top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 15 Junie 2022

Koos Espach


Petrus en Johannes voor die Joodse Raad (11)


Die mooiste Naam behoort op elkeen se lippe te wees


Hand. 4:15-17 – “Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek. ‘Wat gaan ons met hierdie mense maak?’ het hulle gevra. ‘Dat ‘n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie. Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.”


Ons lees verder dat die Raad die apostels uitstuur om die saak te bespreek. Hulle kan niks teen die apostels inbring nie, want die man wat verlam was het reg voor hulle gestaan, duidelik gesond! Hulle kan nie die wonder ontken nie en hulle besef dat die inwoners van Jerusalem die wonder gesien het. Nog duideliker, die “ongeletterde” apostels stel die geletterde raadslede in ‘n verleentheid. Hulle aansien, eer en posisie is op die spel. Hulle was in presies dieselfde posisie met Jesus. Hulle het lankal geweet hulle wou Jesus uit die weg ruim, maar hulle moes eers seker maak hulle het die volk aan hulle kant. “Wat gaan ons met hierdie mense maak?”


Die Joodse Raad sit met ‘n dilemma. Letterlik staan daar: “Wat gaan ons hierdie manne aandoen?” Van vrylating was daar geen sprake nie, hulle wou iets aan Petrus en Johannes doen, hoewel hulle niks verkeerd gedoen het wat straf verdien het nie. Deur hulle het ’n teken plaasgevind wat bekend geraak het by al die mense wat op daardie oomblik in Jerusalem was. Die mense het ’n teken ontvang waarna hulle so dikwels verlang het en verskeie kere Jesus gevra het “om ‘n wonderteken te doen, sodat hulle in Hom kan glo” (Joh. 6:30). Hierdie gebeure was ’n bewys van die goddelike mag van Jesus en die gesag van die apostels wat in sy Naam opgetree het. Die Raad kon niks meer doen as om maar net hulle stem dik te maak en met al die gesag tot hulle beskikking, die apostels “met dreigemente te verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.”


Die Here se stem en sy Naam sny vandag steeds na twee kante toe – sommige mense bly onaangeraak terwyl ander se geloofsoë siende raak en tot ‘n lewensverandering lei. Hoe dikwels gebeur dit dat ons so naby aan die Waarheid kom, maar tog so ver daarvandaan bly. Mense se sondige natuur wíl nie vir Jesus erken nie, want dit sal beteken dat hulle moet erken dat Hy die Here is en dat hulle sondige dade, gevolge het. Jesus se woorde is ook nie ‘n klomp losstaande waarhede nie maar vorm ‘n geheelbeeld oor Sy verwagtinge ten opsigte van ‘n heilige lewe. Jesus verwag van my en jou om ‘n lewenswyse te leef en toe te pas, ‘n lewenswyse van ‘n nuutgemaakte Christen wat as kind van God, onderweg is na die wederkoms.

Jesus is die Alfa en Omega van Christenskap. Hy is die Bron van alle lewe en die Fondament van elkeen wat Sy woorde aanneem en daarvolgens handel. Ons kan nie Jesus kies as ons nie Sy woorde ook kies nie. Om godsdienstig te wees sonder ‘n lewende verhouding met Jesus, beteken om kerk-kerk te speel. Ons moet erken en bely, dit is soms moeilik om gehoorsaam te wees aan Jesus se vermanings, versoeke en waarskuwings, maar gelukkig worstel ons nie alleen daarmee nie.

Jesus het ons nie as weeskinders agtergelaat toe Hy opgevaar het hemel toe nie. Hy het vir ons die Heilige Gees gestuur sodat ons deur Sy krag kan besef dat ons afhanklik is van God. Die Gees vul ons met hoop, lei en bemagtig ons om moeilike dae die hoof te bied. Dit is moeilik om volgens die plan van Jesus se onderrig te leef en voel selfs soms onmoontlik om heelpad te slaag, maar ons kan immers probeer om op die regte pad te bly. Wanneer ons egter uitsak of val, kan ons gerus onthou “die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op” (Ps. 37:23-24).


Jesus gee om vir my en jou. Hy is nederigheid in aksie! Sy passie is om verdwaaldes, honger en eensame mense, sukkelende siekes, uitgeworpenes, verwerptes, op te soek. Jesus se pad stop by die voordeur van dié met stukkende lewens en Hy wag om ingenooi te word! Hy praat eenvoudige taal sodat almal Hom kan verstaan. Die probleem is egter dat daar só baie mense met verskoning-taal bo-oor Jesus se lewende woorde skryf. Jesus forseer nie Sy wil op ons af nie, maar elkeen sal die gevolge van hulle keuses, eendag self moet dra.


“Dit is ‘n illusie om te dink dat daar ‘n perfekte regte tyd sal kom om die regte keuse te maak tussen die verderf of hemel!” (George Patton).


Gebed: Here, ek verstaan die val-en-opstaan pad van die geestelike groei roete. Dankie dat U juis gekom het vir ‘n sonde-sukkelaar soos ek, en my telkens maar weer optel wanneer ek val. Dankie dat U nie volmaakte mense uitsoek nie, maar juis by my begin het net soos ek is en ek sonder dreigemente, in U Naam met mense kan praat. Dit is voorwaar die mooiste Naam wat ek ken. Ek bid vir elkeen wat nog dwalend is en met verskoning-taal bo-oor U lewende woorde skryf. Help hulle Here dat hulle na U sal luister en vir U sal leef! Amen.

 

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page