top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


MOENIE JOU BROER VEROORDEEL NIE (1) – ONS IS DEEL VAN DIE UNIEKE DRIE-EENHEID!


Rom. 14:1 – “Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil.”


Vergelyk ook Joh. 17:11b – “Heilige Vader, bewaar hulle in U Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees.”


Paulus behandel in die hierdie gedeelte, tot by hoofstuk 15 vers 13, die hantering van verskille oor “kantlynsake”, sake waaroor die Bybel nie duidelik uitspraak gee nie, maar waaroor meeste gelowiges sterk standpunt inneem. Die hartseer is dat hierdie verskil in standpunte deur die eeue, in sommige gevalle, selfs in kerke tot verdeeldheid gelei het en vandag steeds die botoon voer oor God se liefde en vryspraak.


Eerstens rig Paulus hom tot die lidmate van die gemeente wat “sterk” is in die geloof, waarskynlik nie-Joodse Christene en wat soveel beter in staat was om hulle “swakker” gemeentelede tegemoet te kom. Die “swakkes” het ‘n Joodse agtergrond gehad en dit was vir hulle moeilik om met hulle Joodse seremoniële verlede en wette te breek. Die “sterkes” kon dus makliker hulle “swakker” broers en susters tegemoet kom omdat daar by hulle nie sprake van verloëning van seremoniële beginsels was nie.


Paulus gee eintlik opdrag dat ons nie oor en weer oor mekaar se gevoelens moet oordeel nie. Dit gaan in hierdie geval nie oor ‘n sondige standpunt nie, maar om ‘n verskil in beoordeling van bepaalde dinge. Wat hy op ons harte wil druk, is dat ons andersdenkende medegelowiges ten spyte van verskille, in liefde en sonder om met hulle oor hulle gewetensbesware te redekawel, te “aanvaar.”


God is ‘n God van eenheid, daarom hoor ons Jesus herhaaldelik bid in Sy hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 dat “ons een kan wees soos die Vader en die Seun één is.” Jesus het geweet dat satan sou probeer om die kerk deur verdeeldheid te wil vernietig, daarom het Hy ernstig gebid dat die kerk ‘n verenigde liggaam sou wees sodat God sy werk op aarde deur ons kan doen. Feit bly egter dat die prentjie wat ons sien wanneer ons deur ‘n dorp of stad ry, sommer in een straatblok ‘n verskeidenheid kerkgeboue, die teendeel van ‘n verenigde liggaam bewys.


Satan ken ook die verenigde krag van gelowiges, daarom is hy desperaat om ons uitmekaar te dryf. Hy verheug hom wanneer lidmate oor nietighede stry en in onmin saamleef. Wanneer satan slaag, word God se mense oneffektief. As gelowige kinders van God moet ons veg teen verdeeldheid. Wanneer verdeeldheid sy kop uitsteek, moet ons Jesus se gebed van Johannes 17 met ons hele hart saambid dat die broederskap van ons gelowiges belangriker is as verskil in standpunte. Die goeie nuus is dat Jesus steeds vir ons bid en vir ons intree by ons Vader. Hy wil nie dat een van ons deur die wêreld ingesluk word en verlore gaan nie.


Die motivering van Jesus se gebed is die feit dat Hy sy werk op aarde reeds as afgehandel beskou het en op die punt gestaan het om die wêreld te verlaat en na die Vader terug te keer. Sy dissipels en ons wat agtergebly het, is gelaat met ’n besondere sending. Ons “Heilige Vader”, sal die gelowiges in heiligheid bewaar en ons afsonder van die sonde van die wêreld sodat ons in hierdie bewaring, “in sy Naam” getrou bly. Ons het deel geword van ‘n unieke Eenheid, dieselfde gehalte as die misterie van die eenheid “net soos Ons, (Vader en die Seun), een kan wees”. In hierdie verborgenheid word ons dan lede van dieselfde Liggaam wat ordelik mekaar moet aanvaar: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe” (Ef. 4:3). Is dit nie wonderlik nie? Ons word deel van die Unieke Drie-eenheid en word dan heeltemal vervul met die volheid van God (Ef. 3:19)!


Ons word deur die Heilige Gees geroep tot ‘n intiemer omgang met Hom en dit gaan gepaard om die eise van ‘n Christelike lewe te aanvaar in gehoorsaamheid aan Hom. Dit is daarom elkeen van ons se eie verantwoordelikheid om hierdie unieke verhouding met die Drie-eenheid, uit te bou. Dit is net jy wat meer tyd kan maak om geloof te dóén – Bybelstudie, kerk bywoning, gebed en dissiplines toe te pas wat nodig is om ‘n sinvolle geestelike lewe te ontwikkel en sodoende geestelik te groei om die vreugde van oorwinning in Jesus Christus, te ervaar en “dié een wat in die geloof swak is, te aanvaar”, ons Christusharte vir hulle oop te stel en hulle sonder voorbehoud as medebroers en -susters erken.


“Ons kan ons as Christene nie genoeg verootmoedig oor die skeuring en tweedrag wat deur die eeue in die kerk van Christus bestaan het nie; dit is ‘n sonde teen God, in stryd met die bede van Christus, en word veroorsaak deur die duisternis van ons verstand en die liefdeloosheid van ons hart” (JH Bavinck).


Gebed: Hemelse Here, dankie dat ek deel kan wees van U liggaam. Maak my geestelik sensitief en opreg met my verhouding tot U. Laat my gedurig verlang na ‘n knaende dieper verhouding met U. Hou my vas sodat ek die pad na oorwinning nie byster raak nie. Neem beheer van my lewe want ek is kwesbaar en weerloos op my eie. Vul my met liefde, hoop en krag sodat ek kan wees wat U wil hê ek moet wees. Help U kerk op aarde om verenig op te tree sodat U koninkryk ook op aarde sal kom, net soos in die hemel. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page