top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


DIE GENESING VAN TWEE BLINDES.

(Vgl. Matt. 20:29-34)


GELOOF IS OM JESUS BLINDELINGS TE VOLG!


Matt. 9:27-31 – “Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg. Hulle het aanhoudend geskreeu: ‘Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!’ Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: ‘Glo julle dat Ek dit kan doen?’ ‘Ja, Here,’ antwoord hulle Hom. Toe raak Hy aan hulle oë en sê: ‘Wat julle glo, sal gebeur.’ Hulle kon toe sien, maar Jesus het hulle baie streng beveel: ‘Hiervan moet niemand hoor nie.’ Maar toe hulle daar weg is, het hulle in daardie hele omgewing van Hom vertel.”


Vergelyk ook Jes. 35:4-6 – “Sê vir dié wat moed verloor het: ‘Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier. Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf; God kom julle red! Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammes sal kan rondspring …”


Jesus verlaat Jaïrus se huis en gaan verder. Twee blindes volg Hom al tastende en skuifelend van voet op die stofpad. “Hulle skreeu aanhoudend: ‘Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!” Hulle hulproep is gelaai met 'n geloofsbelydenis. Hulle noem Hom Seun van Dawid. Hiermee toon hulle dat hulle meer in Hom sien as ander wat werklik oë het. Hulle geloof in Hom is ‘n erkenning dat hulle Jesus as die langverwagte Messias, wat volgens die Joodse verwagting, gesien is as ’n aardse heerser wat die volk Israel sal kom bevry en die koninkryk van Israel weer kom oprig. Die twee blindes erken Hom as die barmhartige Messias wat hulle enigste hoop is om te kan sien.


Jesus maak dit nie vir hulle maklik nie. Hy genees hulle nie dadelik nie, maar laat Hom volg tot binne ‘n huis. Wanneer ‘n mens deel is van ‘n skare of selfs deel is van ‘n paar mense waar die geestelike emosies hoog is, is dit maklik om Jesus te “worship en praise”. Maar, op ‘n stadium is jy weer alleen, daar waar dit nodig is dat jy persoonlik met Jesus kontak moet maak. Daar waar jou geestelike lewe nie in ‘n groef verval, en jy geen vooruitgang maak op die geestelike pad van Jesus Christus nie. Daar waar jy alleen kan sê: “Ja Here, ek glo!”


Jesus vra hulle of “hulle glo dat Hy dit kan doen, glo dat Hy hulle blindheid kan wegneem?” Hulle het al geglo voor Jesus gevra het, anders sou hulle Hom nie gevolg het nie. Hulle antwoord met nog ‘n belydenis. Hulle bely dat Jesus God is: “Ja, Here.” Matteus vertel dan vir ons dat “Jesus toe hulle oë aanraak en sê: ‘Wat julle glo, sal gebeur,’ en hulle kon toe sien.” Beteken dit nou dat geloof altyd ‘n voorwaarde vir genesing is? Nee, Jesus het nie ‘n vaste “resep” nie. Hy het byvoorbeeld Petrus se skoonma uit eie beweging genees.


Geestelik is baie mense blind gebore. Menigte mense kan die Here Jesus en Sy kruisvoltooide redding nie herken nie, hulle is nog geestelik blind! Sy grootste oorwinning was aan ‘n vloekhout om reg te maak vir die gemors wat ons aangevang het! Baie kan dit nie sien nie want hulle besit geen kapasiteit daartoe nie – “Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is” (2 Kor. 4:4).


In Johannes 8:12 het Jesus Homself bekendgestel as die Lig vir die wêreld; nou bring Hy lig in die oë en lewe van twee blindes en hierdie wonderteken van Hom bring Hom ook vir die soveelste keer, in botsing met die duisternis waarin die Fariseërs van destyds, en nog só baie vandag, verkeer. “Ongeloof is blind. Geloof sien in die donker” (John Milton).


Jesus bring lig na elke aspek van duisternis in ons lewe. Wanneer siekte, twyfel, depressie, skuldgevoelens, mislukking, of enigiets jou in die duister vasgekeer laat voel, neem dit na die “Lig vir die wêreld” toe (Joh. 8:12). Elkeen het ‘n keuse om die Lig in Jesus te sien of om te weier om dit te sien.


Wanneer Jesus se Lig ons duisternis verhelder het, word ons ook ‘n bron waardeur ander mense Sy Lig kan en sal sien. As my en jou geloof sy oorsprong in God het en tot Sy eer is, sal ons ‘n kanaal word waardeur Sy kragtige dade uitgevoer word. Ons sal soos die twee blindes in ons verhaal nie kan stilbly wanneer Jesus ons skuifelgang van gister se donker gebreek het nie, “maar in daardie hele omgewing, oral waar ons ons bevind, van Hom vertel.”


“Ons kan ‘n kind vergewe wat bang is vir die donker; die ware tragedie van die lewe is wanneer volwassenes bang is vir die Lig” (Plato).


Gebed: Here, Leidsman tot die lig, dankie dat U lig in die donkerte van my lewe helder skyn. Ek bid vir elkeen wat nog in die duisternis wandel, dat U lig in hulle aangeskakel sal word sodat dit ‘n nuwe straal van hulle lewe sal oorspoel. Verhelder hulle denke met U lig sodat hulle harte vernuwe en hul voetstappe hulle sal lei om op U liefde te fokus. Here, en wanneer daar felle aanslae op my geloof gemaak word soos siekte, laat my steeds vertrou op U genade en bystand. Amen.



 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page