top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE GESLAGSREGISTER VAN JESUS CHRISTUS (2) – DRIE STADIUMS!

(Luk 3:23-38)


Matt. 1:12-17 – “En na die Babiloniese ballingskap was dit so: Jojagin was die vader van … Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word. Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap tot by Christus.”


Geslagsregisters was vir die Jode verskriklik belangrik want dit het duidelik aangetoon wat hulle posisie in die uitverkore volk van God was. In hierdie eerste sewentien verse ontmoet ons 46 mense wat oor ‘n tydperk van ongeveer 2 000 jaar geleef het, mense wat Matteus vir ons aandui as die voorouers van Jesus Christus, mense elk met hulle eie persoonlikhede, ervarings en geestelike lewe wat geweldig verskil. Die feit dat Jesus ‘n geslagsregister het, wys vir ons dat Hy nie maar net soos ‘n mens gelyk het nie, maar dat Hy regtig mens was.


Matteus dui ook ‘n skema van drie maal veertien geslagte aan, wat op simboliese wyse uitdrukking gee aan God se beheer in die geskiedenis van Sy volk. Ook hier gaan dit oor die evangelie van God se trou, die trou van God oor geslagte heen, hoe Hy Hom oor jare verbind het aan hierdie wêreld, en die mense van hierdie wêreld nie prysgegee het nie. Dit is juis in ooreenstemming met die belofte wat die Here aan Abraham gemaak het: “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen. 17:7). Dit is die kern van die Abrahamitiese verbond wat alle gelowiges insluit, ‘n blywende verbond waarin die hele Evangelie van die verlossing van Jesus Christus lê.


Wat wil Matteus vir ons sê deur te verwys na drie maal veertien geslagte? Ons moet onthou dat Matteus onder leiding van die Heilige Gees vir ons hierdie statistieke weergee. Eerstens gaan dit nie oor 14 name vanaf Abraham tot Dawid, Dawid tot ballingskap en ballingskap tot Christus nie, want daar was nie 14 name in elke periode nie. Hy verwys na periodes van geslagte. Destyds is ‘n geslag gereken op ongeveer 42 jaar – veertien geslagte is dus ongeveer 588 jaar – daarom, vanaf Abraham tot Dawid was ongeveer 588 jaar; vanaf Dawid tot ballingskap was ongeveer 588 jaar en vanaf ballingskap tot Christus was ongeveer 588 jaar – periodes van geslagte dus.


Hierdeur onderstreep Matteus die gelykwaardigheid van die drie periodes. Met respek Matteus, “so what?” Wat beteken dit vir ons in die 21ste eeu? Daar is hierin ‘n simboliese les vir ons: Die eerste periode neem ons tot die einde van Dawid, die man wat die Joodse volk tot ‘n kragtige volk gelei het, die man wat gereken was as Israel se grootste koning ooit; die tweede periode verval die einste kragtige volk tot feitlik niks, ‘n ballingskap-volk van skaamte en skande, tragedie en rampe; die derde periode neem ons na Jesus Christus, die Man wat die mens verlos van sy skaamte en skande, wat tragedie en rampe verander in triomf, in oorwinning!


Die mens was geskep om as God se verteenwoordiger, Hom te behaag, deel te wees van Sy gesin, van Sy Koninkryk. Maar die mens het deur die sonde van die wêreld verval in sy eie verganklike koninkrykie, ons eie koninkrykie wie se hele lewe sentreer rondom my eie onheilige drie-eenheid: EK, MY, MYSELF. Tragies eintlik want koning mens verander toe in ‘n slaaf, ‘n slaaf van die sonde. Maar gelukkig eindig dit nie daar nie, God verander die tragedie in oorwinning, op Sý tyd: “Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur” (Gal. 4:4)God is aan die werk in Sý tyd! Jesus Christus het ons deur Sy Gees van ons troontjie, wat in die middel van ons eie drie-eenheid staan, kom verwyder sodat ons weer in kameraadskap met God kan verenig. Ons plig is om daarop voort te bou, om sodoende ons kameraadskap met God te behou.


“In his genealogy Matthew shows us the royalty of kingship gained; the tragedy of freedom lost; the glory of liberty restored. And that, in the mercy of God, is the story of mankind, of each individual man” (William Barclay).


Gebed: Here, dankie dat ek ook deel is van Matteus se geslagsregister. Ek moet egter erken, en U weet dit, dat ek ook eintlik deel was van die tweede periode, ‘n periode wat deur slegte dinge gekenmerk is. Dankie Jesus dat U die kettings van die sonde kom breek het, die sonde-dwaalspoor waarop ek my bevind het en eintlik op pad was na die ewige doderyk. Dankie dat U my van my eie troontjie kom verwyder het en my gerig het om myself aan God af te staan. Heilige Gees, kom rig asseblief my dade, my denke en my energie op die Here. Maak my lewe tot sieraad vir God. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page