E-Kerk : Gedagte vir Vandag
RIGLYNE VIR DIE CHRISTELIKE LEWE (12) – HOE KAN EK LIEFHÊ WAT MY LEWE VERWOES?
Rom. 12:20 – “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”
Paulus, jy raak nou ‘n bietjie erg! Van in vrede leef, nie weerwraak neem nie, en nou wil jy op die koop toe hê ons moet ons vyande versorg as hulle honger of dors is? Dit druis hééltemal in teen my normale lewensbenadering. Ek kan miskien nog sover kom om nie weerwraak te neem nie, maar menslik gesproke is dit onmoontlik om persoonlike kontak met my vyande te gaan maak. Daar is nie ‘n manier dat ek my goeie tyd, gawes en geld aan hulle gaan bestee nie! “Mag ek jou herinner: Jesus het vir jou gesterf toe jy nog Sy vyand was (Rom. 5:10) en Sy Gees woon nou in jou (Rom. 8:9). Jy gaan self dit nooit alleen regkry nie maar die Gees gaan jou verander om selfs vir diegene om te gee met wie jy hoegenaamd nie oor die weg kom nie.”
“Kan ek jou ook herinner aan die feit dat terwyl Jesus aan die kruis gehang het en te midde van die ontsettendste pyn en skok, nie aan Homself gedink het nie, maar aan die moordenaar langs Hom, aan Pilatus wat Hom laat ly het en oorgelewer het om gekruisig te word, die soldate wat Hom tereggestel het, en nogtans kon sê: 'Vader vergeef hulle ...!' " Die onmoontlikheid van vyandsliefde is vir mense wat mekaar wil verskeur, slegs moontlik op die basis van die kruisliefde.
Een van die wonders van die kruisliefde, die evangelie van liefde, is dat baie mense met wie die allerverskriklikste dinge gebeur het – geliefdes vermoor is, kinders of vrouens verkrag is, mense wie se eie waardes vernietig is, mense wie ineenstort na al die trauma – tog diegene wat ‘n bloedspoor deur hulle lewens gelaat het, kan vergewe. Hulle kon selfs verder gaan en hierdie “vyande” liefhê! Elkeen van hulle se getuienis wanneer dit gebeur het, is soos ‘n refrein: “Dit was nie ek nie, God het dit laat gebeur!” Aangrypend! Wanneer ons met ons woede en haatgevoelens, ons nood, ons smart, ons onvergewingsgesindheid na Jesus gaan, troos Hy: “Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring” (Ps. 94:18-19).
Jesus Christus weet dat ons van nature geneig is om ons geweldige woede toe te laat, om ‘n spreekwoordelike muur om ons te bou. “Ons word egter nie deur ons sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in ons ...” (Rom. 8:9a). In hierdie sondeverskeurde wêreld lyk dit vir ons asof die mensdom ‘n algehele morele en geestelike laagtepunt bereik het. Die eenvoudige waarheid is dat dit onmoontlik is om ‘n praktiese Christenlewe te leef sonder dat die Gees van Christus in ons hart en lewe teenwoordig is.
Jesus kom nou met ‘n troefkaart hoe ons wat deur die Gees beheer word, moet optree. Hy het selfs vir Sy vyande, aan die kruis gesterf met ‘n gebed van vergifnis vir hulle wat Hom nie liefgehad het nie. As Sy nuutgemaakte kinders dink en tree ons met ‘n ander gesindheid op teenoor ander. Ons herken die vyand (satan) se leuens en tree met onderskeidingsvermoë daarteenoor op. Ons bly standvastig as kinders van God ten spyte van fisiese of sielkundige mishandeling deur ons aardse vyande. Ons bid selfs vir hulle dat hulle dieselfde vreugde, vrede en liefde van God sal ken en ervaar as ons.
As Christus ons vrede is, beteken dit dat ons harte vol vrede moet wees. Hierdie vrede vind neerslag in elke faset van ons lewe, ons gemoed en denke, ons wil, ons alles – is daarvan deurdrenk, want “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor ons harte en gedagtes die wag hou” (Fil. 4:7).
Daarom is ons liefde vir ons vyand, God-gesentreerd. Ons vestig ons hoop, liefde, vrese, geluk, ons alles, op Hom – Hy is ons voortbestaan. “Ons moet daagliks streef om ter wille van ander, ‘n mens te wees omdat ons ter wille van God, ‘n mens is!” (Ds. Johan Smit). Ons kan nie, nee, ons mag nie, self-gesentreerd wees nie. Dit is om ‘n afgod van onsself te maak. Deur God se genade het ons die Heilige Gees ontvang wat ons daagliks toerus om die doel wat Hy vir ons het, te bereik. “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle aanvaar het, tot eer van God” (Rom. 8:14; 15:7).
“Wedersydse vyandigheid is belaglik. Elke mens huisves pyn en hartseer. Ons het mekaar nodig” (H.W. Longfellow).
Gebed: Here, waar begin ek as mens om aan my verwarde emosies uiting te gee? My oorgeërfde natuur is dikwels ‘n slaaf van afbrekende gewoontes, want die wêreld om my leef in onreg, die selfbeskermende muur wat ek om ons familie probeer bou het, is besig om te verkrummel. Hoe kan ek bid vir die koms van U koninkryk, terwyl ek nog in my eie koninkryk vasgevang sit, want Here, U opdrag om vir my vyande lief te wees is vir my as sondaarmens onmoontlik? Dankie dat U deur U Gees my egter nuut maak. Ek hoef nie meer te twyfel in my kindskap nie want U het dit as genadegawe aan my geskenk (Rom. 6:23). Nou kan ek ook ‘n instrument van U liefde wees en soos een van U kinders optree. Ek kan lewe as ‘n nuwe mens wat na die beeld van U geskep is (Ef. 4:24). Amen.