top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN!


AMEN! (2) – JESUS CHRISTUS IS SÉLF DIE INHOUD VAN SY PREEK!


Matt. 7:28-29 – “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”


Matteus dui in hierdie vers aan dat Jesus die skare “nie soos hulle skrifgeleerdes,’’ geleer het nie. Die skrifgeleerdes was op grond van hulle noukeurige studie van die Skrif, veral van die wet van Moses en van die oorgelewerde godsdienstige gebruike van die voorgeslagte, as invloedryke godsdienstige leiers van die Joodse volk beskou. Hulle was aanvaar as saghebbende uitleggers van die Skrif wat die voorskrifte vir die godsdienstige lewe van die volk moes bepaal. Hulle was geleerde leraars wat die volk in die Ou Testamentiese Tora, die eerste vyf boeke van die O.T., en spesifiek die wette en voorskrifte wat daarin vervat is, onderrig het. Een derde van die lede in die Joodse Raad (Sanhedrin) het uit skrifgeleerdes bestaan, met ander woorde, opgevoede, geleerde mense van aansien.


Hulle was egter nie baie geïnteresseerd om die inhoud van die wet soos wat Moses dit van God ontvang het, toe te pas nie. Hulle leringe was eerder bepaal op die verskillende tradisies en gebruike van hulle voorgeslagte rondom die wet. ‘n Skrifgeleerde het aanhalings van vorige skrifgeleerdes gebruik, sy eie interpretasie daarby gevoeg en aan die volk voorgelê, en sodoende, die Ou Testamentiese-Woord, kragteloos gemaak. Daar kon dus geen vergelyking wees tussen leringe van Jesus en die leringe van mensgemaakte wette en tradisies nie. Kontrasterend daarmee, het Jesus uit Sy hart met die outoriteit van God gepraat: “Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê ek vir die wêreld” (Joh. 8:26b).


Die skrifgeleerdes het oneindige debatte gevoer oor onbelangrike en niksbeduidende gewoontes en oorgelewerde tradisies. Maar toe Jesus begin praat, het die mense geweet: Hier is iets anders! Sy leringe aan die skare was gefokus op ewigheidswaardes in die koninkryk van God. Die Here van die koninkryk het pas sy Vader se wil aan almal kom aankondig – dis asof God self gepraat het! Vir baie jare moes hulle in die sinagoges luister na die moets en moenies van mensgemaakte wette, terwyl hulle nou hier teen die berghang langs die See van Galilea, geluister het na ‘n beskeie, nederige, “ongeletterde” Man van Nasaret, wat met die outoriteit van God, oor God se koninkryk praat. Dis asof Jesus as persoon, Sélf die inhoud van Sy preek is!


Jesus wat die bergrede gepreek het, is SELF die inhoud en vervulling van alles! Hy is feitlik in elke woord wat Hy ge-uiter het – afhanklikheid van God; sagmoedige en rein van hart; barmhartige; honger en dors na geregtigheid; gebrokenheid oor sonde; vredemaker; sout vir die aarde; lig vir die wêreld; seksuele reinheid; die waarheid Sélf; liefde vir vyand, vir almal; gebedskrag; skat in die hemel; voorsiener in alles; nou poort, smal pad, ewige lewe, ware profeet, fondament van rots …! Hy is eenvoudig totaal uniek en hééltemal anders as enige ander leraar of profeet of prediker vóór en ná Hom!


Wanneer dit by Jesus Christus kom, kan ons nie objektief sit en luister na dit wat Hy sê, “verbaas wees oor Sy onderrig”, en dan in verwondering wegstap nie. Ons moet in ‘n verhouding met HOMSELF leef. Dit is die verskil van die Christen Geloof teenoor alle ander godsdienste. By ander godsdienste ontvang ‘n mens voorskrifte en probeer dit nakom. By die Christelike Geloof gaan dit nie oor voorskrifte nie, maar oor ‘n lewende Persoon wat met die kind van God in ‘n persoonlike verhouding staan. Jesus se koms na die wêreld en dit wat Hy gedoen en gepraat het en die outoriteit waarmee Hy dit gedoen het, neem alle verontskuldiging van ons weg. “Almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12).


“The more I read these three chapters of The Sermon on the Mount (Matt. 5 to 7), the more I am drawn to them and shamed by them. Their brilliant light draws me like a moth to a spotlight; but the light is so bright that it sears and burns” (D.A. Carson).


Gebed: Here, ek was nou al ‘n geruime tyd deel van hierdie skare wat U gevolg het. Ek het my ook tuis gemaak aan U voete daar teen die berghang en na U geluister. Terwyl U oor die koninkryk van God gepraat het, het ek weereens my tekortkominge besef want ek skiet ver tekort in U verwagtinge. Dankie Here dat U liefde en genade allesdeurdringend en allesomvattend is sodat ek met vrymoedigheid na U genadetroon kan gaan. Dankie dat U Gees my kan help om geestelik te groei. Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page