top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 6 Desember 2021

Koos Espach


Die dood van Judas (2)


Gryp God se genade vandag


Matt. 27:6-10 – “Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: ‘Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.’ Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as ‘n begraafplaas vir vreemdelinge. Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem. Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: ‘En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”(Sag. 11:12-13; Jer. 32:6-9).


Dit is nogal ironies dat die priesterhoofde meer bekommerd is oor die wettige hantering van die geld as oor Judas, of oor hulle eie rol in Jesus se onwettige doodsvonnis. Hulle tel die geld op wat hulle vir Judas uit die tempelfonds gegee het. Dié geld uit die skatkamer van die tempel, is gebruik om weeskinders en weduwees te versorg, om die tempel te onderhou en die tempeldiens in stand te hou. Toe Judas die geld vir hulle teruggooi, “sê hulle dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.” Hoe skynheilig! Die een oomblik gebruik hulle heilige geld wat bedoel was om góéd te doen, vir hulle onheilige planne. Skielik is hulle hoogheilig, maar dat die Heilige Jesus se bloed gaan vloei, traak hulle nie!


Die priesters besluit nou om met die onrein geld, grond vir ’n begraafplaas (’n onrein plek) te koop vir vreemdelinge, ook onrein. Daarom word dit Bloedgrond genoem. Om mense te begrawe wat andersins nie begrawe sou word nie (armes, vreemdelinge, nie-Jode), is as ’n vroom daad beskou. Waarskynlik meen die priesterhoofde dat hulle hier vroom handel. Almal het egter geweet dat daar as't ware bloed oor daardie geld geloop het, en dat dit in elk geval dan nie in die tempel se skatkis mag kom nie. Hulle skielike vroomheid om nie die geld vir die tempelkas aan te wend nie, is op hierdie stadium onvanpas en waardeloos. Wat ons wel hier waarneem, is dat die geld wat vir Jesus se bloed betaal het, wys wat Jesus se bloed doen: Uit iets boos spruit iets goed!


Daar is ‘n paar beskrywings met opmerklike verskille van Judas se dood: Volgens Matteus het hy selfmoord gepleeg en die priesters het die pottebakker se grond gekoop. Lukas se beskrywing in Handelinge 1:18-19, het Judas self die grond gekoop. Dit is bloedgrond genoem omdat Judas daar geweldadig dood is (moontlik per ongeluk) – nie omdat dit met bloedgeld gekoop is nie. Matteus verbind die naam aan die onskuldige bloed van Jesus; Handelinge aan die skuldige bloed van die verraaier. Volgens Matteus is Judas se einde die gevolg van sy oordeel oor homself; volgens Lukas die oordeel van God: “Daar rus ‘n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om ‘n onskuldige dood te maak” (Deut. 27:25). Augustinus probeer die verskillende weergawes kombineer: Die tou het gebreek nadat Judas homself opgehang het en sy liggaam het oopgebars.


Is dit nie tragies dat Judas aan die begin daar was, maar nie aan die einde nie? Op die dag wat Jesus sy dissipels gekies het, sê Hy ‘n baie vreemde ding: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is ‘n duiwel!” (Joh. 6:70). Die hartseerste was nie dat Judas aan die begin ‘n duiwel was nie, maar dat hy na drie jaar wat hy saam met Jesus en die dissipels rondbeweeg het, daar was waar wonderlike dinge gebeur het. Ten spyte van dit alles, het hy steeds as ‘n duiwel opgeëindig! Hoekom? Hy het nooit toegelaat dat dit wat hy hoor en sien hom verander nie.


Verandering en groei begin altyd by ‘n keuse. Iewers langs die pad kies mense om nie te verander nie. Dit is eenvoudig nie genoeg om te wees waar Jesus is nie? ‘n Mens se verkeerde keuse veroorsaak dat hy sy konneksie met Jesus verloor; al sy vriendskappe met mede Christene verloor; kontak en sy posisie in die gemeente van Christus verloor; die voorreg om in die Naam en met die krag van Jesus te bedien, verloor; sy beloning in die hemel verloor en op die ou end ook sy lewe vir ewig verloor.


Jesus gee sy lewe vir ander … Judas neem sy lewe vir homself! Judas het sy laaste geleentheid op God se genade van die hand gewys. En hy het nooit weer hierdie geleentheid gehad nie. Ek en jy beleef elke dag ‘n nuwe handvol genade van God en daarom is vandag se offer van genade uit God se hand van alle belang. Judas leer ons daardie aand in Getsemane toe “hy met die manne ‘n teken afgespreek het en gesê het: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!” (Matt. 26:48). Wanneer Jesus oor my en jou pad kom – gryp Hom! Kom ons gryp dit aan. Kom ons maak gebruik van elke geleentheid om God se genade te beleef, want niemand van ons weet of ons ooit weer die geleentheid gaan kry nie. Ons weet nie of môre vir ons beskore is nie. Die oomblik toe die soldate Jesus gegryp het, het God se verlossingsplan begin. Net so begin my en jou verlossingsplan wanneer ons Hom aangryp, en die bewese feit is dat Jesus ons nooit laat los wanneer ons Hom aangryp nie.


“Dit gaan nie daaroor dat ons die een of ander toevlug het nie; dit gaan daaroor dat God self ons toevlug is” (Karl Barth).


Gebed: Here, moet asseblief nooit toelaat dat enige iets my uit U greep losskud nie. Die prys wat ek daarvoor gaan betaal wanneer ek laat los, is geweldig hoog. U reg en geregtigheid is van dag tot dag en van geslag tot geslag, onveranderlik. Daarom wil ek in U teenwoordigheid op daardie fondament met sekerheid bou. Dankie Gees van God dat U dit moontlik maak deur ons geestelik te laat groei in hierdie oortuiging. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page