Gedagte vir Vandag
Maandag, 18 Julie 2022
Koos Espach
Ananias en Saffira (2)
Wat ons saai sal ons oes
Hand. 5:1-11 – “Maar daar was ook ‘n sekere man, Ananias, en sy vrou Saffira, wat ‘n eiendom verkoop het. Met die medewete van sy vrou het hy van die verkoopprys vir hulle self agtergehou en net ‘n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee. Petrus sê toe vir hom: ‘Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en van die verkoopprys van die grond vir jouself agter te hou? Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God.’ Toe Ananias dit hoor, het hy dood neergeval. Omtrent drie uur later het sy vrou daar aangekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus vra toe vir haar: ‘Sê vir my, het julle die grond vir soveel verkoop?’ ‘Ja,’ sê sy, ‘vir soveel.’ Toe sê Petrus vir haar: ‘Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart? Sy het onmiddellik voor Petrus dood neergeval. Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het, het baie bang geword.”
Die verhaal van Ananias en Saffira is nie ‘n “lekker” verhaal om te lees nie. Iemand het geskryf dat dit nie regtig plaasgevind het nie en dat Lukas dit net byvoeg om ‘n belangrike morele les aan die kerk oor te dra. Ons moet erken dat die Nuwe Testament nie sulke drastiese en onmiddellike straf beskryf nie, maar eerder verwys na ‘n vergewende God wat met liefde, Sy verlore kinders ‘n tweede kans wil gee (vgl. Luk. 15). Instinktief voel ons om te sê: “Sjoe, doodstraf – sommer net so, terwyl die sonde tog nie só erg was nie. Met respek, oorreageer die Here nie 'n bietjie nie? Was hulle sonde só erg? Ja, hulle het ander mislei, maar hulle was tog ook vrygewig om die grootste gedeelte van die verkoopprys vir die apostels te gee. Daar is baie érger sondes wat summiere doodstraf verdien.” Dan moet ons egter byvoeg dat hulle die geleentheid gehad het om hulle oortreding te bely, maar nie gebruik het nie.
Die ironie van die gebeurtenis lê in albei se name: Ananias beteken genade van die Here, of die Here gee genade. Saffira beteken glans van skoonheid, of skitterende skoonheid. Wat weet ons van die twee? Hulle was skynbaar ryk en aansienlik want hulle het eiendom besit. Dalk meer as een want ons lees van “’n eiendom verkoop het” (v. 1). Hulle het gereeld na die apostels se getuienis geluister en was deel van die gemeenskap wat versier was met die deugde van Jesus Christus en ook gevul was met die Heilige Gees.
Dan meteens staan die persoon van die duiwel ook daar in die gemeente! Hy gebruik hierdie vooraanstaande lidmate, “Genade en Skoonheid,” om die kerk van die Here Jesus aan te val – net soos hy homself verskans het in die slang van die paradys om Adam en Eva, asook Judas om Jesus te verraai, gebruik het. Die vader van die leuen slaan toe met die oersonde van eiegeregtigheid wat hy self uitgedink het. In Ananias en Saffira se geval stel hy die omstandighede wat hulle na buite laat lyk, soos goeie kerkmense wat die Here opreg en eerlik dien, maar na binne toe is hulle hebsugtig en vol van hulle eiegeregtigheid. Daarmee maak Satan hulle direkte vyande van God.
Oënskynlik het hier niks ernstigs gebeur nie. Ananias het nie met woorde gelieg nie. Hy het net gelieg oor sy verkeerde daad deur ‘n gedeelte van die verkoopprys terug te hou. Dis juis wat die probleem is: Hy was skynheilig deur voor te gee wat hy nie is nie, erkenning van die gemeentelede te ontvang in plaas daarvan om God te eer. Die kontras tussen hom en Saffira was dat hy nie met woorde gelieg het nie, terwyl sy – nadat sy die kans gegun is om tot besinning te kom – met woorde lieg deur ‘n besliste ja te antwoord op die navraag oor die leuen.
So tragies is die gevolge van die sonde. Ons moenie onsself mislei nie: “God laat nie met Hom spot nie, Wat ‘n mens saai, sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes” (Gal. 6:7-8). “Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het”, het verstaan skynheiligheid werk nie by God nie – die Heilige Gees het dit vir hulle verduidelik deur hierdie gebeurtenis. ’n Lidmaat moet nie voor die Here aanspraak maak op ’n heilige lewe, maar dan bedrog teen God beplan of, nog erger, pleeg nie. Die kerk is deurdrenk met die mistieke werk van die Heilige Gees. Wanneer iemand die alwetendheid van God ten opsigte van dit wat in die kerk gebeur beledig en tart, is die daad direk gerig teen die Gees van God wat in die kerk woon.
Self-ophemeling en diens is nie ‘n goeie mengsel nie. Ware dienaars dien nie vir ander mense se goedkeuring of applous nie. Ons leef vir ‘n gehoor van Een! In plaas daarvan om ander mense te beïndruk moet ons eerder besef: “Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees, en mekaar help ...” (1 Pet. 5:5). Nederigheid beteken om God te dien. Dit word bepaal deur die wyse waarop ons onsself voor God en ander mense beskou en teenoor hulle optree. Wanneer ek en jy vir God en ander mense omgee, speel ons nie meer die hoofrol in ons eie lewe nie. Dit is aan God afgestaan. “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie” (Gal. 1:10). Ek en jy leef nog in die saaityd, positiewe dinge wat ons saai tot eer van God en wat ooreenstem met die vrugte van die Gees in Galasiërs 5:16-25, lewer dividende op.
“Saai blomme en waar jy ook wandel, sal blomme jou pad steeds besaai; saai onkruid en maai dan ook onkruid” (Anoniem).
Gebed: Heilige Gees, help my om alleen suiwer saad vir die ewigheid te saai sodat ek God se goedkeuring kan oes. Amen.
Comments