Gedagte vir Vandag
JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.
(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)
DIE ROEPING VAN MATTEUS (3) – JESUS GENEES ALLE WONDE!
(Mark. 2:13-17; Luk. 5:27-32)
Matt. 9:11-13 – “Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: ‘Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?’ Maar Jesus het dit gehoor en gesê: ‘Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Gaan leer wat dit beteken: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
Vergelyk ook Hosea 6:6 – “Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.”
Die roeping van Matteus en die daaropvolgende maaltyd, wek die misnoeë van die Fariseërs omdat hulle sulke kontak ten sterkste afgekeur het. Hierdie omstandigheid gee aan Jesus die geleentheid om iets meer te sê omtrent die doel van Sy koms na die aarde. Hy verkondig nie net bloot die Koninkryk van God nie, maar Hy roep sondaars na Hom toe om dáár, vergifnis en regverdiging te vind. As antwoord op die vraag: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” wat eintlik aan die dissipels gestel is, bedien Jesus die Fariseërs met ’n bekende spreekwoord: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
In moderne taal sou die vraag gewees het: “Nooit! Waarom meng hy met sulke mense? Meng jou met semels dan vreet die varke jou!” Jesus se verkeer met sondaars spruit nie uit ’n sedelik-godsdienstige gelykstelling of uit onverskilligheid teenoor die heilige dinge nie, maar uit barmhartigheid en liefde teenoor diegene wat juis daaraan behoefte het. Daarom antwoord Hy op ‘n wyse wat elke geknakte en stukkende mens, dankbaarheidstrane in die oë laat kry: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
Wanneer Jesus sondaars roep en sê: “Volg My!”, openbaar Hy God se barmhartigheid. Dié wat geen sodanige behoefte het nie, het Hom dus nie nodig nie. Dit is eintlik logies. ‘n Goeie dokter sal nie mense besoek wat goeie gesondheid beleef, terwyl sy ander pasiënte wat siek is en hom nodig het, hom nooit sien nie. Jesus het nie gekom om die mense te red wat dit volgens menslike standaarde, waardig is of dit verdien nie! Hy het gekom vir dié wat hulle onwaardigheid besef – wat hulle sonde en verlorenheid besef. Op Jesus se “roetekaart” is die struikelendes, uitgeworpenes en verwerptes, dié wat in nood is – sondaars soos wat aan Matteus se etenstafel was.
En hulle wat soos die Fariseërs, vroom en hoogmoedig dink hulle is te ordentlik om met “daardie soort mense” te meng, hulle wat glo hulle kan sélf regkom en nét die regte medisyne vir hulle sondepyne het, stuur Jesus weg na ‘n plek van selfondersoek. Die Farisieërs het barmhartigheid hoog geag as deel van die goeie werke wat die Wet van hulle vereis het en het dit ook met oordrewe nougesetheid, allerlei uiterlike handelinge uitgevoer: hulle het barmhartigheid bewys deur onder andere, geld te gee vir weduwees en wese en kos vir die armes uitdeel.
Maar, hulle sou help waar hulle gesien kon word deur ander mense, waar daar vir hulle hande geklap kan word. Daar was 'n sekere mate van hooghartigheid in hulle gedrag sodat diegene wat gehelp word, bevoorreg moes voel dat 'n heilige Fariseër iets met hulle te doen het. Hulle was in hulle eie oë godsdienstig onberispelik, wie se hoofdoel was om die wet van Moses te handhaaf – die “goeie en gróót Christene!”
Die Fariseërs se fout was dat hulle hulself nie voor God gesien het nie maar langs die tollenaars en die sondaars. En dan lyk hulle skielik baie groot in hulle eie oë. Hulle dank God eintlik net oor alles wat hulle het en die mooi eienskappe wat hulle besit. Hulle gee hulself punte vir hulle godsdiens en geloof en in hulle oë slaag hulle die toets van goeie Christen wees. Volgens hulle godsdientige lysie is al die boksies met selfvertroue, korrek afgemerk, maar ongelukkig, net as ‘n kantlyn aantekening, dank hulle God terloops daarvoor. Dit is vir hulle, wat soos die Fariseërs optree, wat Jesus sê: “Gaan leer wat dit beteken: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.”
Is dit nie maar ‘n heenwyser na ons eie situasie nie? Is baie van ons nie soms ook soos die Fariseërs nie? Kan ons eerlik ontken dat ons nie al onsself dikwels gemeet het aan die lewe van ander mense, en só ons eie waardes bepaal terwyl ons let op die waardeloosheid van ander, nie? My kerkbesoek in vergelyking met my buurman s’n is werklik indrukwekkend. O ja, dis net genade. Maar die bors swel terselfdertyd van trots. Neem nou maar my getrouheid – ek is altyd teenwoordig en ek bring my kant. Wanneer ons onsself ondersoek, maar meet met ander se swakhede – eindig ons dalk net met selftevredenheid en uiteindelik met selfverheffing en hoogmoed, en dit kom tot ‘n val!
Die oomblik wanneer jou hart sag en nederig geword het en jy klaar “gedink het wat dit beteken om barmhartig te wees”, sal jy besef niks anders kan meer help nie; besef jy is so diep in die moeilikheid dat jou eie rekord en al die medaljes wat jy daarvoor verdien het, nie meer punte tel nie; besef dat jy só drooggemaak het dat jy nie meer self daar kan uitkom nie, sal jy genoodsaak word om elders ʼn regmaker te loop soek. Jy het iemand anders naas jouself nodig.
Die uitnodiging staan steeds: “Ek het gekom om sondaars te roep, dié wat siek is en ‘n dokter nodig het!” Die Groot Geneesheer sit met genade, stukkende mense weer aanmekaar. Jy moet egter eers stukkend wees voor genade soos medisyne voel, voor die regmaker “inskop”. Ek en jy wat in hierdie groep is en verlore in ons sondes is, kan met vrymoedigheid ons arms na Jesus toe uitsteek en sê: “Red my Here, ek vergaan!” Gryp Jesus se hande vas en loof God vir Sy genade!
“Solank hoogmoed in ‘n mens se hart woon, kan jy God nie sien nie” (C.S. Lewis).
Gebed: Hemel Vader, terwyl ek U dank vir U genade dat U my so ‘n modelmens gemaak het, moet ek nie vergeet van my eie misvormdheid, onvergeeflikheid en onversoenlikheid en misgrype in die lewe nie. Here, wanneer ek vasklou aan my vernaamheid en my ego só groot raak dat ek U nie meer raaksien nie, wys my deur my geestesoog, hoe U besig is om U dissipels se voete te was. Weerhou my om my tydelike waardes teenoor ander te meet en eerder dit aan U waardes, ewigheidswaardes, te koppel! Laat my onthou Here, dat U my gemaak het om my naaste lief te hê en nie met hoogmoed op hulle neer te sien nie. Amen.