E-Kerk : Gedagte vir Vandag
PAULUS SE PLAN OM ROME TE BESOEK (7) – DIE SAGTE VOETSTAPPE VAN VREDE!
Rom. 15:32-33 – “En as dit die wil van God is, sal ek vol blydskap na julle toe kom om ‘n tydjie by julle te rus. God wat vrede gee, sal by julle almal wees! Amen.”
Vergelyk ook Joh. 14:27 – “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie.”
Paulus hoop dat as die kommervolle besoek aan Jerusalem agter die rug is, hy vol blydskap na Rome sal kan reis om daar ’n tyd lank by die gelowiges te rus. Ons hoor in hierdie versugting, die spanning van sy arbeid en die verlange na rus wat daarmee saamgaan. Maar hy stel sy eie begeerte ondergeskik aan die wil van God. “As dit die wil van God” is, sal hy dan “vol blydskap na hulle toe kom om ‘n tydjie by hulle te rus.” Die blye gevolg van die Romeinse Christene se gebede vir hom, sal indien dit die wil van God is, uiteindelik sy “jarelange begeerte om hulle te besoek”, verwesenlik.
Paulus sluit hierdie gedeelte met ’n seënbede af. God is “die God wat vrede gee”, want Hy is die enigste bron van ware vrede. Egte vrede kan ’n mens net ken deur die versoening wat Christus bewerk het (Rom. 5:1). Dit is ’n vrede met God, maar ook met die broers en susters (Rom. 14:17-19), en uiteindelik ’n vrede met ’n mens self en met God se beskikking oor die verloop van ons eie lewe en die geskiedenis van Sy gemeente. Paulus bevestig dit met ‘n “Amen” om uitdrukking te gee aan sy gelowige aanvaarding en vertroue dat God deur Sy genade by die Romeinse Christene sal wees en aan hulle Sy vrede sal gee.
Iemand het gesê: “Vrede is liefde wat rus gevind het in God.” Verruklik, want vrede word toegeskryf aan al drie Persone van die Drie-eenheid: God die Vader is God wat vrede gee (1 Tess. 5:23); God die Seun is die Prins van vrede (Jes. 9:6) en God die Heilige Gees skep vrede in ons hart en lewe (Gal. 5:22). As gelowiges besit ons hierdie vrede wat die Drie-eenheid ons skenk, en niks en niemand kan dit van ons af wegneem nie.
Wanneer die kind van God se saak met ons “God wat vrede gee” reg is, verdryf Jesus se vrede in die mees ontwrigte omstandighede, alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees. Die vrede wat die wêreld gee, hang af van omstandighede, gewoonlik ’n afwesigheid van stryd, oorlog of onenigheid, ‘n vrede wat kortstondig en onseker is; gewoonlik niks meer as ’n tydelike hoop op vrede nie. Maar Jesus skenk die vrede as ’n werklikheid wat nie aan omstandighede gebonde is nie en vir ewig hou.
Die Heilige Gees skep in ons gelowiges ‘n ander perspektief op die lewe – ons sien ander dinge raak wanneer ons na ons eie lewe kyk, want as kind van God kyk ons deur die oë van God. Die aardse dinge is skielik dan nie meer belangrik vir my nie maar eerder hoe my verhouding met God daar uitsien.
Stres en spanning is vandag twee begrippe wat deel geword het van die veeleisende en gejaagde lewe waaraan die mens onderwerp en blootgestel word. Maar Christus het kom mens word sodat Hy die toetse van die aardse lewe kon ervaar, en uit liefde, almal wat oorlaai is, almal wat ontsteld of bang is, uitnooi om Sy vrede te ontvang want “net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my redding, my veilige vesting” (Ps. 62:2-3).
Tydens die seereis van die lewe bevind ons onsself soms op onstuimige waters terwyl die golwe van satan en sy bose trawante, onophoudelik poog om ons lewensbootjie stukkend te slaan. Tog is ons gelowiges, diep in ons wese, deel van Jesus se vrede, die vrede wat ons by die voet van die kruis ontvang het. Dit verseker ons ware vrede want Christus is ons anker in die storms wat in hierdie lewe om ons woed. En daardie anker, is agter die voorhangsel, wat skeiding gemaak het tussen God en ons, ingekap toe Jesus aan die kruis gesterf het en dit middeldeur geskeur het.
“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle” is Jesus se nalatenskap in Sy testament wat Hy aan ons as gelowiges gegee het, niemand kan hierdie vrede van ons af wegneem nie want Sy testament is vir ewig bindend!
“Die vrede wat die wêreld gee, is ‘n tydelike vrede van ontvlugting. Die vrede wat Christus gee, is nie ‘n vrede van ontvlugting nie, maar van oorwinning, ‘n vrede wat geen konflik of probleem ons kan ontneem nie” (William Barclay).
Gebed: Here, die wêreld om my is oorweldig met onrus en geweld wat werklike vrede net ‘n begrip maak en nie meer ‘n waarheid nie. Ons smag na vrede, daardie vrede wat van Uself kom. Dankie vir die innerlike sielevrede wat U aan my gee, ‘n vrede wat niemand van my kan wegneem nie want ek ken die Vredevors. Leidsman na vrede, regeer ons lewe en gee aan ons U vrede. Amen.