top of page

Gedagte vir Vandag

30 Okt 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

DIE VERHEERLIKING OP DIE BERG (3)

(Mark. 9:2-8; Luk. 9:28-36)

LUISTER NA HOM!

Matt. 17:5 – “Terwyl Petrus nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê: ‘Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

Aan Petrus se versoek is dus nie voldoen nie en Moses en Elia het tot sy teleurstelling, skielik weer “vertrek.” Buitendien, hemelwesens het nie aardse wonings nodig nie! Petrus wat sy praktiese insig wou toepas om drie hutte te bou, kon nie raaksien wat regtig in God se wêreld aan die gebeur is nie. Daarom moes God self uit ‘n wolk met Petrus praat en hom tot sy sinne bring, derhalwe klink God se stem bo die onkunde van die mens uit en God bevestig Petrus se belydenis van vroeër: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” God bevestig Jesus se Seunsskap weer op ‘n bonatuurlike manier, met dieselfde woorde, net soos met Sy doop (Matt. 3:16-17).

Teenoor Petrus se voorstel staan die stem van God uit die wolk, wat soos ’n tent (hut) oor hulle drie kom. Hierdie wolk is vol lig wat as aanduiding van God se sigbare heerlikheid dien. God spreek Sy liefde en tevredenheid met sy Seun uit en voeg ‘n opdrag by: “Luister na Hom.” En om te luister, liewe Petrus, Johannes Jakobus, ek en jy, is eerstens om Jesus se lydensweg te aanvaar, Jesus te glo en Hom in gehoorsaamheid te volg! In die verlede het God Sy wil by wyse van die wet en die profete geopenbaar, maar nou word Jesus bygevoeg as die Een deur wie God sy wil bekend maak, die Een deur wie “die wet en die profete hulle volle betekenis laat kry” (Matt. 5:17). Dit beteken ons moet na die Woord wat mens geword het (Joh. 1:14), luister! “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun” (Heb. 1:1-2).

God se heerlikheid daal op sy Seun Jesus Christus neer. Dit moes sekerlik ál die verwagtinge wat Petrus, Johannes en Jakobus gehad het, by verre oortref het! Die bekende digter en skrywer Sheila Cussons skryf so mooi in haar gedig “Verheerliking” dat die dissipels hierdie Jesus beleef het as “’n man gemaak van son”:

Verheerliking

En toe ons wakker word sien ons ‘n man gemaak van son en twee wat skynend is by Hom: ou vaders van ons ras: ons drie het toe verstom gaan deurmekaar praat, iets van hutte bou – ag, enigiets om hierdie dag te onthou, ons drie bewus van ons vuil voor sy verblindende wit – Selfs H‎y het Hom grys gehou met ‘n wolk vermom en vir Moses en Elia koesterend gevou in Hom, en met ‘n stem gespreek ín in ons bot begrip – en vir niemand het óns weer terug in die dorp kon sê dat ons vir een korte uur gesien het hoe hierdie Jesus lyk vir God … Nou loop hy weer argloos langs ons, bruin soos ons aarde bruin en skraal van ons karig eet en sweet ons sweet in die kleed wat Nikodemus hom gegee het, maar nou wanneer hy praat weet ons sonder nate is sy woord en dat hy self ‘n wit vuur naatloos een is met sy heelal.

Hoe beleef ons “God se geliefde Seun oor wie Hy Hom verheug?” Luister ons na Hom? Wanneer ons op God se instruksie reageer, betree ons ‘n nuwe, unieke en dinamiese verhouding met die lewende Christus. Ons word één met God, net soos Jesus beloof het: “As iemand My liefhet, sal hy My woorde ter harte neem; en My Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon” (Joh. 14:23). Die Heilige Gees laat ons die almag van God smaak deur die inwonende Jesus Christus en dit verander ons gelowiges se harte. Gehoorsaamheid aan Jesus se opdragte kom uit ons hart uit. Dit laat ons anders optree, uit gehoorsaamheid en dankbaarheid, anders laat doen.

Wanneer ons nie meer gemotiveerd raak deur God se Woord te lees nie, kerk toe te gaan nie, of ons aanbidding slegs ten tye van nood, aangewend word, is dit tekens van ontkenning van Jesus wat Homself nie gespaar het om uit liefde, Sy álles, vir ons gegee het! Hoe is dit dan moontlik om enigiets van onsself aan Hom, terug te hou? As ons Jesus Christus besit, besit ons die allerbeste! Sonder Hom is ons niks!

“Gehoorsaamheid aan God is die onweerspreekbare getuienis van volkome en opregte liefde vir Hom” (Nathanael Emmons).

Gebed: Here, dit is só maklik om te sê ek het U lief maar wanneer ek myself meet aan my gehoorsaamheid aan U, voel dit soms asof my oorgawe aan U, te veel gevra is. U het Uself nie gespaar om U álles vir my aan die kruis te gee nie, daarom pleit ek vir matelose toewyding en oorgawe aan U. Help my om na U te luister! Gees van God, help my asseblief om die struikelblokke wat tussen my en God staan, te verwyder. Jesus het dit klaar verwyder aan die kruis, maar ek is geneig om dit weer terug te plaas. Dankie dat U elke dag vir my ‘n lewende werklikheid is en dat U in beheer van my lewe staan sodat ek kan leef tot U eer. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page