E-Kerk : Gedagte vir Vandag

BESOEK UIT DIE OOSTE (5) – TERUG NA ELKEDAG SE LEWE!
Matt. 2:12 – “En omdat God hulle (die sterrekykers) in ‘n droom gewaarsku het om nie na Herodus toe terug te gaan nie, het hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan.”
God kom openbaar Hom weer in ‘n droom, hierdie keer nie aan Josef wat aan die wet van Moses getrou was nie, maar aan heidene wat pas die Lig van die lewe ontdek het. God gryp in en bevestig dat Herodus se voorneme vals was en verhinder die sterrekykers om medewerkers van Herodus se bose planne te word. Ons hoor nooit weer van die sterrekykers nie, net dat “hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan het”, seker terug na hulle elkedagse lewe. Die vreugde van hulle vonds van die Koningskindjie is verby en het moontlik ‘n ewige en mooi herinnering by hulle gelaat. Een ding is vir seker: Ek glo hulle was nooit weer dieselfde nie want wanneer Jesus Christus jou lewe aanraak, verander jy vir altyd.
Vir hulle was die vreugdefees miskien verby, daarenteen wéét ons wat destyds gebeur het, sal altyd weer gebeur. Hulle vreugde was nie net beperk op die vonds van die Koningskind nie, maar iets wat mense blywend inspireer. Ons kan maar net dink, in ons diepste wese, hoe hierdie wêreld sou gelyk het as Jesus nie as mens gebore was nie. Wat sou dalk gebeur het indien hierdie sterrekykers teruggegaan het na Herodus? God se plan met die verlossing van ons sondaars en ons versoening met Hom, sou dalk daar en dan gestop het. Maar hulle “het met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan”, sodat die geheim wat eenmaal as ‘n Kindjie in ‘n krip gelê het, vandag in die hart en mond van gelowiges sal lê.
Dit bevestig ons van die onmeetlike liefde van God vir die wêreld – ‘n liefde wat só oneindig groot is, dat dit God beweeg het om aan die sondige mensdom die grootste geskenk denkbaar te gee: Sy eniggebore Seun! Daar is in die ganse heelal niks wat vergelyk kan word met hierdie onpeilbare en allesomvattende liefde van God nie. Allesomvattend want ons is in staat om “saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” (Ef. 3:18). Dít is die rede waarom die sterrekykers van rigting verander het. Elke oor moet van Jesus Christus hoor, elke oog moet Hom sien, selfs kinderoortjies en kinderogies. As dit nie gebeur nie bly ons vassteek by ‘n mooi Kersverhaal, vassteek by geskenke om ‘n Kersboom, vassteek by Kerskaartjies van liewe Jesus in ‘n krip, al die kos, blinkertjies, Kersmusiek. Alles romantiek wat nie heeltemal strook met die werklike Bybelverhaal nie.
Om Jesus se geboorteverhaal, oftewel die Kersverhaal, ‘n werklikheid te maak, moet ons in geloof die evangelie van die Kindjie aanvaar, nie net beleef tydens Kerstyd nie, maar elke dag waar ons onsself op ons pelgrimsreis bevind. Elke dag soos die sterrekykers voor Hom “kniel en aan Hom hulde bewys”. Elke dag Hom in dankbare lofprysing en verwondering oor Sy grootse liefde, styf aan ons bors vasdruk. Elke dag vir God dank vir die ster in Betlehem, bedank dat Hy sterrekykers die pad gewys het na die Kind in die krip, bedank dat Hy hulle rigting verander het. Bedank dat die koms van die Prins van die hemel, die Kindjie in die krip geword het en mense en engele in beweging gebring het, sodat hierdie Kindjie wat eenmaal in ‘n krip gelê het, vandag in die mond en hart van elke gelowige leef. Indien dit nie só is nie, bly Hy ‘n Kerspakkie wat mooi toegedraai is in die Bybel- en Kersverhale.
“Hulle wat Christus nie in hulle harte het nie, soek dit tevergeefs toegedraai in geskenkpapier onder ‘n Kersboom” (Roy Smith).
Gebed: Hemelse Vader, saam met die liedjieskrywer wil ons juig en bly wees: “Tussen doeke lê die Kind, in ‘n krip so need’rig. Laat ons al die lof en dank bring aan Hom vir ewig.” (Lied 340:2). Dankie Heer dat U die geskiedenis van U Kind wat eenmaal in ‘n krip gelê het, vandag in die mond en hart van elke gelowige laat leef. Ons bid dan ook vir hulle wat nog soekend is na Jesus, wat sondaars tot regverdiges verklaar, dat hulle selfondersoek, na Jesus toe dryf want alleenlik by Hom, is waar hulle vergifnis en krag ontvang. Plaas hulle onder die soeklig van die Heilige Gees sodat hulle kan besef: Die Here regeer! Amen.