Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Nov 2, 2021
- 4 min read
Dinsdag, 2 November 2021
Koos Espach
Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (30)
Ek het die wêreld oorwin (1)
Oorwinning in Christus
Joh. 16:31-33 – “Daarop sê Jesus vir sy dissipels: ‘Glo julle nou? Kyk, daar kom ‘n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
Jesus kom nou aan die einde van Sy gesprek met die dissipels en heel waarskynlik het hulle by die Tuin van Getsemane gearriveer. Hy het aarde toe gekom om die grense tussen God en die sondaar te kom oopmaak en alle gelowiges in God se gesin te kom inlyf – “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak” (Joh. 1:18). Hy het die grens tussen hemel en aarde oorgesteek en vir ons ‘n spieël kom word om vir ons te wys wie die onsigbare Vader werklik is.
Jesus het Sy werk op aarde bykans voltooi. Is dit nie wonderlik nie? Jesus het vir ons ‘n direkte roete na God se hart toe kom bou: “Omdat ons Jesus liefhet en glo dat Hy van God gekom het, het die Vader self ons lief” (Joh. 16:27). Daar is mense wat glo dat Jesus aarde toe gekom het en as “Liewe Jesus” vir ons sondaars kom intree het en ons te verander sodat ons “Kwaai Vader” in die hemel weer ons kan liefhê. Dit is natuurlik onwaar, ons is uit God se oorspronklike logika gebore. “Nog voordat Hy ons in die moederskoot gevorm het, het Hy ons al geken, voordat ons gebore is, het Hy ons aan Hom gewy” (Jer. 1:5).
Ons is Sy beeld, Sy verteenwoordigers, en Jesus het daardie beeld kom herstel. Elke sondaar is vir God waardevol. Al was, byvoorbeeld, die verlore seun verlore, was hy steeds waardevol en het hy steeds aan sy vader behóórt. Ons kán nie verlore wees as ons steeds behóórt nie! Daarom het Jesus as plaasvervanger gekom om mens te kom word soos wat ons is, sodat ons in geloof, hoop en in liefde, besef dat ons steeds aan God behóórt.
Jesus se menswees verskil só drasties van ons. Hy is op pad na die grusame lyding van die kruis, maar steeds gee Hy om vir Sy volgelinge. Soos die dissipels “glo ons dat Jesus van God gekom het” (Joh. 16:30). Hy ken ons swakhede, Hy weet ons gaan Hom alleen laat en ons eie ding doen, op ons eie manier en wil, maar Hy bly steeds lief vir ons en vertrou ons steeds. Dit is en bly darem maar net wonderlik dat 'n mens te alle tye na die Here mag gaan. Ons hoef nie buite Jesus te soek na verlossing nie. Fisiese mag, reputasie, prestasie, invloedryke posisie en vriende, rykdom en selfs aktiewe kerklike bedrywighede, kán ons nie verlos nie, net Jesus Christus alleen kan.
Ons is te geneig om te soek na ‘n “Christus-plus-godsdiens” wat mens soms magteloos maak dat jy later begin glo dat jy iets ekstra nog moet doen om verlos te word. Dit is om die trou van God en die realiteit van wat op die kruis eens-en-vir-altyd gebeur het, tot niet te maak. God het self gesê dat sy Seun se Naam Verlosser is en ons kan dit maar glo dat Hy, en net Hy, ons van ons sondes kan verlos: “Maria sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). Daar is nie nog ‘n ander Verlosser nie: “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as losprys vir almal gegee het.” (1 Tim. 2:5-6).
Die wêreld is die terrein wat beheers word deur magte wat God vyandig gesind is. Van Bybelse tyd af veg hierdie magte met die kerk en die gelowiges. Maar tog is die oorwinning verseker, dit is ’n voldonge feit: “Ek het die wêreld klaar oorwin!” sê Jesus, en met daardie woorde van triomf sluit Hy sy gesprek met die dissipels af, en gaan Hy as oorwinnaar die kruis tegemoet.
Jesus is groter as die ellende en lyding wat ons moet verduur. Hy wil vir ons sê dat Sy lig steeds skyn, selfs in die donkerste plekke of tye. Hierdie dinge mag ons nie ontmoedig en laat uitsak nie! Met ons toekoms kan niks anders gebeur as wat die Here vir ons beplan het nie. Ons moet daarom ons lewe inrig met die vertroue in hierdie oorwinning en teenwoordigheid van Christus. Ons hoef dus nie Jesus se vermoë om dit te doen, te betwyfel nie. Hy het reeds bewys dat Hy die dood oorwin het en die lewe beheers. Hou moed, “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal wit klere dra omdat jy dit waardig is. Ek sal nooit jou naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat jy aan My behoort” (Op. 3:5).
“Deur Jesus se versoening het God nie net ons sonde in die diepte van die see weggewerp nie; Hy het selfs ‘n kennisgewing daarby laat opsit: ‘VISVANG VERBODE!’ (Dwight Moody).
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat u geen ander Naam op die aarde gegee het waardeur U wil hê ons gered moet word nie, behalwe Jesus Christus! Dankie Jesus dat U my persoonlik ken. Al gaan ek gebuk deur my kwota foute, uitdagings en beproewings, ken U elke droom, elke begeerte, elke greintjie hoop, elke omstandigheid en daarom kan ek met vrymoedigheid bely “dat U die wêreld klaar oorwin het” en dat U my bewaar! Onderwerp my aan U liefde en vul my met U vreugde. Tot U eer alleen. Amen.
Recent Posts
See AllVrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2) Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...
Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...
Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...
Comentarios