E-Kerk : Gedagte vir Vandag
- Koos Espach
- Jan 11, 2019
- 3 min read

AAN GOD DIE EER (2) – EWIGE TEENWOORDIGHEID VAN GOD!
Rom. 11:33b-34 – “Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! ‘34Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?”
Paulus besing selfs God se oordele, en hier verwys hy nie na God se oordeel en straf oor sonde nie, maar aan God se beskikking en leiding in die geskiedenis van die mens. God se weë is onnaspeurlik daarom sal ons nooit begryp presies hoe en waarom God handel soos Hy handel nie, ons sal nooit tot op die bodem van God se handelinge kan deursien nie. God se gedagtes is ver verhewe bo ons gedagtes en Hy is vry in Sy besluite, niemand kan Hom daarin beïnvloed nie. Daarom kan ons telkens verbaas staan wanneer God ons onverwags verras met Sy goedheid en genade.
Niemand kon God leer om dinge te doen nie. Hy het geen raadgewer gehad toe Hy soos ‘n Boumeester die skepping beplan en die bouwerk perfek voltooi het nie. God is die Skepper van die heelal! Hy het met die skepping elke keer ‘n woord gespreek en alles het ontstaan. Hy is groter as die heelal en is orals teenwoordig. Ons sal nooit alles van God weet of Sy weë verstaan nie. Indien dit moontlik was, sou “ons soos God wees deurdat ons alles ken” (Gen. 3:5b). En ons weet wat het met Adam en Eva gebeur nadat hulle ongehoorsaam aan God se bevel was en probeer het om soos God te wil wees. As ons God se handelinge kon verklaar, was Hy nie God wat in beheer is van álles nie.
God weet die beste! Ons besef dit en getuig ook daarvan wanneer dit goed gaan. Maar wanneer ons oorval word deur twyfel en verwarring, deur moeilike finansiële krisisse gaan, moord-, roof-, verkragtings-, droogtes in die gesig staar of deur swak gesondheid geteister word, verander ons loflied in ‘n treurmare en loflied verander in klaaglied: “Hoekom gebeur dit met goeie mense, ons verdien dit mos nie?” Een van die geloofstoetse is om onvoorwaardelik te aanvaar dat God die beste weet, dat Hy by jou is, al voel jy soos ‘n sandkorrel of ‘n stoffie op aarde, Hy gee om, Hy is altyd by jou, Jesus het dit self beloof: “God sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid” (Joh. 14:16b-17).
God is altyd dieselfde. Hy is ’n bron van goedheid, genade en redding, daarom kan ons Hom elke dag loof. God is nog steeds in beheer waar daar op die oog af geen beheer is nie. “Wie ken die bedoeling van die Here?” God is bestendig, Hy verander nie saam met rampe en onsekere mense nie. Moet Hom nie soek in die dinge wat skeefloop nie, maar in Sy onveranderlike goedheid; in Sy standvastige goedheid wat deel is van elke neerdrukkende situasie wat jy waarneem. Die wêreld is vol Christene wat moed verloor het en opgehou het om te probeer wees wat God wou hê hulle moet wees. Mislukkings het deel van hulle leefwyse geword, hulle besef nie dat alle Christene die een of ander tyd, mislukkings ervaar nie.
Die tragedie is nie mislukking nie, maar onwilligheid om op te staan en met die hulp van die Heilige Gees, wat in ons woon, weer te kan begin. Afgesien van wie jy is en wat jy verkeerd gedoen het, dit is nooit te laat om na Jesus te draai nie. Sy arms wat uitgestrek was aan die kruis, en Sy spykerdeurboorde hande, is uitgestrek om jou vas te gryp. Steek jou hande uit, laat toe dat Hy jou vang. “Sy weë is onnaspeurlik”, Hy sal jou oplig uit die modder van wanhoop waarin jy verval het, totdat jy êrens tussen hemel en aarde sweef en jou in die heerlike werklikheid van Sy teenwoordigheid bevind. Dáár kan niemand jou benadeel nie want dáár is die volheid van God se genade en dáár vind jy die Heilige Gees se leiding.
“Daar is geen moment waarin ons God nie kan en behoort te dank vir Sy teenwoordigheid by ons en die liefde waarmee Hy ons voortdurend dra en omring nie” (Prof. Wille Jonker).
Gebed: Dankie Here dat U altyd die beste weet. Dankie Gees dat U altyd by my is, dat ek as verloste mens in U goeie hande is. Al “klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas” (Ps. 139:8-10). Here, ek sal U loof, U weldade roem, want ek vertrou op U goedheid, getrouheid en liefde en ek sal my gemoedsrus handhaaf want ek weet U is altyd by my. Amen.
Comments