E-Kerk : Gedagte vir Vandag

NIKS KAN ONS VAN DIE LIEFDE VAN CHRISTUS SKEI NIE (4) – GLO IN CHRISTUS EN LEEF!
Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.”
Vergelyk ook Joh. 3:17-18 – “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”
Met Paulus se vierde vraag: “Wie kan ons veroordeel?”, is dit onteenseglik dat niemand teen God se regverdigverklaring (v. 33), appél kan aanteken nie. Daarom kan niemand ons uitverkorenes veroordeel nie. Hoe skuldig ons ook in onsself mag wees, glo ons opreg dat Christus Jesus vir ons gesterf het. Behalwe dat Christus vir ons deur Sy soendood van skuld bevry het, is daar nog meer as dit: “Hy is uit die dood opgewek en Hy sit aan die regterhand van God, waar Hy vir ons pleit”.
Christus se opstanding is in ’n bepaalde sin méér as Sy sterwe, omdat dit die triomf van God se genade oor sonde en dood openbaar. Dit beteken ook dat die heerskappy aan Hom gegee is: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde” (Matt. 28:18). Is dit nie wonderlik nie: Eers was dit die Gees wat vir ons pleit (v. 26), en nou is dit Christus! Wat meer kan ons vra?
Deurdat God vir Jesus Christus opgewek en in die hemel opgeneem het, het Hy bewys dat die reg aan Jesus se kant is, en dat alles wat Jesus verkondig het, die werklike geregtigheid was. Die voordeel lê daarin dat Jesus verheerlik is in die hemel om heerskappy te voer oor álle dinge, en verder dat Hy dan die Heilige Gees gestuur het wat altyd by Sy volgelinge, by ons, sal bly. Nou kom die Gees van die Waarheid en bewys oortuigend dat sonde in sy wese, daarin bestaan dat daar nie in Jesus geglo word nie. Die verwerping van Jesus Christus is sonde, en daaraan is die wêreld skuldig.
Elke mens word voor ’n beslissing gestel. Hy kry die geleentheid om te glo in Jesus Christus of om Hom te verwerp. Op grond van die mens se keuse kom daar skeiding want sommige weet nie wat geloof is nie. Die Hebreërskrywer het ‘n poging aangewend om geloof te definieer in Heb. 11:1; Oswald Chambers het in die 19de eeu al gesê: “Geloof kan nie gedefinieer word nie, dit is ‘n geskenk van God self, waarvan ek net kan sê dat dit my die vermoë gee om God agter alles te sien, en wat my vul met die verwondering van ‘n kind”; Martin Luther se weergawe: “Geloof is om te sien wat jy nie sien nie, en nie te sien nie, wat jy wel sien”. Daar is ook al duisende boeke deur die eeue oor geloof geskryf – soveel boeke, soveel menings, soveel definisies!
Jesus stel dit eenvoudig in die Boek van die lewe: As jy nie in Hom glo nie sal jy die gevolge van die oordeel moet dra. Jy hoef nie eers te wag tot die oordeelsdag om dit te hoor nie. As jy “nie in Jesus glo nie, is jy reeds veroordeel omdat jy nie in die enigste Seun van God glo nie.” Ons weet dus in Wie ons moet glo, maar wat is geloof? Geloof is nie 'n lekker gevoel of 'n werk wat ek moet doen nie. Geloof is om die geskenk van God se genade met leë hande te ontvang. Ek kan niks tot my verlossing bydra nie. Dit werk nie so dat hoe meer ek glo, hoe meer sal Christus vir my aan die kruis sterf nie. Geloof is nie net om te wéét dat Christus vir my aan die kruis gesterf het nie, dit is om Hom met my hele lewe te vertrou, om ‘n persoonlike verhouding met Hom te hê.
Kan ’n mens ’n passie vir God hê as jy nie glo in Jesus Christus nie? Kan ’n mens ’n passie vir God hê as jy nie seker is van jou verlossing in Jesus Christus nie? Nee!! Jesus sê vir ons dat ons geloofsekerheid kan hê en in duidelike taal beklemtoon Hy dit in Johannes 3:16: “... sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Ek gaan nie hemel toe omdat ek so 'n goeie Christen is nie. Ek gaan hemel toe omdat ek die beloftes van die Woord persoonlik aanvaar het. “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie”. Vir dié wat in Christus is, is daar geen veroordeling nie. Ons wat in Christus glo kan uitsien na die oordeelsdag, want die oordeel oor sondes is reeds deur Christus gedra. Die oordeel gaan daaroor of ons in Christus glo. Sy kruis staan bo-oor ons sondes geskryf!
"You think of Jesus as the Judge who is there to condemn; and well he might for he has won the right. But you are wrong; he is not there to be our prosecuting counsel but to be the advocate to plead our cause" (William Barclay).
Gebed: Here, Paulus sê vir my dat ek nie teleurgestel sal word as ek in Jesus Christus glo nie. Dit is wonderlik om te luister na dié wat die goeie boodskap van die Woord bring, te luister na hulle wat deur U gestuur word om te preek. Wanneer hulle preek hoor ek van U en dit bring my tot geloof in U sodat ek U kan aanroep (Rom. 10:11-15). Dankie Gees van God dat U my in die waarheid lei sodat ek my geloof in Jesus Christus kan lééf en dóén, al maak ek foute. Amen.