top of page
Search

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Feb 16, 2017
  • 4 min read

AGAPE LIEFDE

WEEK 3 – RESPEK VIR JOUSELF (4) (Mark. 12:28-34; Luk10:25-28)


Matt. 22:37-39 – “Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”


Vergelyk ook 1 Pet. 4:8 – “Bo alles moet julle mekaar liefhê, want die liefde bedek baie sondes”


‘n Christen se lewe is altyddeur ‘n lewe van selfondersoek. Jesus antwoord die wetgeleerde en vir ons dat ons “die Here jou God moet liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Maak nie saak hoe lief ons God het nie, ons sal altyd ‘n gevoel van ontoereikendheid hê, want ons liefde vir Hom kan nie naastenby dieselfde wees as Sy liefde vir ons nie. Dit beteken natuurlik nie dat dit ons nou verhoed om steeds daarna te streef dat ons liefde vir Hom moet toeneem nie. Dis ‘n lewe waarin ons onsself aan ons sondes ontdek en dan met ons hele wese stry om die kwaad te oorwin. Ons moet natuurlik bereid wees om ons lewe oop te stel vir Sy genadige invloed en die Gees toelaat om deur ons te werk – dit kweek selfrespek.


Wat beteken selfondersoek? Dit beteken nie dat ons net een keer elke drie maande, tydens nagmaal, oor ons sondes moet nadink nie en tussen in maar vir tye mag voortlewe sonder dat ons ‘n werklike perspektief op die reg en verkeerd van ons lewe het nie. Dit beteken dus dat ons voortdurend ons lewens in die spieël van God se wet moet bekyk en onder andere die vrae vra: “Wat is ek werd? Al het ek foute, hoe lief het ek my naaste? Respekteer ek hulle soos wat ek myself respekteer?” Iemand het gesê dit is om soos in die wagkamer van die hospitaaI se “ICU” te sit. Die mense wat daar wag, is anders as ander. Niemand is onbeskof nie en hulle kan nooit genoeg doen vir mekaar nie. Die skeiding van ras en klas verdwyn. Die vullisverwyderaar het sy vrou wat in “ICU” is, net so lief soos wat die universiteitsprofessor syne het en almal verstaan dit. Die wêreld verander daar want almal bid en hou saam duim vas vir mekaar, almal is gefokus op die geneesheer se volgende verslag. Kan ons nie maar so lief hê nie? Is elke dag nie maar ‘n dag in die “ICU” nie?


Jesus vat die wet saam in vers 39: “In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” Ons lewe ontaard die meeste van die tyd in felle teenstand teen die Here. Ons oortree elke gebod by herhaling. Dis basies dieselfde as teëpratery teen God se wil en daarom onverbloemde ongehoorsaamheid. Die wet van die Here is die enigste middel wat ons voortdurend tot berou kan beweeg - só dat ons die volle werklikheid van ons sondige toestand sal besef. Selfondersoek is dus om jou lewe in die spieël van God se wet te gaan bekyk en met dankbaarheid Jesus Christus en Sy kruisverdienste aan te gryp, want dan leer ek eers werklik hoeveel Hy vir my gedoen het en daardeur by my selfrespek gekweek het. As ‘n baie, baie klein stofdeeltjie van hierdie planeet aarde, kan ek steeds weet: Ek is vir God kosbaar, ek is Sy stofdeeltjie want ek is vrygekoop deur Jesus!


Die wet leer ons om lief te hê en dit behels nie maar net 'n vriendelike glimlag, positiewe lyftaal, 'n aangename persoonlikheid of geaardheid nie. Nee, dit is om mense te respekteer op dieselfde manier wat selfrespek toegepas word; hulle geduldig te vergewe; te weier om met hulle te handel op grond van dit wat hulle ons of ander aangedoen het; hulle 'n kans te gee ten spyte van die feit dat hulle verdien om eintlik geoordeel te word. Dit is om dieper te sien as iemand se foute en verkeerdhede, om so iemand se moontlikhede raak te sien. Ja, dit is moeilik, maar Jesus kon dit doen as mens op aarde en soos God sy Seun vir die wêreld, vir alle mense gestuur het, moet ons selfrespek oorgedra word in respek aan alle mense – dan bepaal die Gees ons gedrag.


Wat beteken dit prakties? Mense, is in 'n baie groot mate wat ons deur die genade van God, van hulle maak. As mense met respek behandel word soos wat ons onsself respekteer, probeer hulle dikwels om te bewys dat hulle daardie respek waardig is. As mense weet dat ander van hulle goeie verwagtings koester, probeer hulle dit dikwels vervul. Met ander woorde: Christelike respek vir jouself, beteken om só met mense om te gaan dat ons die beste in hulle te voorskyn help haal, en hulle nie afbreek en verwoes nie. Dan poog hulle om daardie respek met veranderde harte, terug te beantwoord.


“In ‘n wêreld waarin so baie gepraat word oor ongelykhede, individuele regte en selfrespek, sê Christus nie ‘vervul jouself’ nie, maar ‘verloën jouself’ (Trobisch).


Gebed: Vader, dankie dat U vir my hierdie liefdesriglyne gegee het in U wet. Here, U weet self hoeveel keer ek al misluk het om hierdie riglyne toe te pas want ek is nog steeds selfgerig. My gewete kla my aan want ek klou nog vas aan my selfrespek, ek sukkel om myself te verloën. Maak my bereid om my lewe oop te stel vir U genadige invloed en die Gees toe te laat om my selfrespek oor te dra en ander daarmee te vul. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page