Gedagte vir Vandag
JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!
(Matt. 5-7)
AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (EERSTE VERMANING.)
TWEE PAAIE (1) – DIE ROETE VAN DISSIPELSKAP IS MOEILIK!
(Luk. 13:24)
Matt. 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
Vergelyk ook Matt. 5:20 – “Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Jesus sluit Sy Bergrede af met ‘n paar ernstige vermanings. Met die eerste vermaning word daar ‘n keuse aan ons gestel deur ‘n illustrasie van twee beelde – ‘n “poort” en ‘n “pad” wat na, óf die lewe óf die verderf lei. Van die vroegste tye is daar reeds bepaal dat ‘n mens feitlik altyd gekonfronteer word met kruispaaie in die lewe. Daar waar ‘n keuse gemaak moet word watter pad die korrekte een sal wees om te neem, wat die weg na die regte bestemming sal wees. In feitlik elke gelowige se huis, het selfs die bekende skildery van die breë en smal weg gehang, die keuse duidelik – baie soek nie die wye poort nie, hulle is reeds daar en kan net daarmee aanhou want dit lei na die sondaarspad waarop hulle gebore is, terwyl die nou poort gesoek moet word, jy moet dit eers kry.
Moses het teen die einde van sy lewe, aan die volk die keuse voorgehou van lewe en voorspoed teenoor dood en teenspoed (Deut. 30:15-20). Josua het dieselfde gedoen reg teen sy lewenseinde, en die volk met ‘n keuse gelaat wie hulle wil dien – die Here of die afgode van die heidene (Jos. 24:15). Die Here het Jeremia gevra om die volk die keuse te stel tussen die weg van die lewe of die weg van die dood (Jer. 21:8). Dit is dieselfde weg wat Jesus ons ook hier mee konfronteer! As ons so luister na Jesus dan klink die regte keuse nie juis rooskleurig nie – “die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
Hoe lyk hierdie “nou poort” wat Jesus aanbeveel? Om by ‘n hek, deur, of ‘n poort, in te gaan, neem ‘n sekonde en is nogal maklik. Om hierdie “nou poort” waarna Jesus verwys in te gaan, blyk dat dit bietjie langer gaan neem en veel moeiliker sal wees. Die dissipels vra Jesus: “Here, is dié wat gered word maar min?” Jesus antwoord: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan maar sal dit nie regkry nie” (Luk. 13:24).
Ons word in sonde ontvang en gebore en daarom is ons by nature, reeds deel van die sondige wêreld wat onsself by die wye poort wat na die breë pad met ál sy versoekings lei, bevind. Jesus daarenteen, is die enigste Weg, om deur God se genade en deur geloof in Jesus Christus, deur hierdie “nou poort” in te gaan.
Jesus definieer aanvanklik nie wat hierdie “nou poort” is nie, hoe dit lyk of waar om dit te vind nie. Hy doen dit wel later tydens Sy aardse lewe – “Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan sal hy gered word” (Joh. 10:9). Die “nou poort” is Jesus self en ons gaan by hierdie poort in wanneer ons in Hom glo. Daarom is die “nou poort” die ingang na die “smal pad.” Jesus het reeds hierdie pad geloop en vir ons die weg gebaan.
Dissipelskap begin by wedergeboorte – “Daarop sê Jesus: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). As die keuse Jesus is, moet ons in Hom glo. “God gee dan die vryspraak sonder onderskeid aan almal wat in Jesus Christus glo (Rom. 3:20-24).” Dít is hoe die “nou poort” lyk. “Dit is nie ‘n donker gang nie. Dit gaan oop in die wydtes van God se ryke genade en die vrug van die Gees en die heerlikheid van kindskap” (D.A. Carson).
Die roete van dissipelskap is moeilik en die prys is hoog. Dis kruisdra van begin tot end en soms het dit steil opdraandes. Dit is ‘n pad met baie swaarkry, selfs deur ‘n dal van die dood. Die voordeel is egter, dit bly die beste pad om te volg want almal wat by die “nou poort” ingaan, het die Heilige Gees as Gids wat tree vir tree saam op die smal weg stap wat lei na ‘n gewaarborgde ewige bestemming.
“Jesus Christ is the gate of heaven, through which we have boldness to enter into the holiest of all by faith and hope now; as there will be hereafter an abundant entrance into the kingdom and glory of God, through his blood and righteousness” (John Gill - Exposition of the New Testament).
Gebed: Here, “daar is so baie weë wat vir ons as mense reg lyk, maar dis weë van die dood” (Spr. 14:12) want U is nie daar nie. Die wêreld word stelselmatig gekaap om ‘n anti-Christelike weg in te slaan en die mens se wil het belangriker as U wil geword. Ek bid vandag en elke dag dat hierdie rebelse vryheid van mense stop en U weë gevolg word want baie is op pad hel toe. Help ons mensdom om grense te stel sodat ons die regte weg kies. Amen.