top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 12 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (15)


Die Heilige Gees sal by julle bly (1)


Belofte van die Voorspraak


Joh. 14:15-17 – “As julle My liefhet, sal julle My opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”


Vergelyk ook Joh. 14:25-26 – “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”


Jesus se gesprek tydens die paasmaaltyd met die oorblywende elf dissipels, nader die einde. Die kruisdood is egter nie die einde van Sy lewe nie omdat Hy die lewe in Hom het: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense” (Joh. 1:4). Maar, na aanleiding van alles wat Jesus daardie aand van die paasfeesmaaltyd aan Sy dissipels gesê het, wil Hy hulle verder vertroos en ook toerus vir die dag dat Hy nie meer in menslike gestalte by hulle sal wees nie. Jesus se gesprek is egter nie beperk tot die elf dissipels nie, dit is meer as dit. “Dit” vertel eintlik van Jesus se verhouding tussen Hom en Sy kerk, Sy verhouding met ons as gelowiges in Hom! “Dit wat Jesus daardie aand tydens die paasmaaltyd” vir Sy dissipels gesê het, is steeds van toepassing vir Sy volgelinge in die 21 ste eeu.


Naas die verpligting van die dissipels en alle Christen-gelowiges “om Sy opdragte uit te voer”, onderneem Jesus ook om ’n verpligting na te kom. Dit gaan immers om ’n nuwe verbond. Van Sy kant onderneem Jesus om self die Vader te vra om “’n ander Voorspraak te stuur vir dié wat Hom liefhet en sy opdragte uitvoer.” Jesus Christus, die Regverdige, ons Voorspraak by die Vader, staan op die punt om van die dissipels afskeid te neem, maar Hy beloof dat hulle nie sonder Sy teenwoordigheid sal moet klaarkom nie. God sal ’n plaasvervanger stuur, ’n “ander Voorspraak”, dus ’n goddelike Persoon net soos Jesus, en nie maar net ’n plaasvervanger van mindere rang of gesag nie.


Jesus stel daardie Voorspraak dan bekend as “die Gees van die waarheid”. Hy word gekenmerk deur die waarheid en Hy dien die waarheid; alles wat Hy getuig en doen, is die waarheid. Die Gees is dus die Waaragtige in wie daar geen valsheid is nie, en Hy is die verkondiger van die waarheid van die blye evangelie soos in Christus geopenbaar is. Jesus het verklaar: “Ek is die waarheid” (Joh. 14:6) en daarom is “die Gees van die waarheid” dus ook die Gees van Christus, en in Christus se plek word Hy deur die Vader gestuur om by ons te woon: “Hy (Jesus) is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort” (Hand. 2:33).


Die wêreld kan Hom egter nie ontvang nie omdat die wêreld in die mag van die leuen, die owerste van die wêreld, verkeer: “Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is” (1 Joh. 5:19). Daarom sien en ken die wêreld nie die Gees van die waarheid nie. Deur die geloof ken ons reeds die Gees wat by ons bly, en bowenal word nóg ‘n belofte bygevoeg: die Gees “sal in julle wees”. Die Gees sal Sy woning maak in die kerk van Christus en daarom ook in die hart van elke gelowige. Die Gees is self ook God en daarom ewig, en nadat Hy deur die Vader gestuur is, bly Hy vir altyd by die gemeente van Christus.


Jesus het ons nie soos weeskinders wat hulpeloos op aarde ronddwaal, alleen agtergelaat nie (Joh. 14:18), ons is deel van God se gesin met ‘n bestemming – ons is saam met die Heilige Gees op die hoofpad van die ewige lewe! Ons as gelowiges in Christus, besit dus iets wat die ongelowige wêreld nie het nie en ook nie ken nie. Die wêreld verstaan nie hierdie spesiale liefde van God vir ons as Sy kinders nie. God bied Sy liefde in genade, deur middel van die Voorspraak, vir elke mens aan. Maar ongelukkig is dit nie almal wat die Gees in geloof wil aanneem of aanvaar nie. Om ons te help om op die regte pad te bly, het “God in Jesus se Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, gestuur en Hy sal ons alles leer en ons herinner aan alles wat Jesus gesê het.” Hy sal God se Woord gebruik om my en jou al hoe meer tot God se eer te vorm. Ek en jy moenie huiwer om na Jesus toe te gaan as ons moedeloos gestry is teen die sonde nie. By Sy troon wag daar oorvloedige genade vir ons.


Onthou, Jesus het nie daarop aanspraak gemaak dat Hy die weg ken nie, Hy is die Weg. Hy het nie net die waarheid verkondig nie, Hy is die Waarheid. Hy het nie net gelewe nie, Hy is die Lewe (Joh. 14:6).


“Die Christendom ken geen waarheid wat nie uit die Heilige Gees gebore word nie” (Phillip Brooks).


Gebed: Here, leer my deur U Gees hoe ek moet lewe. Herskep my elke dag opnuut deur U genade en eindelose liefde. Onderrig my al hoe dieper in die ondeurgrondelike waarhede van ons Vader. Gees van die waarheid, dankie dat U die wil van God aan my bekend maak. Dankie dat U my help om die lewe beter te hanteer sodat ek ‘n oorwinnaar sal wees in die stryd om die waarheid. U ken die droefheid en pyn van hierdie verskeurde wêreld, Here Gees, daarom bid ek dat U vir ons vrede gee in ons mooi land sodat ons U liefde, kalmte en vrede sal ervaar. Verwyder die aggressie, onrus en liefdeloosheid van ons mense, hulle wat glo dat opstande en verwoesting van eiendom, ‘n oplossing sal bring. Skenk U vreugde ook aan hulle. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page