top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WAS VOOR ABRAHAM AL DAAR (3) – KEN GOD DEUR JESUS EN LEEF!


Joh. 8:53-55 – “Jy is tog nie groter as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterwe. Wie verbeel jy jou is jy?’ Maar Jesus antwoord: ‘As Ek Myself verheerlik, beteken My heerlikheid niks. Dit is My Vader wat My verheerlik. Julle sê: ‘Hy is ons God,’ en tog ken julle Hom nie. Maar Ek ken Hom. As Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle ‘n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek neem Sy woorde ter harte.


Vergelyk ook Sag. 1:5 – “Waar is julle voorvaders nou? En die profete? Leef húlle vir altyd?


Die vraag aan Jesus of Hy groter is as Abraham en die profete, is so gestel dat ‘n “Nee” antwoord verwag word. Die ironie is egter dat op hierdie vrae juis “Ja” geantwoord moet word. Die Jode dink egter net in terme van die liggaamlike dood. Hulle hou nie daarmee rekening dat Jesus alles weet van die liggaamlike dood en nietemin verklaar dat “elkeen wat Sy woorde ter harte neem, nooit sal sterwe nie.” Hierdie feit moes die Jode daaraan laat dink het dat Jesus nie van die liggaamlike dood praat nie, maar dié waartoe ’n onboetvaardige mens veroordeel word wanneer hy voor die Regter (8:50) verskyn. Hulle was geskok – Hulle onthou Sagaria se woorde (Sag.1:5) en Abraham én die profete wat almal God se woord nagekom het, is al dood. Hoe kan hierdie Jesus van Nasaret hulle “verseker as iemand Sy woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie”?


Die Jode vertolk Jesus se uitspraak as bewys dat Hy Hom ’n mag aanmatig wat Hom nie toekom nie – Hy verbeel Hom dat Hy God is. Die beledigende optrede lei daartoe dat Jesus voortgaan om te verklaar dat Hy wel die Seun van God en sélf God is. Jesus gaan terug op sy uitspraak dat Hy nie Sy eie eer soek nie (8:50). Enige vorm van selfverheerliking sou van geen betekenis wees nie. Sy dade en woorde het egter onweerlegbaar Sy heerlikheid geopenbaar (2:11), maar dit is die Vader wat die eer van die Seun soek (8:50) en die Seun verheerlik.


Jesus staan in ’n unieke verhouding tot die Vader en noem Hom “my Vader”. Die Jode noem die Vader “ons God” wat hul reg is, want God het Hom so deur die openbaringsgeskiedenis aan sy volk bekend gemaak. Maar, indien hulle God egter werklik geken het, sou hulle ingesien het dat “ons God” gelyk is aan Jesus se “my Vader”, en dat Jesus dus die Seun van God is want God kan slegs volkome deur Jesus gesien word.


Ten spyte van God se openbaring ken hulle Hom nie werklik nie, omdat hulle ’n God van hulle eie maaksel dien en weier om die kennis van God te aanvaar soos die Seun dit kom meedeel het (1:18). Om Jesus te aanvaar, is om te besef wie God is en hoe Hy gedien moet word en die regte verhouding wat die mens met God behoort te hê. Die waarheid is dat Jesus wel die Vader ken, en Hom op ’n wyse ken waarby die mens nie kan kom nie. Slegs déúr Jesus sal ons kennis van God hê. Hy kan ons vertel wie Sy Vader is en ons leer wat ons van God moet weet.


Jesus het aarde toe gekom om God se koninkryk te kom bekend maak, nie om gewildheidskompetisies te kom wen nie. Sy doel was om die verlore mens weer terug te lei na God toe. Hy het gekom om die verhouding tussen God en ons weer reg te stel, asook tussen my en ander mense! Die koninkryk van God is nie ‘n plek waar wonders en bonatuurlike dinge op aanvraag beskikbaar is nie. Die grootste wonder is om sondaars uit die greep van sonde te bevry en daarom is dit nodig om te wéét en te aanvaar dat dit nét deur hierdie Jesus kan geskied wie God uit die dood laat opstaan het. Die grootste wonder wat Jesus dus ooit aan ons kan doen, is om ons uit die mag van die dood te verlos!


“For the man who fully accepts and believes in Jesus Christ, death has lost its finality; he has entered into a relationship with God which neither time nor eternity can sever. He goes, not from life to death, but from life to life; death is only the introduction to the nearer presence of God” (William Barclay).


Gebed: Dankie Jesus dat U die verste reis ooit aangepak het wat enige mens kan dink om te doen. Dankie dat U hierdie ver, onoorbrugbare rit van die hemel af aarde toe geneem het om vir my van God te kom vertel. As dit nie vir U was nie, sou ek nooit dit van hier af hemel toe gemaak het nie. Al die goeie dinge wat ek op my eie probeer aanpak om nog ‘n geloofstrappie te bou om by U en God in die hemel uit te kom, help niks. Al wat help is om in geloof te rus by die kruis. Dit is dáár waar U my kom haal het en daarom wil ek elke dag by U wees want dit is net U wat blywend kan versadig. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page