top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE VROU WAT OP OWERSPEL BETRAP IS (3) – GOOI DIE KLIP AS JY KAN!


Joh. 8:7-9 – “Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: ‘Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.’ Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste.


Vergelyk ook Jer. 17:13 (’53 Vertaling) – “O Here, Verwagting van Israel! Almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die Here, die fontein van lewende water verlaat.”


“Maar Jesus het afgebuk….”


Bybeluitleggers worstel deur die eeue met wát Jesus op die grond geskryf het. As die inhoud van wat Jesus neergeskryf het belangrik was, sou Johannes dit vir ons weergegee het. Aksies spreek harder as woorde. Jesus weier om saam met die aanklaers te staan. Op ‘n sigbare manier maak Hy Homself los van hulle, weier om te antwoord en buk af. Die vrou is vir eers vergete, hulle loer nie oor Jesus se skouer om Sy antwoord te vind in Sy skrif op die grond nie en hulle vra Hom weer. Jesus kom regop en maak Homself vir ‘n oomblik deel van die gesprek, “laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.”


Sy antwoord is nie wat die skrifgeleerdes en Fariseërs in gedagte gehad het nie. Hulle wou nie persoonlik by die saak betrek word nie. Hulle wou haar bloot in die middel neersit, van alle kante af bekyk, en objektief ‘n antwoord kry en die oordeel voltrek. Jesus is ongelukkig nie een van hulle nie, Hy sál nie saam met hulle rondom die vrou staan en haar veroordeel nie. Nadat Hy klaar gepraat het, het Hy “weer gebuk en op die grond geskrywe ...!” Hy buk en kyk eerder af en hou Homself besig met sy vinger in die grond en gee in liefde, hulle kans om weg te drentel.


In sy reaksie draai Jesus die situasie heeltemal om, en laat elkeen homself konfronteer. Hy dwing die aanklaers tot selfondersoek, want Hy weet dat hulle besig is om die wet van Moses te misbruik deur die skuld van die owerspelige vrou op ‘n onskuldige te plaas – Homself! Jesus weet dat dit vir hierdie aanklaers nie oor die vrou gaan nie; sy is maar net ‘n speelbal. Hulle soek Hóm! Hulle wil Hóm beskuldig, hulle soek ‘n rede om Hóm te veroordeel. En daarvoor moet die wet nou diens doen. Dan wys Jesus dat hulle die wet nooit reg sal kan gebruik, die wet nooit in sy diepte sal verstaan as hulle aanhou om die wet teenoor Hom te misbruik nie – Hy kan immers nooit teenoor die wet geplaas word nie; Hy is dan die Wetgewer én die vervulling van die wet! Die vraag moes eintlik gewees het: hoe staan julle teenoor Jesus, wetgeleerdes van Israel, wat is julle houding teenoor Jesus Christus?


Die familiehoofde was die wyse manne onder die volk gewees, diegene wat by die stadspoort die geskille onder die volk opgelos het, dié na wie die jongeres geluister het. Juis hulle was die eerste om te besef dat hulle die stryd verloor het. Waarskynlik was elkeen besig om te dink aan geleenthede in sy lewe waartydens hy ook ontrou was aan sy vrou, dade waaroor hy eintlik gestenig moes gewees het. Hierdie innerlike erkenning van skuld het hom vrygemaak van sy felle oordeel oor ʼn medemens en daarom het hy besluit dat dit die beste sou wees om maar net stilweg pad te gee uit hierdie verleentheid. Toe die oudstes nie meer hul man kon staan teen Jesus se uitdaging nie en een vir een hul rug op die situasie keer en wegstap, toe drentel die jonges agterna, elkeen in sy eie rigting, elkeen worstelende met sy eie gewete, terwyl hulle nie kon waag om die een die ander in die oë te kyk nie.


Die reaksie is hartseer – hoewel hulle gewete hulle wel aangekla het, sluip hulle een vir een weg, in plaas daarvan om na Jesus te gaan. “O Here, Verwagting van Israel! Almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die Here, die fontein van lewende water verlaat” (Jer. 17:13). Wat beteken dit? Letters wat op die grond of aarde geskryf word, sal vinnig uitgewis word vanweë mense wat daaroor loop en reën en wind. Daardeur sal die skrif vinnig onleesbaar wees en verdwyn. Hulle wie se name op die aarde of grond geskryf is, sal nie bly bestaan nie, maar verdwyn, vernietig word. En dit geld vir diegene wat die Here, die fontein van lewende water, verlaat en dis presies wat die skrifgeleerdes en Fariseërs doen. Hulle verwerp die Here Jesus, die Fontein van die lewe. In Lukas 10:20 praat Christus oor mense wie se name in die hemel opgeskryf is. Wees bly as jou naam in die hemel opgeskryf is. Daardie name is daar vir ewig. Hulle kan nie uitgewis word nie.


Wie is ons om van mekaar sleg en lelik te praat? Kan ons nie maar liewer ‘n besluit neem dat ons almal deel is van die een liggaam van Christus en dat ons nie die ander ledemate kan slegsê en vervloek nie? Die hand kan tog nie vir die voet sê ek het jou nie nodig nie? Of die oor vir die oog sê ek is belangriker as jy nie? By God is ons almal ewe belangrik en het ons almal dieselfde genade ontvang. Wie is ek om my medemens sleg te sê en te oordeel? Wie is ek om eerste die klip die gooi? Kom ons draai om en gaan terug na Jesus toe en gaan gooi ons klippe voor Sy voete neer, daar by die kruis.


“Mense glo nie alles wat hulle van ander hoor nie, maar hulle vertel dit darem oor, net om veilig te speel” (Bertrand Russell).


Gebed: Hemelse Vader, ons weet met sekerheid dat enige ongehoorsaamheid en foute wat ons maak teenoor U en ons naaste, nie verborge is by U nie, nogtans probeer ons dit wegsteek. Dankie dat U vir ons ‘n poort geskep het om ontslae te raak daarvan – die “Poort van die Waarheid en Hoop” wat ons red van die doodslaagte. U het my só lief daarom kan ek met my foute, my klippe wat ek na ander wil gooi, by U kom aflaai. Dankie Here dat U elke keer vir my met uitgestrekte arms wag sodat ek my foute by U kan erken en bely. Dankie dat my naam in U handpalms ingraveer is. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page