Gedagte vir Vandag
- Koos Espach
- May 25, 2020
- 4 min read

Ons herinner julle daaraan om vanaand om 19h00 in te skakel by NG Fochville-Noord se Facebook blad en saam te luister na ons aanlyn-Pinksterdiens. Die reeks se tema is “HELDER DINK, KIND VAN GOD”. Indien julle nie Facebook het nie, skakel in op ons Kerk se Webblad by http://www.ngfochvillenoord.co.za/e-kerk. Kom ervaar saam met ons gemeente, geloofsgemeenskap in Pinkstertyd op 'n nuwe manier.
JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.
(Matt. 11:2-12:50)
DIE JODE NEEM AANSTOOT TEEN JESUS SE BEDIENING AAN TOLLENAARS EN SONDAARS.
(Matt. 11:2-19)
JESUS EN DIE VRAAG VAN JOHANNES DIE DOPER (2)
(Luk. 7:18-35)
NAVOLGING VAN CHRISTUS IS NIE ’N KNUS KOMBERSIE NIE, MAAR ’N RUWE KRUIS!
Matt. 11:2-3 – “Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ‘n boodskap aan Hom gestuur om te vra: ‘Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”
Terwyl ek hierdie gedeelte oor Johannes die Doper se vraag aan Jesus gelees het, het ek gewonder hoe die Doper óóit kon twyfel oor Jesus se Messiasskap. Hy was immers teenwoordig nadat hy Jesus in die Jordaan gedoop het en was ‘n getuie toe “die hemel bokant Jesus oopgegaan het en die Gees van God soos ‘n duif op Hom neerdaal.” Hy moes immers ook gehoor het toe ‘n stem uit die hemel uit bevestig het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My” (Matt. 3:16-17). Johannes, hoe kon jy twyfel? Jou twyfel is tog ‘n mosie van wantroue in God!
Maar dan onthou ek hy was op daardie stadium nie op ‘n lekker plek nie. Om in die gevangenis opgesluit te wees, was vir Johannes die Doper 'n sware beproewing. Hy was 'n man van die vrye natuur, geharde woestynman waar hy klere van kameelhaar gedra het en geleef het van veldheuning en sprinkane (Matt. 3:4). En nou moet hy in eensaamheid wonder wat dan geword het van Jesus en van die koninkryk van God. Wat het geword van die Messias en die dinge waaroor hy gepreek het?
Hoeveel van ons kry dit regtig reg om te glo, sonder om soms te twyfel? Selfs Johannes Calvyn het ook herhaaldelik daarop gewys dat “ware geloof dikwels ‘n tikkie twyfel bevat en aangeval word deur angs” (Calvyn Institudes). Daar is vele van ons wat onsself met die Doper kan vereenselwig. As hy wat deur Jesus aan ons “verseker is dat daar onder die mense op aarde niemand gebore is, wat groter is as Johannes die Doper nie”, dan moedeloos word – of dan twyfel – dan is daar ten minste ook vir ons op ons twyfeldae die troos dat die Here ons nie gaan veroordeel of verwerp nie (Jes. 41:10). Maar, dan moet ons ook onthou, dit gaan nie oor die feit dat ons geloof soms swak of klein is nie, dit gaan oor egtheid van ons geloof!
Ons egtheid van geloof word op vertroue gebou, vertroue op Jesus Christus. En dit is miskien die les wat die Doper hier vir ons wil leer. Hy het nie daar in haglike omstandighede in die tronk bly tob oor sy twyfel in Jesus nie, maar sy twyfel dadelik aangespreek en dit na die regte adres toe geneem – reguit na Jesus toe! Jesus se reaksie was verbasend nie een van oordeel dat Johannes in Hom twyfel nie, maar eerder een van deernis: “gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie (v. 6). Johannes, geloof is nie ‘n blinde sprong in die donker nie en dit beteken nie om sonder enige rede te glo nie. Nee, geloof is vertroue in My waardeur jy God se genadegawe van die ewige lewe ontvang, al sit jy nou in die tronk.”
Dit is nodig dat ons Christene sal verstaan dat God se koninkryk verskil van aardse koninkryke. Aardse koninkryke kan jou ‘n belangrike posisie verseker as jy ‘n vriend of familie van die koning is. En dan kan jy weet dat hierdie koninkryk jou sal beskerm, jou help, jou bevorder en bevoordeel – hulle noem dit nepotisme. God se koninkryk werk nie soos ons Christene wil hê dit moet werk nie. Ons gelowiges beleef nie onder alle omstandighede sukses en voorspoed nie en nie almal is altyd wenners nie. Jesus waarsku ons as Sy vriende, van vervolging, van lyding, mislukkings, pyn, verwerping – alles dinge wat geloof in Christus, net nie laat sin maak nie.
Ongelukkig is daar vir ons gelowiges nie ‘n alternatief as ons Jesus wil volg nie. Ons moet uit ons “tronke” van twyfel oor Jesus uitkom! Met ons twyfel en al moet ons by Jesus se voete gaan sit en opreg glo ons is by die regte adres. Daar by die voete van Jesus gaan dit nie oor jou groot bankrekening nie, ook nie oor populariteit nie, nog minder oor die goue kruisie wat jy om jou nek dra nie.
Dit gaan oor die koninkryk van God – dit is waar Gód regeer; waar daar reg en geregtigheid geskied; “waar blindes sien, lammes loop, melaatses gereinig word, dowes hoor, dooies opgewek word, en aan armes die evangelie verkondig word” (v. 5) – dit is nie noodwendig waar mý behoeftes, mý verwagtinge en mý drome verwesenlik word nie. Dit is waar ek en jy herken word as Christene wat ons kruis met ons saamdra. En om ons daarmee te help, lei Jesus se Gees ons in die waarheid – geen kruis, geen oorwinnaarskroon!
“Christus soek nie halfpad-dissipels wat hulle voorneem om een aand per week, of ‘n naweek af en toe, of hulle aftreejare vir Hom gee nie. Hy soek dissipels wat Hom die eerste plek in hulle lewe gee” (William MacDonald).
Gebed: O Hoorder van gebede, daar is só baie dinge wat my van U af kan weglei, dinge wat my ook soms laat twyfel in my geloof, dinge wat verwarring saai. Help my deur U Gees wat in my woon om nooit van U pad af te wyk nie. Ek het U elke dag nodig, my Middelaar en Verlosser. Bly asseblief die Middelpunt van my lewe en maak my geloof in U, ‘n praktiese werklikheid, en nie net ‘n vlietende emosie nie. Gees van Waarheid, leer my in egtheid bid en lei my in U waarheid. Dankie dat U in beheer van my lewe staan sodat ek kan leef tot U eer alleen. Kom in my huis in Here, kom wees my Eregas. Amen.
Recent Posts
See AllDinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...
Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...
Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...