Gedagte vir Vandag
Vrydag, 4 Maart 2022
Koos Espach
Jesus se opdrag aan die dissipels (1)
Ons kan vertrou want die bedreiging van die lewe is deur Hom vervang
Matt. 28:16-17 – “Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.”
Matteus se vertelling verskuif na die berg langs die See van Galilea waar Jesus aan die begin van Sy aardse optrede, die mooiste preek ooit, vir die mense gelewer het (Matt. 5-7). Matteus se Evangelie het die spreekwoordelike sirkel voltooi – waar Jesus met Sy aardse optrede begin het, gaan Hy nou die finale opdragte omtrent die koninkryk van God uitdeel. Alhoewel ‘n vrou se woord nie destyds veel waarde gehad het nie, luister die dissipels tóg na hulle en voer hulle die opdrag van Jesus dat “hulle na Galilea toe moet gaan waar hulle Hom sal sien uit” (Matt. 28:10).
Jesus het afgespreek om die dissipels te sien. Hulle is nog huiwerig want hulle was steeds onseker of dit werklik Hy was. Hoekom sou Hy verder moeite met hulle doen, hulle het Hom immers in die steek gelaat in Sy diepste nood en het waarskynlik daaroor skuldig gevoel. Maar Jesus hou nie enigiets, veral hulle twyfel en ongeloof teen hulle nie. En hulle was werklike mense, soos ek en jy. Sommige van hulle was harde manne, sonder enige formele opleiding in iets anders behalwe visvang. Dié wat nog getwyfel het, het dalk geworstel met botsende gedagtes oor Jesus Christus. Sou ons nie dalk ook só opgetree het nie?
Jesus openbaar Hom nou weer daar op die berg aan Sy dissipels as die opgestane Here. By sy Godsverskyning pas dit dat “hulle Hom aanbid,” al twyfel party nog. Jesus het egter begrip vir hulle kleingeloof. Dit is waarskynlik met ons ook so. Veral as een of ander tragedie ons bene onder ons uitruk, dan is dit moeilik om te glo en te verstaan hoe God daarby inpas. Geloof gaan egter verder as ons normale sintuie en wanneer ek en jy met God te make het, kan ons nie op ons normale sintuie staatmaak nie. Dan moet ons glo, ten spyte van die slegste ervaring wat ons het of wat ons logies kan verklaar.
Baie Christene, en ek sluit my hierby in, wonder soms of God van ons weet en of Hy vir ons omgee. Dan is ons geneig om soos Dawid te vra: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?” (Ps. 13:2). En dan volg God deur ‘n openbaring wat Hy deur die Psalmis bekend maak: “God verontagsaam nie die geroep van dié wat in nood verkeer nie” (Ps. 9:13).
Ons kuier by mense, toegewyde dissipels van Jesus, wat tans worstel met baie onsekerhede en in hierdie tyd van al die teëspoed en stryd, sukkel om alles te deurstaan. Te midde van al die pyn en terugslae vir die laaste agtien maande al, ontvang hulle slegte nuus van kanker wat die situasie nog erger maak. Dit is dan wanneer ons geneig is om te vra hoekom God toelaat dat slegte dinge met goeie mense gebeur? Hierdie is seker een van die moeilikste vrae in teologie. God is onsterflik, almagtig, alwetend, en bo alles, alomteenwoordig. Hy is perkeloos en bo menslike begrip. Hoe kan ek en jy wat nie hierdie eienskappe het nie, verwag dat ons God se wyse sal verstaan?
God laat dit toe vir redes wat ons nie nou sal verstaan nie. God bly goed, liefdevol, regverdig, genadiglik en sy wysheid is ver bo dit wat ons kan begryp. Pleks van om God te bevraagteken, moet ons liewer net op Hom vertrou: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop” (Spr. 3:5-6). Dit is maklik om ‘n dissipel te wees in tye van voorspoed. Dit is dan ook in sulke tye wat ons God se teenwoordigheid ervaar en ons vol vertroue is. Maar dis ‘n ander saak wanneer God ver van ons af voel. Dit is dan wanneer ons in die geloof moet wandel, en nie ons gevoel nie. Dit is dan wanneer ons moet aanhou bid, selfs al voel dit asof God nie omgee of luister nie.
Die dissipels het getwyfel in Jesus, maar tog berg toe gegaan in Galilea. Jesus was al daar. Hy het hulle vooruitgegaan. Wanneer die wêreld om my en jou begin donker raak, soos by die dissipels, moet ons vashou aan ons geloof en bid dat die verwarring en onsekerheid sal verbygaan. God is altyd daar. Hy weet van ons en gee wel om. Op Hom kan ons vertrou met die vaste wete dat ons vertroue in Hom nooit teleurgestel sal word nie. “Hy is die Een op wie ek en jy ons lewe lank kan vertrou ...” skryf Jesaja in Jesaja 33:6. Ons kan ons vasmaak aan Hom met die sekere wete dat Hy altyd daar sal wees vir ons. “Hy hoor die gesmeek van die hulpeloses. Hy gee hulle nuwe moed en hoor hulle gebed” (Ps. 10:17).
“Elke tree nader aan Christus beteken die dood van nog ‘n twyfelvraag” (Theodore Cuyler).
Gebed: Hemelse Vader, ek is jammer dat ek nog so baie keer bedenkinge het oor die dinge van die wêreld; dat ek maar nie kan leer om U ten volle te vertrou nie; dat ek soos U dissipels van ouds soms twyfel. Leer my om my twyfel en al my vrese na U te bring en hulle daar by U te los met die vaste wete dat U sal sorg. Vergewe my gebrek aan vertroue en help my om aan die beloftes van U Woord vas te hou. Gee vir my moed Here, om die uitdagings op my pad te aanvaar en dat my geloof my nie sal begewe nie. Amen.
Comments