top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: VIERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


DIE SORGE VAN DIE LEWE (3) – GOD SE KONINKRYK IS NOMMER EEN!

(Luk. 12:22-34)


Matt. 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer nie … Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”


Vergelyk ook Joh. 16:12-13 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.”


Teenoor bekommer en begaan wees, kom Jesus nou en gee vir ons ‘n positiewe opdrag dat ons “allereers vir die koninkryk en vir die wil van God, moet beywer.” Na al die bekommernisse oor kos en klere, kom Jesus en verander ons bekommernis na ‘n soeke, dit waarvoor Hy ons onlangs nog geleer het om te bid: “Laat u koninkryk kom, laat U wil geskied …” (v. 10). God se koninkryk en wil is nie net ’n eerste prioriteit nie, maar ’n absolute eis. Dit gaan dus oor onderwerping aan God se koningsheerskappy en gehoorsaamheid aan Sy wil in ’n lewe van praktiese dissipelskap.


Ons leef vandag in moeilike en gevaarlike tye, tye wat nie Christen-vriendelik is nie! Talle mense voel asof al die sprankel uit hulle lewe verdwyn het. Dit blyk asof neerslagtigheid die mense beroof van alle sin en waardes en hulle bestaan oorgeneem is deur vrees en wanhoop. Ons leef in ‘n tyd waar goeie nuus, feitlik net nie meer bestaan nie. Talle mense huiwer op die grens van wanhoop en die redes daarvoor is legio. Die vraag kom onvermydelik: “Is dit nie omdat die evangelie van Jesus goedkoop geword het nie?”


Ons toets God eerder as om Hom onvoorwaardelik te vertrou. In plaas daarvan om met vertroue te loop waar God ons wil lei, onsself “beywer vir Sy wil”, word alles van die wêreld eerder verdra – waarheid, leuen, goed, kwaad, satanisme, towery, moord, misdaad, afgodery – daar is ruimte vir alles en almal mag praat, al is dit met geweld! Almal het ‘n reg en almal is reg. Die waarheid van “God se wil en Sy koninkryk” het ‘n relatiewe begrip geword en die grens tussen reg en verkeerd het vervaag.


Die fokus het van God na die mens verskuif – die self het “god” geword wat sy eie ding doen op sy eie manier en volgens sy eie wil en gewete – die klem van Jesus wat die Weg, Waarheid en Lewe is (Joh. 14:6), is verskuif na die persoonlike “self”. Om Jesus te volg in hierdie tyd het feitlik onmoontlik geword. Het dit nie miskien tyd geword om terug te draai na die God van die hemel toe nie? Het dit nie tyd geword dat ons weer die “Gees van die waarheid, moet toelaat dat Hy ons in die hele waarheid lei” nie?


As mens is ons gedurig op soek na iets. Die antwoord is eenvoudig: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Wie maak hierdie belofte? Jesus Christus, en dit is vir mense van alle tye bedoel. Daarom kan mense van alle eeue hulle hoop op Jesus vestig. Kom ons soek weer standvastigheid in die lewe – geestelike standvastigheid – kom ons laat die Heilige Gees toe om “ons in die hele waarheid te lei”, te laat besef dat Jesus GENOEG is.


Jesus Christus is die behoefte wat ons het, nie baniere wat lees “GENOEG IS GENOEG” nie, baniere wat na ‘n regering gerig is wat buitendien niks gaan doen nie!! Jesus Christus is die Krag vir ons lewe, die Noodkreet vir ons sekuriteit, ons veiligheid en Voorsiener van ons behoeftes! God se koninkryk het in die Here Jesus Christus gekom. Jesus het dit self bekend gemaak (Matt. 4:17). Aan sy koninkryk is daar geen einde nie. Ons toekoms is gewaarborg en dit sluit ‘n hemelse erfenis in. Dit is ʼn skat wat nie deur mot en roes vernietig kan word nie. Diewe kan ook nie daar inbreek en dit steel nie! Wanneer ons daagliks na “God se wil soek en ons beywer vir Sy koninkryk”, sal ons uitvind Hy is nêrens heen nie, Hy is by ons! Hy laat ons soms net van rigting verander, maar nie van bestemming nie!


“Oppas om te wanhoop aan jouself; jy word beveel om jou vertroue in God se wil te stel en nie in jouself nie” (Augustinus).


Gebed: Ons Vader, ek wil U wil, van dag tot dag met erns soek, vereer en vertrou. Here, ek kan nie eens altyd die woorde vind wat my diepste versugtinge verwoord nie, maar dankie, U Woord vertroos my. Alles wat ek nodig het en kan ervaar, sien ek dáár in letters en dat dit deel is van U spreke met my as mens. Ek sien dan dat ek allereers U koninkryk moet soek en dan sal U gee uit U oorvloed. Dankie dat U mooi na my kyk, ook die kere wanneer ek soms vergeet om na U op te kyk. Versterk tog my geloof en gee my U vrede. Sorg asseblief vir my toekoms, Vader. Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page