E-Kerk - Gedagte vir Vandag

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES
JESUS LEER DIE MENSE BY DIE HUTTEFEES (1) – REAKSIE VAN DIE MENSE
Joh. 7:10-13 – “Nadat Jesus se broers na die huttefees toe vertrek het, het Hy self tog ook gegaan, nie openlik nie maar onopvallend. Die Jode het toe by die fees na Hom gesoek en gevra: ‘Waar is hy?’ Onder die feesmenigte is daar baie oor Hom gefluister. Party mense het gesê: ‘Hy is ‘n goeie man.’ Maar ander het gesê: ‘Nee, hy mislei die mense. Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode.”
Vergelyk ook Heb. 11:26 – “Die smaad ter wille van die Christus het Moses ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.”
Ten spyte van wat Jesus aan Sy broers gesê het, is Hy in die geheim na die huttefees toe. Sy broers het Hom probeer dwing om nie “in die geheim” iets te doen nie, maar Hom “aan die wêreld bekend” te maak. Hy voldoen egter nie aan die begeertes of planne van mense nie, maar gehoorsaam die wil van die Vader in die uitvoering van die werk waartoe Hy gestuur is. Daarom gaan Hy juis “nie openlik nie maar onopvallend”. Hy sluit nie by ’n groep feesgangers aan nie, maar kies ’n eie pad en reis op so ’n wyse dat sy koms nie opgemerk word nie. Hy wou nie aan sy teenstanders die geleentheid gee om Hom te verhinder om sy roeping uit te voer nie.
”Die Jode het toe by die fees na Hom gesoek en gevra: ‘Waar is hy?’ Onder die feesmenigte is daar baie oor Hom gefluister.” Waar Jesus Hom bevind, word Hy gewoonlik deur mense se reaksie gekonfronteer. Eerstens was dit Sy broers wat half ge-amuseerd Hom met minagting en met sarkasme, aanhits om huttefees toe te gaan (7:3-5). Dan is daar die leiers van die Jode wat Hom haat (7:7). Die Fariseërs het Jesus gehaat want Hy het volgens hulle, hulle selfopgestelde wette, reëls en regulasies, kom deurmekaar krap. Indien Hy reg was, was hulle verkeerd en dit kon hulle nie verwerk nie want hul hoë aansien by die volk sal taan. Hulle het hul eie ontwerpte sisteme meer lief gehad as vir God. Derdens was daar die priesters. Die meeste van hulle was Sadduseërs en hulle was medewerkers van die Romeine. Hulle haat Jesus want hulle wíl nie ‘n Messias hê nie. Dit sal beteken dat hulle politieke voordele en daarmee hulle welvarende leefstyl, beëindig word. (Klink soos S.A. se regerende party.)
Vierdens was daar die feesgangers – “baie het oor Hom gefluister. Party mense het gesê: ‘Hy is ‘n goeie man.’ Maar ander het gesê: ‘Nee, hy mislei die mense. Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode.” Die gevaar van die gefluister en debatvoering onder hulle, is dat niemand bereid is om sy eie opinie van Jesus te lig nie. Niemand wou dit waag om vrylik te verkondig wat hy van Jesus dink nie omdat almal vir die leiers onder die volk bang is. Die Jode is die manne van gesag in die Joodse Raad en in die sinagoges van Jerusalem. Hulle kan iemand uit die sinagoge ban, en dit is ’n straf wat vir die vrome Jood swaar is om te dra. Daarom wil niemand met hierdie volksleiers in ’n meningsverskil betrokke raak nie.
Die feesgangers se uitsprake oor Jesus het gewissel tussen “‘n goeie man en iemand wat die mense mislei.” Napoleon het gesê: “Ek ken mense, Christus Jesus is meer as ‘n mens.” Jesus was beslis tydens Sy aardse verblyf volwaardig mens, maar wanneer Hy gepraat het, het Hy met God se gesag gepraat, nie soos mens teenoor mens nie. Indien mense dit so aanvaar, argumenteer hulle nie oor Jesus se opdragte nie, maar aanvaar dit met geloof. Ander het weer gereken ”Hy mislei die mense.” Hy het die sabbat ontheilig; Sy beste vriende is die mees berugtes onder die volk; Hy probeer hul ortodokse geloof omverwerp; Hy is ‘n Godslasteraar; die lys van Sy misleiding is oneindig!
Daar is ongelukkig vandag nog steeds mense wat fluister oor Jesus en te bang is om hardop van Christenskap te getuig. Vir Christene om met Jesus se smaad en die skande van die kruis te vereenselwig, is van die moeilikste offers om te bring. Jong Christene op skool beleef dit toenemend as hulle nie met dwelms, drank en seks eksperimenteer nie. Die sekulêre sisteme wat oor ons wêreld spoel, maak Christene belaglik omdat ons nog aan God vashou, ons word as agterlik, naïef en outyds beskou. Teoloë, predikante en gelowiges wat nog aan die sterwe, opstanding en die Goddelikheid van Jesus Christus vashou, word as moderne Rip van Winkels gestigmatiseer. Die vraag is of ons Christene bereid is om die smaad van Christus, sonder kompromie, op onsself te neem? Om openlik oor Hom te praat, met ons lippe Sy Naam voor mense bely, God in die openbaar aanroep, nie “bang te wees vir die ‘Jode’ nie”, want ons plek is by die altaar, ons is kruismense! Ons Christen-gelowiges weet Wie is die verskil tussen lewe en dood!
“A man is faced with a simple alternative if he allows Christ into his orbit. He can either do what he likes or he can do what Christ likes; and if he wishes to go on doing as he likes, he must seek to eliminate Christ” (William Barclay).
Gebed: Onse Vader, ek smeek U om mense se harte en gedagtes terug te bring na die kruisbestaan van die kerk. “Rus ons toe met alles wat goed is, sodat ons U wil kan doen. Bring in ons tot stand, deur Jesus Christus, wat vir U aanneemlik is want aan U behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid” Heb. 13:21). Dankie dat ek vandag met geloof kan leef omdat ek U versorgende genade ontvang het en daarom in die toekoms kan hoop op U beloftes. Amen.