top of page
Search

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • May 27, 2019
  • 4 min read

Die St. Sergius kerk wat bo-oor die kelder gebou is waar, volgens oorlewering, Jesus en sy gesin gewoon het na hulle gevlug het Egipte toe. (Fotografie binne die kerk is ontoelaatbaar).

DIE VLUG NA EGIPTE TOE – GODDELIK BEPLAN!


Matt. 2:13-15 – “Nadat hulle (sterrekykers) vertrek het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: ‘Staan op, neem die Kindjie en sy Moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodus is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.’ Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy Moeder geneem en na Egipte toe vertrek en daar gebly tot die dood van Herodus. So is vervul wat die Here deur ‘n profeet gesê het: ‘Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”


Die Kindjie Jesus, is pas deur die sterrekykers as Koning gehuldig en aanbid, maar moet onmiddellik daarna in lewensgevaar uit die land weggeneem word. God gryp weer in en tree op om sy Kind teen die woede van Herodus te beskerm, deur ‘n engel in ‘n droom vir Josef te laat waarsku om te vlug na Egipte toe. Hoekom Egipte? Hulle “vlug na Egipte toe” omdat dit buite Herodes se magsgebied val en Matteus sien Egipte nie net as ‘n slawehuis van die volk nie, maar as ‘n toevlugsoord ook, byvoorbeeld: Jakob en sy familie het Egipte toe getrek as gevolg van ‘n uitmergelende droogte en hongersnood om hulle van uitwissing te red; Moses wat deur die Farao se dogter beskerm word nadat haar pa beveel het om alle Joodse seuntjies dood te maak.


Dit is opvallend dat Matteus hier uit Hosea 11:1 aanhaal en dit aan Jesus se verhaal koppel. “Uit Egipte het Ek my Seun geroep” sinspeel eintlik op die verlossing van die volk uit Egipte, maar Matteus gebruik hierdie aanhaling om die Jode te probeer oortuig dat Jesus wel die beloofde Messias was. God het Israel as sy “seun uit Egipte” van slawerny verlos om Sy verbond met Abraham te vervul, en hulle ‘n nuwe volk te maak; terwyl Jesus as sy “Seun uit Egipte”, ‘n nuwe mensheid uit alle nasies gaan begin.


Jesus Christus, die Seun van God, moet na die land van slawerny vlug. Daar is Hy veiliger as in Sy eie land? Hy moet uit Betlehem, die stad van Dawid, en in Egipte as ’n vlugteling gaan bly, as ’n vreemdeling sonder enige regte. Ons Verlosser, deur God se genade, is aan die genade van die Farao van Egipte oorgelewer omdat hy in Sy eie land geen genade kon vind nie. Herodes wil die Koning vermoor voordat Hy sy Messiaanse koninkryk kan oprig. Die Redder van die wêreld moet van die wêreld gered word. Maar, ten spyte van alles, God is steeds in beheer. God self stuur Jesus en Sy ouers eers op hierdie pad van vernedering, waar hulle gaan beleef het wat dit beteken om ontwortel te wees, hoe moeilik dit moet wees om in die vreemde werk te kry, ‘n huis te kry, kos op die tafel te sit, vir ‘n kind te sorg.


Jesus se vernedering is ons verhoging. Christus is na Israel se slawehuis as vlugteling geneem om my en jou van alle sonde-slawerny vry te maak. "Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het" (Eks. 20:2), beteken dat God daardie werklikheid vir ons moontlik gemaak deur Jesus wat ons uit die slawerny van sonde en satan bevry het. Daarom kan ons leef as bevryde kinders van God en moet vlug van die sonde af en nie weer ‘n slaaf daarvan word nie. Uit dankbaarheid kan ons die pad van verlossing volg, op pad na die volkome verlossing na siel en liggaam. God het ons uit die slawerny van die sonde geroep sodat ons Hom in vryheid kan dien.


Ek en jy is nie maar sommer net hier nie. Die groot Outeur het ook ons lewensverhaal geskryf en die titel daarvan is: GODDELIK BEPLAN! God het ons lewe beplan soos Josef in sy droom waargeneem het. Hy het in sy droom “detail” ontvang “wat hy moet doen, wanneer hy dit moet doen, hoekom hy dit doen en selfs vir hoe lank hy dit moet gaan doen." Hy moes God net vertrou! Dit is hoe God ook met ons wil werk. Indien ons Hom vertrou en gehoorsaam Sy leiding volg, gaan ons ook op plekke kom waar Hy ons wil gebruik, al sluit dit ontwrigting en ontworteling in. Jesus het dit deurgemaak, Hy het in die vreemde beleef om niks te besit nie, tog het God voorsien! Wanneer ons God gehoorsaam, raak ons lewenspaadjie al hoe duideliker want “dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is” (Jer. 17:7).


“Vertrou op God, Hy sal jou wakker hou met die uitvoering van die pligte waartoe Hy jou roep sodat jy in vrede kan gaan slaap en weer kan opstaan in Sy glorie” (John Donne).


Gebed: Dankie Jesus dat ek myself met U kan identifiseer. U het reeds ál die praktiese ondervinding hier op aarde kom deurmaak sodat ek maar net daaruit kan leer en U in gehoorsaamheid en dankbaarheid kan volg. Dankie hemelse Vader dat U vir my ook tyd maak terwyl U die heelal het om te bestuur. Ek is nie altyd getrou in die uitvoering van U wil nie, maar U bly getrou om wat U besluit het, te laat gebeur. Gees van God, help my om nie iets uit eie krag te probeer doen nie, maar uit dankbaarheid U eindelose genade wat my oral volg, te aanvaar en te vertrou. Dankie Here, dat U in beheer is, ons kan maar rus in U heerskappy. Amen.


 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2)   Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...

 
 
 

Commenti


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page