E-Kerk : Gedagte vir Vandag
Volgens oorlewering die plek waar Jesus met die vroue gepraat het op die Via Dolorosa
JESUS WORD GEKRUISIG (3) – DIE VIA DOLOROSA! (2)
(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)
Luk. 23:27-28 en 30 – “’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het.” Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: ‘Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders ..., want daar kom dae waarin hulle sal sê: Berge val op ons, heuwels bedek ons!”
Matt. 5:4 – “Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.”
Waaroor treur ons? Wat maak ons ongelukkig? Daar is weliswaar ‘n magdom dinge wat onmiddellik my gedagte binnedring terwyl ek hier skryf en ek glo u ondervind dieselfde gewaarwording terwyl u hier lees. Veral wanneer ons “so in die nag lê en terugdink en peins ... ” (Ps. 77:7-11), is dit ideaal om aan Hom te erken ons is verkoop aan die sonde. Dit laat ons treur en ons maak beloftes aan onsself en teenoor God, om dit nie weer te doen nie. Ons voel terneergedruk daaroor. Dit is asof ons krampagtig vasklou aan ‘n “gunstelingsonde” en ons weet Paulus het ons gewaarsku dat die dood die loon van die sonde is. Maar dankie tog, Jesus het ons uit hierdie betreurenswaardige posisie kom verlos voor betaaldag aanbreek!!!
Elke mens treur ook nie dieselfde nie. Is die oorsaak van die meeste ellendes nie tog maar die sonde nie? Ons lees dat “Judas uitgegaan het en dit was nag” (Joh. 13:30b). Judas het besluit om die Ewige Lig te verlaat waar hy gekoester was, liefde ontvang het, vertrou is, (hy het die beursie gedra), en dit verruil het vir die ewige duisternis! Sy lewe het verander deur die verkeerde keuse, ‘n sondige keuse, te maak om die Lig te verruil vir die ewige donkerte. ‘n VERSKRIKLIKE VERKEERDE KEUSE! En die gevolg daarvan – die dood! Judas se spyt (Matt. 27:3b) was te laat.
Is dit nie waarom ons ook soms treur nie – die sonde wat ons opvreet terwyl ons dit maar net by God moet los – voor dit te laat is? Daar is baie mense wat trane stort met hul oë, maar nie met hul harte nie. “What a statement!” Daar is menigtes wat treur oor die gevolge van hul sondes maar wat nie ‘n duit omgee wat God daaroor dink nie. Laat dit tog nie een van ons wees nie. Laat ons treur en uit afhanklikheid soek na God se vertroosting want sonde is ‘n verbreking van ‘n liefdesverhouding met God en daaroor mag en kan ons huil.
Nou kan ons die volgende vrae onverwyld vra: Het ek al getreur oor my sondes? Het ek al soos die sondige vrou van Luk. 7:37 só gehuil oor my sondes dat my trane op Jesus se voete val? Was ek al bedroef soos die tollenaar en by God gepleit dat Hy my as sondaar, genadig moet wees? Het ek al op ‘n plek in my lewe gekom waar ek voel soos die verlore seun van Luk. 14:19, ek nie werd is om mens te wees nie? Of dalk soos Petrus wat bitterlik gehuil het omdat hy Jesus verloën het? (Matt. 26:75; Mark. 14:72).
Indien jou antwoorde op bogenoemde vrae positief is, sê Dawid dan in Ps. 30:6, dat dit gisteraand se trane was. Vandag kan jy weer vreugdevol lag – Jesus is die rede daarvoor. Ons is nie geseënd omdat ons hartseer is nie, ons is geseënd omdat ons hartseer ons by die Gees van God, ons Trooster, uitgebring het!!! Ons het soos die verlore seun vertroosting in God se omhelsing gevind. Hy het ons kom toevou met Jesus se kruisliefde! Daarom is dit ons eie keuse of ons gelukkig (geseënd) wil wees om ons hartseer na God toe te bring of eerder ons vertroosting by iemand of iets anders of op ‘n ander plek te gaan soek.
“Geseënd is dié wat treur ... .” Om as ‘n gelowige in Jesus Christus te treur is ‘n seën want dit lei ons om berouvol terug te keer na God toe en vas te grýp aan Jesus se kruis en daaraan te bly vasklou!! Paulus skryf in 2 Kor. 7: 9-10: “Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood.” Die kruisprys is vir ons as sondaarmense die grootste troos. Ons is vir ewig van sondeskuld verlos. Daarom kan ons juigend te midde van soveel ellende om ons daaglikse lewensbestaan, onder die warmte van God met ‘n glimlag leef.
“Sonde is die duurste ding in die heelal. As dit onvergeef bly, kos dit jou die ewigheid. Word dit vergewe, het dit Christus sy lewe gekos om dit te bewerkstellig” (Charles Finney).
Gebed: Dankie Here dat ek hartseer kan word oor my sonde. Dankie dat ek dit by die kruis by U voete kan neersit en dit daar kan los. Here Jesus, ek is só jammer dat my sondes die oorsaak was dat spykers U hande en voete moes deurboor. Só jammer dat my sondes veroorsaak het dat U ‘n kroon van dorings moes dra. Dankie dat ek nie soos hooploses en Godloses hoef te treur nie want ek word deur U Gees gelei in die waarheid. Dankie dat U my met U allesomvattende en allesdeurdringende liefde vertroos. Soos Dawid wil ek my sondes bely, my oortredinge nie wegsteek nie en wéét dat U my die pad sal wys wat ek moet volg. Dankie Here, dat U my as ellendige mens, van hierdie doodsbestaan verlos. Amen.