Gedagte vir Vandag
JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.
(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)
WIE GEVREES MOET WORD (2)
(Luk. 12:2-7)
ONS UITEINDELIKE BESTEMMING IS GEWAARBORG!
Matt. 10:26-27 – “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.”
Vergelyk ook Joh. 5:24 – “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”
Die eerste plek waar ons in die Bybel van vrees lees is waar God vir Adam vra: “Waar is jy?” En Adam vir God antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal.” Vrees het dus ontstaan ná die sondeval, want voordat Adam gesondig het, het hy geen vrees geken nie. Inteendeel, hy het God eerbiedig, liefgehad en aanbid. Toe hy egter gesondig het, het hy die koninkryk van God, die koninkryk van lig, verruil vir die koninkryk van duisternis, oftewel, die koninkryk wat deur satan met vrees regeer word.
Van daardie dag af, leef ons in ‘n wêreld vol vrese – vrees vir misdaad; die vrees huidiglik vir ekonomiese en maatskaplike ineenstorting; vrees vir die Covid virus en so meer. Maar dan antwoord Jesus en sê ons “moenie bang wees vir mense nie.” Hoekom nie? Vrees vir mense kan jou van jou ware geloofsoortuigings beroof omdat jy bang is mense spot jou daaroor en gevolglik so ’n valse lewe leef. Waaroor ons egter moet bekommerd wees is wat Jesus verder sê: “Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.” Soos die Here geweet het van Adam se oersonde, so weet Hy vandag van elkeen se doen en late, en dis waaroor ‘n mens paniekerig in vrees kan verval!
Wie van ons sal wil hê dat, byvoorbeeld elke gedagte van ons, “openbaar gemaak sal word?” Wie van ons sal wil hê dat al ons geheime sondes aan almal “bekend gemaak word?” Die blote gedagte dat my geheime en stories van my lewe, blootgelê sal word, laat my uiters bang en verleë voel, en vul my eintlik met vrees. En dit gáán gebeur, daardie dag wanneer ons almal voor Sy regterstoel sal verskyn en ons hele lewe oopgevlek sal word, wanneer “God sy regverdige oordeel sal uitspreek en elkeen sal vergeld volgens sy dade” (Rom. 2:6a).
Baie mense leef hulle lewe lank in vrees vir die oordeel van God. Hulle raak neerslagtig want hulle is daarvan oortuig dat God die hele tyd sit en wag dat hulle ‘n misstap begaan, sodat Hy hulle kan straf. So ‘n beeld van God maak van godsdiens ‘n las en skep ‘n vernietigende gesindheid teenoor die lewe, omdat jy nie waardering kan vind vir dit wat God geskep het nie. Dit voel asof jou lewe een sieldodende sonde-roetine is. Wanneer iets opwindends in jou lewe gebeur, dan onderdruk jy dit want jy is bang vir God wat al hierdie pragtige dinge geskep het.
Maar dit is eers wat eendag gaan gebeur. Intussen word ons nog steeds aan die lot van mense oorgelaat. Mense wat “bedekte dinge openbaar en geheime bekend maak” van ander. As gevolg van ons sondes, gebruik satan mense om ons in ‘n hoek te dryf en om ons verkeerde verhouding met God, tot op die been oop te vlek. Ons kan beslis nie deur onsself hierdie verkeerde verhouding verander nie, maar alleen op God vertrou dat Hý die verhouding herstel. Dit beteken nie dat God al ons sondes onder die mat invee en met ‘n gerusstellende “toemaar, dit is nie so erg nie en vergeet daarvan nie.” Nee! God is heilig en regverdig, Hy het werk gemaak van die sonde: “God het Jesus gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo” (Rom. 3:25a).
Wanneer ons egter “luister na wat Jesus Christus sê en in God glo wat Hom gestuur het”, betree ons ‘n nuwe verhouding met God – die Regter word ons Vader, die toekoms word die hede, die onbekende word intimiteit met God en vrees verander in liefde. Wanneer ons onsself in geloof aan Jesus Christus oorgegee het, gaan ons uit die dood oor tot die lewe. Ons leef nie meer ter wille van ons eie selfsugtige belange nie. Die tydverdrywe en dinge wat ons vroeër gekoester het, het nie meer dieselfde aantrekkingskrag nie. Die doelstellings wat ons so naarstigtelik nagejaag het, lyk skielik nie meer so belangrik nie. “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees” (Rom. 8:4).
Watter wonderlike belofte en versekering dat óns, as ons “na die woorde van Jesus luister en in ons Vader glo,” nie meer geestelik dood is nie en nóú reeds seker mag wees dat ons rééds uit die dood na die ewige lewe oorgegaan het! “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Rom. 8:1). Ons uiteindelike bestemming is gewaarborg. Daar hoef nie meer by ons vrees te wees nie. Die ware Bron van krag, Jesus Christus, het reeds ‘n klinkende sege oor hierdie wêreld behaal, én al ons sondes, selfs die oordeel van God. “As God vir ons is, wie of wat kan dan teen ons wees?” (Rom. 8:31).
“Ware geloof is harde werk en dit kos jou duur. Dis dóén in plaas van net sê ...! Ware geloof is nie om hemelpastei te eet nie; dit is om kruis te dra. Dis jouself prysgee, soos Christus gedoen het” (Ferdinand Deist).
Gebed: Dankie Here vir U genade. Voordat ek oorgegaan het na “die lewe” en U eerste begin stel het, was ek die belangrikste persoon in my beperkte klein wêreldjie. Dankie dat U my vrygemaak het van die straf én van die mag van die sonde. Voorheen het ek U probeer oorreed om alles te doen wat ek wil hê en sóós ek dit wil hê, maar nou vind ek vreugde en betekenis deur te doen wat Ú van my verlang. Dankie dat U my bevry het van die aftakelende vrees, dat ek vry kan wees om die wet uit te leef, om U te kan dien en dáárin sin en betekenis in hierdie lewe kan vind. Amen.