat aanleiding gee tot die sonde, “die aardse dinge doodmaak wat nog deel van ons lewe is.” Ons moet ontslae raak van die ou mens wat na hartelus en harteloos volgens die begeertes van ons sondige natuur leef, en net so nou en dan God wil dien. “Die sonde moet nie meer baas wees oor ons nie, want ons staan onder die genade.” Alleen kan en sal ons nie suksesvol wees nie. Elke keer wanneer satan sy suksesvolste verleidingstegniek aan ons voorstel, moet ons hom troef met: “Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, Heer. Laat my leef op die weg wat U my aanwys” (Ps. 119:37).
Ek en jy as kinders van God leef al meer in oorwinning oor die sonde. As gelowiges leef die sonde nie meer in ons nie, ons sondes is saam met Jesus gekruisig. Ons is oorwinnaars in Christus. Ons word dit nie, ons is dit. Ons spring nie soos ‘n hekkiesatleet weg wat eers oor elke hekkie deel van ons sonde verloor nie voor ons kan wen nie. As gelowiges staan ons nie meer onder die heerskappy van die sonde nie, ons begin elke dag by die wenpaal, waar Jesus staan. Saam met Hom stap ons die heeldag op die wenpad want “ons is deel van die gelowiges wat reeds destyds, in Jerusalem begin het om toe te neem.”
“Kies slegs vriende wat jou op die pad na die hemel toe kan help” (John Wesley).
Gebed: Here, U het my na U beeld geskape. U het so baie van die mens verwag dat U my met U beeld vertrou het. Hemel Vader, ek smag na ‘n lewe van oorwinning oor sonde en gehoorsaamheid aan U. Vergewe my Here en bring my tot ander insigte om “elke deel van my liggaam in diens van U aan te wend as werktuig om te doen wat U wil.” Amen.
Comments