E-Kerk - Gedagte vir Vandag
DIE EVANGELIE VAN JOHANNES
JESUS LOOP OP DIE SEE (2) – MOENIE VREES NIE. (Met verwysing ook na Matt. 14:22-33 en Mark. 6:45-52)
Joh. 6:16-21 – “Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan, in ‘n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar ‘n sterk wind gewaai het. Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: ‘Dit is Ek; moenie bang wees nie.’ Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.”
Vergelyk ook Ps. 107:29-30 – “Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar. Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte, God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom.”
Hierdie storie is natuurlik vir Johannes ideaal om te onthou en ongeveer ses dekades later daarvan te skryf. As bekwame visserman sou hy daardie stormaand gereeld in sy herinnering oproep – hulle op die see; die grys-silwer van die maanlig; die storm; die rowwe roeispaan in sy hand; die flappende seile; die skree van die wind, die verswelgende golwe; die boot wat hemelhoog opstyg en dan weer na die dieptes afduik; hul seemanskuns wat elke greintjie krag verg maar blyk om onsuksesvol te wees – ons gaan vergaan! Maar dan .... , die gerustellende stem van Jesus wat oor die stormwaters aangesweef kom en hulle verskriklike angs tot bedaring bring: ”Dit is Ek; moenie bang wees nie.” Toe hulle Hom in die skuit neem geskied nog ’n wonder. Die storm bedaar nie net nie, hulle het onmiddellik aan land gekom, en ook, die plek van aankoms was juis die plek waarheen hulle op pad was!
Treffend! Die oomblik toe hulle Jesus se stem herken, het hulle bedaar. En die woorde wat Jesus gebruik het, het hulle aan God herinner! ”Dit is Ek; moenie bang wees nie.” Wanneer Markus die storie vertel doen hy moeite om die verband uit te lig tussen Jesus se woorde en God se Woorde in die Ou Testament waarmee Hy Homself aan Moses bekend gestel het. Toe Moses God in die braambos ontmoet het, het God ook gesê: “Moenie bang wees nie, “Ek is” – is by jou!
Johannes onthou ook die ander wonders van daardie nag wat natuurlik steeds vir ons ook betekenis het. Jesus het hulle dopgehou, Hy het hulle nie vergeet nie (Mark. 6:48). Jesus het ons tot hier gebring. Hy het vir seker geweet dat daar ’n storm oppad was toe Hy ons vooruit gestuur het! En tog het hy ons gestuur. Dit is op hierdie punt dat ons voor een van die moeilikste lewensvrae te staan kom. As ek ’n goeie gelowige lewe ly, waarom kry ek nog swaar in die lewe? Waarom beland ek in storms ten spyte daarvan dat ek werklik probeer om binne God se wil te leef? Wanneer ons in ’n storm beland selfs wanneer ons binne God se wil probeer bly, moet ons weet: Hy het ons tot hier gebring en Hy sal ons nie nou alleen laat nie. Dit is ’n besliste sekuriteit waaraan ons kan vashou al verstaan ons nie altyd God se groter doel nie. God gebruik soms krisisse in ons lewens om ons te vorm net soos die beeldhouer ’n skerp beitel en hamer gebruik om ’n beeld te vorm. Terwyl ons teen die sterk wind en die storms van die lewe met roeispane beur wat eintlik niks vermag nie, hou Hy ons dop. Hy laat ons toe om ons eie stryd te stry, maar.... Hy is by ons!
Johannes onthou dat Jesus in die storm na hulle toe gekom het al was dit eers die volgende môre. Dit voel dikwels vir ons of die Here ons in die steek gelaat het wanneer die lewe druk; dit voel ek bid teen die plafon vas, die Here hoor my nie! (Gaan buite toe, dan is die plafon soveel hoër en feitlik oneindig.) Hy voorsien op Sy tyd en op Sy manier. Terwyl die dissipels teen die storm baklei en Jesus sien, het hulle Hom nie herken nie! Hoe dikwels herken ons ook nie die hand van die Here in die krisistye in ons lewens nie? En tog, Hy is daar en ons moet net luister na Sy gerusstellende stem: “Dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Ons moeilikste tye bring ons nader aan Jesus – Hy is by ons!
Somtyds is dit net vir ons nodig om in ons teistering God se stem te hoor – net te hoor dat Hy by ons is! Soms twyfel ons ook oor God se teenwoordigheid veral wanner Hy fluister – beweeg net nader aan Hom dan sal jy Sy stem hoor. Partykeer dink ons ook ons is alleen, of sien ons spoke, gaan haal ons die bobejaan agter die berg en herken ons nie vir Jesus in ons bangheid of benoudheid nie. Partykeer kyk ons so na die wind en die golwe en die donker dat ons bang en benoud raak. Maar dit is juis dan wanneer ons wéér God se stem moet hoor, wanneer ons mekaar aan God moet herinner en wanneer Sy teenwoordigheid die bangheid verdryf en die bangheid plek maak vir vrede en kalmte. “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27b-28).
Johannes onthou dat hulle met hierdie storm net op Jesus moes vertrou, al was Hy nie dadelik by hulle nie en al het dit gelyk of Hy nie omgee nie. Jesus help ons om te groei in ons geloofslewe. Te midde van die storms en krisisse in ons lewens moet ons bly vertrou op Jesus, ongeag van ons omstandighede. Die storms of versoekings, watter vorm dit ookal aanneem, is die verleidings van satan wat natuurlik altyd ‘n groot deel geweld saamsleep, en gevolglik ‘n menigte mense met hom op tou neem. Lewensstorms is onvermydelik. Wanneer hulle kom, vertrou net op Jesus deur op Hom alleen te fokus en moenie na die stormwind en golwe om jou kyk nie. Johannes het van ‘n geharde visserman, verander in ‘n Evangelis. Hy het uitgevind dat Jesus al die tyd by hom was en daarom is sy vrees in kalmte verander – Hy is by ons.
“Daar is net een manier om vrees te bowe te kom, en dit is om die dinge wat jou bangmaak in gebed na Jesus te neem” (Polycarpus).
Gebed: Hemelse Vader, vandag wil ek al my vrese voor U voete kom neerlê. U weet eintlik reeds van elkeen van dit en daarom wil ek U vra om my te vergewe dat ek steeds soveel vrese het, ten spyte van die feit dat U by my is. Dankie dat U my vrees verander in kalmte en dat ek in hierdie wêreld kan leef deur U liefde – daardie liefde wat bangwees vir altyd onnodig maak. Amen.