Gedagte vir Vandag
Ons bid: Here, maak ons gesin vredemakende kinders van U
JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.
(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)
JESUS BRING NIE VREDE NIE, MAAR DIE SWAARD (1)
(Luk. 12:51-53; 14:26-27)
KOMPROMIEË WERK NIE MET JESUS NIE!
Matt. 10:34-36 – “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ‘n man en sy pa en tussen ‘n dogter en haar ma, tussen ‘n skoondogter en haar skoonma; ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees.”
Vergelyk ook Ef. 2:14 – “Christus is ons vrede …”
Jesus nader nou die einde van die uitsendingsrede met Sy dissipels, en uiter ‘n paar skerp woorde oor volgelingskap wat ons laat frons. Nêrens word die onvergelyklike eerlikheid van Jesus duideliker geopenbaar as juis hier nie. En aanvanklik, wanneer Jesus sê Sy koninkryk sal nie vrede tot gevolg hê nie, maar die swaard, dan klink dit teenstrydig met dít wat ons reeds tot dusver geleer het: Jesaja het ongeveer 700 jaar voor Jesus se geboorte al profeteer dat ‘n “Seun gebore sal word, ‘n Vredevors wie se heerskappy sal uitbrei en vir altyd vrede en voorspoed sal bring” (Jes. 9:5-6).
Kort voor Jesus se geboorte, het Johannes die Doper se pa, Sagaria, voorspel dat die “Kindjie ons voetstappe sal rig op die pad van vrede” (Luk. 1:79b). Met Jesus se geboorte het ‘n menigte engele aan skaapwagters verskyn en God geprys: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het” (Luk. 2:14).
Jesus neem die begrip ‘vrede’ nog ’n stap verder, Hy seën ons om vredemakers te wees (Matt. 5:9). Dit behoort eintlik deel te wees van ons identiteit as kinders van God – vredemakers wat die werk van die Vredevors voortsit. Waar kom hierdie vrede vandaan? Waar en wat is die oorsprong daarvan? Gedurende die Ou Testamentiese tyd, het die Hebreeuse woord ‘Shalom’ beteken – dit gaan goed met jou totale welsyn. Die Jode het mekaar met die woord ‘Shalom’ gegroet wat God se vrede gekoppel het aan fisiese seën – goeie oeste en baie kinders. Weerspreek Jesus Hom dan nie wanneer Hy sê ons “moenie dink dat Hy gekom het om vrede op die aarde te bring nie, maar die swaard?”
Nee, Jesus praat nie uit twee monde nie. Hy voorspel “tweedrag”, of verdeeldheid, en dit beteken nie dat die evangelie geweld propageer nie. Ons as Jesus se volgelinge neem nie die swaard op nie, maar sal die swaard vóél. Waar Christus op die toneel verskyn, kom daar tweedrag in die gemeenskap en veroorsaak dit selfs verdeeldheid en spanning tussen familielede, wanneer net sommige Jesus Christus volg, en ander nie. Diegene wat verbonde is aan Jesus, het ‘n “ander burgerskap” en waardes teenoor diegene wat nie Jesus-volgelinge is nie. “Ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag” (Fil. 3:20).
Jesus se voorspelling van verdeeldheid tussen familielede, klink miskien vir ons vreemd, maar die destydse volgelinge het presies geweet waarna Jesus verwys. Die hoof van ‘n Joodse familie, wat as die patriarg beskou is, sou nie duld dat enigeen van sy familielede enigsins anders as hy aanbid, vas en die wet onderhou nie – want, so is geglo, was dit die enigste manier om by God uit te kom. Indien iemand van sy familie hom sou teengaan, is hy of sy summier uit daardie familie verban en gevolglik sy werk, sekuriteit en identiteit kwyt. Let ook op dat Jesus nie verwys na die man se vrou of skoonseun nie. Die vrou sou nie waag om van haar man te verskil nie en die skoonseun en sy vrou, het by sý pa, ‘n ander patriarg, gewoon.
Die hoë eise van dissipelskap maak dit noodsaaklik dat iemand homself goed rekenskap gee van sy besluit om Jesus te volg. Jesus bied aan ons ‘n keuse om die prys van dissipelskap, vooraf goed te oorweeg, en nie op ’n onbesonne manier daarmee begin en dit dan nie kan volhou nie. Dit is soos ’n man “wat ’n gebou wil oprig, en vooraf eers die koste moet bereken” (Luk. 14:28). Jesus vra van ons nie die onmoontlike nie, maar wel die moeilike, en dit is om te kies tussen ons intiemste verhoudings op aarde of lojaliteit aan Hom. Hierdie keuse sal egter selde tot ons kom, en deur die genade van God sal dit vir sommige van ons, nooit kom nie. Wanneer Jesus eerste is in ons lewe, erken ons Hom as ons Bouer wie die regte boumateriaal verskaf wat vrede verseker, en nie verdeeldheid veroorsaak nie.
Christus kom met sagte voetstappe van vrede ons lewe binne om daarin ‘n nuwe liefde, tevoorskyn te roep. Wanneer Hy ons lewens deur Sy Gees binnedring, word Hy alleenheerser in jou gees, word jy ‘n mens van vrede en dra jy dit aan jou familielede ook oor. Dan word jy nie iemand wat “ter wille van die vrede,” die verkeerde doodluiters aanvaar en maar laat voortwoeker nie, maar iemand wat weet hoe afhanklik jy van God is. As vredemaker word jy sigbaar iemand wat treur oor jou sondige toestand en met ‘n sagmoedige nederige hart, daarna streef om dieselfde hart as Christus wil begin ontwikkel, om “die vrede wat Jesus vir ons wil nalaat wat nie die soort vrede is wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27). Dan kry jy dit reg om in harmonie met ander te leef, en wie weet, dalk veroorsaak jou voorbeeld van vredevolle liefde, dat hulle ook daarna sal hunker, dat hulle ook hul voetstappe sal rig op die pad van vrede.
“Verdeeldheid is daardie skrikwekkende voorwerpe wat ons in ons pad sien, voorwerpe wat die vrede van God wil verdryf, maar dit gebeur net wanneer ons ons oë van God afneem” (Onbekend).
Gebed: Dankie Here dat U my deel gemaak het van God se gesin en my hele wese, deel van Hom kan wees. Help my om ander met God te versoen, vrede te bewerkstellig eerder as om vredeswil stil te bly en uit ander se pad uit te bly. Lei my as gelowige, om in vrede met alle mense te lewe (Rom. 12:18). “Ek weet dat U alles ten goede laat meewerk vir dié wat God liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is” (Rom. 8:28). Laat my tog nooit my oë van U af wegneem, ek is liewer saam met U in my teenspoed as sonder U in my voorspoed. Amen.