top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (7) – OM WAARLIK TE SIEN!


Joh. 9:7b-9 – “Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: ‘Maar is dit nie die man wat gesit en bedel het nie?’ Party van hulle het gesê: ‘Dit is hy!’ Maar party het gesê: ‘Nee, hy lyk maar net soos daardie man.’ ‘Dit is ek!’ het hy self gesê.”


Vergelyk ook Ps 100:1, 2, 4 – “Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Gaan Sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys Sy Naam ... “


Jesus neem onreine spoeg, meng dit met grond en smeer die klei aan die blinde se oë. Die blinde weet nie eers wie hierdie Man is nie. Hy hoor die mense noem Hom “rabbi”. Hy gehoorsaam hierdie “rabbi” se opdrag en gaan was hom in die Siloambad “Hy het gegaan en hom gewas, en hy kon sien!” Nadat die man kon sien, gaan hy terug na sy huis en omgewing, waar die mense hom as bedelaar geken het. Met sy aankoms ontstaan daar ‘n merkwaardige reaksie! ‘n Mens sou verwag het hy sou gejuig en op en af gespring het van vreugde terwyl hy dit uitskreeu: “Ek kan sien, ek kan sien!” Maar al wat Johannes ons vertel, is “toe hy terugkom, kon hy sien”, sien hy vir die eerste keer sy huis, sy bure, die mense, sy ouers, familie en homself.


Hoe reageer sy bure? Hulle bure se seun wat altyd blind was, kan ewe skielik sien! ’n Mens sou verwag dat die bure sal reageer met verwondering, vreugde en lofsange, dat hulle sou feesvier. Maar hulle reageer met verwarring, konsternasie en kontroversie. Hulle voer debat oor wat gebeur het! Party sê dit is hulle buurman wat nou kan sien, ander weer sê nee, dit is nie hy nie. Ander weer sê dit is iemand wat maar net soos hy lyk. Onder die mense ontstaan daar meningsverskil of hierdie man en die bedelaar dieselfde persoon is. Noudat die blinde siende geword het, is sy gesigsuitdrukking en optrede anders as dié van ’n blinde.


Die man se blindheid het gelei tot behoeftigheid – al wat blindes destyds kon doen, was om te bedel. En soos wat dikwels met bedelaars gebeur, was hy onsigbaar vir die samelewing. Sy bure het hom sy lewe lank gesien, maar ook nie gesien nie. Nou kan hulle hom nie eers herken nie – is dit hy? Of is dit nie hy nie? Selfs nou is hy eintlik onsigbaar. Hulle praat nie mét hom nie – hulle praat met mekaar, oor hom. Hy het dan nooit ’n stem in die samelewing gehad nie, hoekom sal hy dit nou skielik hê? En dan, vir die eerste keer, hoor ons die voorheen blinde man se stem: “Dit is ek!”


Die voorheen blinde se bure kon nie glo dat hy genees is nie en tog was hy daar vir almal om die wonderwerk te sien. Hulle sig was goed en tog kon hulle hierdie veranderde man nie herken nie. God het deur Christus sy lewe aangeraak en nou was hy anders. Hulle kon die almagtige krag van God nie herken nie omdat hulle innerlik blind was vir Sy heerlikheid en genade. Terwyl die blinde kon sien was hulle steeds blind. Hulle innerlike sig moes herstel word sodat hulle Jesus kon herken!


Jonathan Swift het die bekende spreuk reeds in die 18de eeu vir ons gelaat – “Niemand is so blind soos hulle wat nie wil sien nie!” Helen Keller wat self blind en doof was, het in die 19de eeu gevolg met – “Om blind te wees is erg, maar om gesonde oë te hê en steeds nie te sien nie, is veel erger!” Mense is geneig om net te sien wat hulle graag wil sien, veral wanneer dit nie met hul standpunte klop nie. Dit is maklik om oor God en Sy almag skepties te wees. Dít is die tragiek van hierdie verhaal. Ons is dikwels soos hierdie man wat genees is. God is vir ons goed, Hy gee vir ons alles wat ons nodig het, Hy gee vir ons letterlik alles wat ons is en wat ons het, maar ons huppel nie. Ons is nie werklik bly nie. Soos die man ontvang ons, maar stap rustig aan deur die lewe asof niks gebeur het nie. God se goedheid oorweldig ons, maar ons is blind daarvoor, al kan ons sien. Ons bespreek eerder die onwaarskynlike met ons bure en vriende – “Dit kan mos nie; Ja, dit is; Nee, wag, dit kan tog nie God wees wat aan die werk is rondom ons nie?”


God is steeds besig om magtige dinge in die lewens van gewone mense soos ek en jy te doen. Ons het oë nodig wat deur God oopgemaak is om Jesus en die Gees se teenwoordigheid te herken en heerlikheid te aanskou. Moenie jouself met ander rondom jou vergelyk nie, maar soek eerder na wat God vir jou lewe beplan en sien en ontdek die verandering wat dit meebring. Iemand vertel van ‘n klein dogtertjie wat doof en blind gebore is en eendag toe sy bietjie groter was, slegs deur seine in haar hand van God vertel is. Haar gesig het met vreugde opgehelder oor hierdie ontdekking en sy het teruggesein: “God! Is dit wat julle Hom noem? Ek ken Hom reeds lankal, maar ek het nooit Sy Naam geken nie.” Vroeër of later moet elkeen ondervind dat God die ware Lig is om waarlik te kan sien!


“God se wese is so onbegryplik groot dat ons sintuie Sy majesteit nie ten volle kan waarneem nie” (Johannes Calvyn).


Gebed: Ewig onbegryplik Wese, soos hierdie blinde wat weer kon sien, is ek ook soms geneig om nie U grootheid en barmhartigheid te sien nie, daaroor dankbaar te wees en te jubel nie. Dit is mos vanselfsprekend. Ek is geneig om na alles rondom my te kyk en soms sien ek net die doodsheid daarin raak, want ek kyk met “blinde” oë. Dankie hemelse Vader, dat U my oë oopgemaak het sodat ek vir Jesus kan sien. Nou kan ek met al my sintuie U majesteit om my waarneem en sê: “My Vader het dit gemaak!” Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page