E-Kerk : Gedagte vir Vandag

DIE SONDE EN DIE STRAF (3) – KIND VAN GOD!
Rom. 1:24-28 – “Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer. Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen. Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit. En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.”
Vergelyk ook Jak. 4:4 – “Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.”
Paulus is steeds besig om te redeneer dat die heidene skuldig voor God staan en voor hy kan aantoon dat verlossing vir hulle beskikbaar is, moet hy eers bewys dat hulle almal die verlossing nodig het. Hoewel hulle nie die voorreg gehad het om die openbaringsboeke van die Ou Testament te lees nie, kon hulle God herken in die natuur. Paulus konfronteer hulle met die feit dat hulle nie ooreenkomstig hierdie kennis geleef het nie. Hulle het hierdie kennis moedswillig onderdruk deur voort te gaan om in ongeregtigheid te lewe; daarom is hulle onverskoonbaar skuldig.
Omdat die heidene (en talle gelowiges ook) nie God as God eer nie, het Hy die mense oorgegee aan die drange van hulle hart. God laat die mens los om te doen wat hy wil, om te doen wat hy begeer. Dit is asof God sê: “Julle het gekies om julle eie pad te loop; lóóp dit nou en kyk waar julle pogings om sonder My te leef, julle bring!” Die natuurlike gevolge van hulle dwaasheid tree dan in.
As eerste daarvan word genoem “die drange van hulle hart.” Paulus sien hierby veral die seksuele onreinheid as perversie na vore kom, wat met die Grieks-Romeinse samelewing in daardie tyd, aan die orde van die dag was. Paulus dink miskien ook aan die praktyk van rituele prostitusie wat by heidense tempels beoefen is. Hulle onteer hulle liggame onder mekaar wat ’n vervanging van die natuurlike liefde deur teen-natuurlike wellus is, wat van ’n skandelike aard is en tog geen bevrediging kan bied nie. Ons kan aanvaar dat Paulus na hierdie sondemoeras waarin hulle dieper ingesak het, verwys het na mans en vroue wat hulle natuurlike seksuele oriëntasie vir homoseksuele en lesbiese verhoudings verander en vervang het. Daar is dus ’n direkte verband tussen die heidene se verwerping van die kennis van God en hulle gebrek aan sedelike betaamlikheid en diegene wat daarby betrokke is oor hulleself, die verdiende straf vir hulle perversiteit bring. Die ironie van die seksuele perversiteit, is dat dit na al die eeue, nog nie verander het nie!
Om van God weg te draai, om die waarheid van God te verruil vir die leuen is die wortelsonde waaruit alle vorms van wetteloosheid voortvloei. Dit hou in dat die skepsel in plaas van die Skepper vereer word, dat aan mense of dinge godsdienstige eer bewys word – “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie” (1 Joh. 2:15). Wanneer God as Skepper vervang word met ’n skepsel, word die natuurlike omgang van geslagte vervang met die teennatuurlike.
Ons kan nie God én die wêreld dien nie. God deel nie Sy skepping (ons) met satan nie, daarom eis Hy onverdeelde trou (Eks. 20:5). Om ons begeertes te vermeng met die wêreld, beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “ ‘n vriend van die wêreld te wil wees”, wat buite die konteks van God en Sy wil is. Iemand wat hom deur sy eie begeertes laat lei, bewys daarmee dat hy uit die verhouding met die Here wil wees, en eerder in ’n vriendskap met die wêreld wil gaan. God en die wêreld is in konflik met mekaar en sluit mekaar uit!
Ons mag nooit op twee gedagtes hink of ons die Here wil dien of dalk nie wil dien nie - ons moet Hom voluit dien. Ons behoort aan Hom: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal” (1 Kor. 6:19-20). Alles in die hemel en op aarde behoort aan God, Hy het ons formeer uit die stof van die aarde en die lewensasem in ons neus in geblaas (Gen. 2:7). Wanneer ons ons liefde aan die wêreld verkoop, pleeg ons owerspel en verloën ons God se liefde. Satan het dan hierdie rondte gewen! Die keuse is onafwendbaar: “ ‘n vriend van die wêreld, is ‘n vyand van God.”
“Kies slegs vriende wat jou op die pad na die hemel toe kan help” (John Wesley).
Gebed: Here, wanneer ek saam met “vriende” beweeg wat die dinge van die wêreld liefhet, is ek geneig om ook so te word, te praat en te handel. Dankie dat U genade só oneindig groot is, dat U soos ‘n wagtende Vader U arms uitstrek om my terug by U te verwelkom, sonder enige verwyte. Dankie dat U selfs na my toe hardloop om my met my vuil toiingrige klere te omhels, ‘n ring aan my vinger plaas én die vetgemaakte kalf vir my slag. Dankie dat U ‘n onveranderlike Vader bly wat nie kantoorure het nie, maar altyd daar is om ‘n stukkende sondaar soos ek te ontvang. Vergewe my my sondes, Here. Amen.