top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 3 Maart 2022

Koos Espach


Jesus verskyn aan sy dissipels (1)


Vrede vir julle


Matt. 28:8 – “Die vroue het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.”


Vergelyk ook Joh. 20:19-20 – “Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’ Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.”


Teen die aand van daardie Opstandingsdag, was die dissipels êrens in Jerusalem in een vertrek bymekaar. Johannes sê nie wie die “dissipels”was nie. Dit word aanvaar dat dit tien van hulle was, aangesien Tomas afwesig was. Na alles wat hulle die afgelope dae en veral op daardie Opstandingsondag gehoor en beleef het, was daar rede om saam, die gebeure te bespreek. Hulle het heel waarskynlik gepraat oor die gerugte van Jesus se opstanding. Petrus en Johannes het die leë graf gesien; die vroue het gesê dat Jesus leef; Maria Magdalena het bevestig Hy het aan haar verskyn; die Emmausgangers het kom vertel van hulle reis en die gesprek en die ete wat hulle met Jesus gehad het.


Indien alles waar is, hoe gaan Jesus teen hulle optree? Hulle het weggehardloop met Sy inhegtenisname; Petrus het Hom verloën; met Sy onregverdige verhoor was hulle nêrens te sien om téén die leuens van die Jode, getuienis te kon gee nie – hulle is heel moontlik vasgekeer tussen hoop en wanhoop? Volgens hulle was hulle Here dood en hulle lewens aan flarde. Vir drie jaar het hierdie Jesus hulle vertel van ‘n nuwe wêreld en nou lê Hy iewers in ‘n graf, dood, en hulle weet nie eers waar nie want iemand het Hom verwyder waar Josef van Arimatea Hom Vrydag neergelê het. Hulle was moontlik ontnugter en hulle verkeer in vrees vir die Jode wat deur die kruisiging, volgens hulle mening, ’n oorwinning behaal het en nou enige tyd op hulle kon toeslaan. Vir hulle veiligheid word die deure gesluit.


Dit is uiteindelik nie die Joodse leiers nie, maar Jesus wat deur die geslote deur kom. ‘n Koue graf en ‘n swaar kliprol kon Jesus nie binnehou nie, nog minder ‘n geslote deur wat Hom buite kan hou. Dit beklemtoon die wonderbare aard van Jesus. Jesus groet hulle gerusstellend: “Vrede vir julle!” Hierdie woorde was in daardie tyd ’n gewone groet, “Shaloom”, maar uit die mond van Jesus en in daardie situasie het dit tog ’n veel ryker betekenis gehad. Die dissipels wat in die voorafgaande dae so ontrou teenoor Jesus was, verneem nou moontlik heel verbaas, dat Hy hulle nie verwyt nie, hulle vrese nie toereken nie, maar vrede bring.


As teken of bewys dat Hy daar in dieselfde liggaam staan as wat aan die kruis gespyker was, wys Jesus sy hande en Sy sy aan die dissipels. Aan die sigbare merke van die spykers kan hulle sien dat dit nie ’n gees is waarmee hulle te doen het nie, maar met die liggaamlike teenwoordigheid van Jesus. Hy neem hulle vrees weg - en Hy oortuig hulle in hierdie proses dat Hy regtig die dood gewen het – en wat nie meer deur toe deure of deur die wette van materie wat ons ken, gekeer word nie. Al is hierdie liggaam van Jesus op ’n manier anders – ‘n verheerlikte liggaam – is dit ’n werklike liggaam. Jy kan Hom sien; jy kan Hom voel; Hy het vleis en bene – dit is dieselfde Jesus wat hulle geken het; die Jesus met Wie hulle saamgeleef het; die Jesus wat hulle gesien sterf het; die Jesus wat begrawe was; die Jesus met wonde …! Hierdie tekens het hulle oortuig en het hulle harte met blydskap gevul.


Vir God se genade in Jesus Christus, bestaan daar nie geslote deure nie! Met Sy kruisdood het Jesus die muur van skeiding tussen ons en God oorbrug en ons met God versoen: “Deur die bloed van Sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol. 1:20). Jesus bring vir my en jou tuis in God se arms in, ons hoef nie vreesbevange agter geslote deure van ons smart, teleurstellings, verbittering of lyding, weg te kruip nie. Ons aardse roete het ‘n eindbestemming. Ons is op pad na ‘n nuwe huis waar die deure permanent oopstaan – ons Vader s’n, daar waar baie wonings is. Dis dáár waar Jesus vir my en jou ook plek gemaak het! Maar, Hy wil juis hê dat ons reeds hier op aarde, iets van Sy vrede ervaar! Daar is geen hart wat Jesus se vrede nie kan smaak nie. Ons is erfgename saam met Christus ... (Rom. 8:17).


“God het Sy liefde aan die kruis bewys. Toe Christus daar gehang, gebloei en gesterf het, was dit God wat aan die wêreld gesê het: "Ek het julle lief, Ek verander nooit, Ek vervul jul diep verlange na vrede en dit is genoeg” (Teresa van Avila).


Gebed: Dankie Jesus dat geen deur, geen hartedeur, U kan uitsluit nie. Dankie dat U my lewe vul met U teenwoordigheid en vrede. Dankie Vader dat ek nie hoef te vrees nie, maar dat ek nou vrygespreek is van sonde omdat ek in U Seun, Jesus Christus ons Here, glo. Dankie Jesus dat U my met God versoen het en daarom is daar nou vrede tussen God en my en kan ek Hom met vrymoedigheid my Vader noem (Rom. 5:1). Amen.

Comments


Recent Posts