E-Kerk : Gedagte vir Vandag
2000 Jaar oue Olyfbome in die Tuin van Getsemane
JESUS BID VIR SY DISSIPELS (1) – VERHEERLIKING VAN DIE SEUN!
Joh. 17:1-5 – “Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: ‘Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.”
Toe hulle by Getsemane kom, het Jesus geweet dat die Joodse Raad soldate sou stuur wat Hom daar sou soek en vind. Die tyd het gekom dat Jesus oorgelewer moes word in die hande van sondaars. By die ingang van die Tuin van Getsemane, het die verskrikking van Sy lyding, Jesus getref en daarom laat Hy agt van Sy dissipels by die ingang agter. Jesus weet dat Hy vir die oorblywende gedeelte van daardie nag die verskrikking van die dood moet deurworstel. Daarom neem Hy net vir Petrus, Jakobus en Johannes saam en gaan hulle dieper die tuin in (Mark. 14:33). Hy laat hulle deel word van Sy gebedslewe, Sy intieme gesprek met Sy Vader.
Na Jesus se verklaring dat Hy die wêreld oorwin het (16:33b), kyk Hy op na die hemel en met ‘n feestelike gebed om Sy oorwinning te vier, rig Hy hom tot Sy Vader: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik.” Dit is die grondtoon en samevatting van hierdie langste gebed van Jesus wat vir ons opgeteken is. Hier reg voor Sy kruisiging is dit Jesus se begeerte dat Hy sy lewe in hierdie uur aan sy Vader sal wy as ‘n aanvaarbare offer vir die sonde van die wêreld (17:19); dat die Vader Hom uit die dood sal opwek tot die troon van heerlikheid (13:31-32); dat almal dit sal erken as die begin van die koms van God se koningskap oor die hele wêreld; dat die heerlikheid van die Vader sal straal uit sy liefde om mense te oortuig en te verlos.
Kennis van God word alleen verkry deur die geloof in Jesus Christus wat gekom het om die Vader bekend te stel – “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak” (Joh. 1:18), en daardie kennis behels ook geloof in God, die Sender van Jesus Christus. Hierdie kennis van God lei tot die oortuiging dat Hy “die enigste ware God is”. Dit gaan dus nie om die algemene godskennis wat ook by die heidene voorkom nie, maar die spesifieke kennis dat daar geen ander God is nie; Hy alleen is die ware, die enigste God – “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here” (Deut. 6:4).
Maar daarnaas is kennis van Jesus Christus nodig, en die aanvaarding dat Hy deur God gestuur is. Die geloof in God of die kennis van God soos die Jode dit uit die Ou Testament verkry, is nie voldoende nie. God word as die ware, enigste God geken alleen deur die kennis van en geloof in Jesus Christus. Kennis van Jesus is om te glo dat Jesus die gesant van God is, die mensgeworde Seun wat die Naam “Jesus”, dit is “Redder”, dra en tegelyk die “Christus”, die Gesalfde, die verheerlikte Seun van God is. Wie Hom só ken en in Hom glo, verkry die ware kennis van God, en hy besit die ewige lewe. Hy, die Volmaakte, was volmaak gehoorsaam, en daardeur het Hy die Vader verheerlik. Hy het die eer van die Vader gehandhaaf en verhoog, en nou wag Jesus dat die Vader Hom in die hemel weer beklee met heerlikheid.
Jesus het die drie dissipels gevra om te waak en ‘n entjie verder van hulle, gaan bid. Sy nag van angs het begin, Hy het doodsbenoud geraak, Sy sweet het soos bloeddruppels geword. In Sy worsteling met God vra Hy: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat ek wil nie, maar wat U wil” (Mark. 14:36). Sy angs kon Hy met niemand deel nie. Selfs Sy drie vriende kon nie eens saam met Hom waak nie, hulle het aan die slaap geraak! Jesus het hier reeds al iets van 'n Godverlatenheid begin ervaar. Daar tussen die olyfbome en ʼn paar slapende dissipels moes Jesus finaal kies en skielik was Sy keuse ontsettend beperk: Gehoorsaamheid aan Sy Vader of ongehoorsaamheid ... die dood of die lewe.
Goddank, Jesus het presies die regte keuse gemaak. Hy het op sy knieë voor God in gebed neergeval, want aan sy Vader se voete sou Hy die regte antwoord vind. Daar in Sy beangste oomblik was God se wil Sy enigste pad wat Hy moes loop, om sodoende vir ons die weg te baan. Dit is alleenlik dáár aan die voete van ons hemelse Vader, wat ons die regte antwoorde op ons worsteling en lyding kan kry. Dit is alleenlik dáár, aan die voete van ons liefdevolle Vader, waar jy en ek sal ontdek wat die regte pad is wat ons moet loop.
“Jesus het met Sy Getsemane-gebed, die deur vir ons gelowiges, na God toe oop gebid, nie oop gebéúr of oop geforséér nie” (Anoniem).
Gebed: Dankie Jesus, dat U die Vader aan ons kom openbaar het. Nou wéét ek dat ek deel van God se gesin is en kan ek Hom direk ken. Dankie dat U vir my die deur na God toe oopgemaak het sodat ek in die teenwoordigheid van ons Vader kan leef en bestaan. Help my Vader, om my los te maak van die dinge waarin ek vervulling soek en maak my hart oop vir U. Dankie Vader dat U my in liefde aanvaar, voed my met die Brood van die lewe want “dit is die ewige lewe: dat ek U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” Amen.