E-Kerk - Gedagte vir Vandag
WEEK 3 – RESPEK VIR JOUSELF (2) (Mark. 12:28-34; Luk. 10:25-28)
Matt. 22:35-40 – “En een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vastrek. ‘Meneer,’ vra hy, ‘wat is die grootste gebod in die wet?’ Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
Vergelyk ook Ps. 8:5-6 – “Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.”
Die Joodse rabbi’s se interpretasie van God se wet oor naasteliefde, was korrup en Jesus wil dit weer in die reine bring. Hulle verkeerde opvattings ten opsigte van naasteliefde, druis totaal in teen God se opdrag: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here” (Lev 19:18). Ons sou dit seker ook gedoen het. Elke keer as ons hoor dat ons ons naaste moet liefhê is dit asof ons gewete ons aankla en dan probeer ons aan die angel daarvan ontkom deur die naaste te herdefinieer.
As ons net presies kan sê wie ons naaste is! Menigte van ons weet dat ons ure lank daaroor kan praat sonder om by 'n definisie uit te kom waarmee almal gelukkig sal wees, want almal van ons wil 'n definisie hê wat vir óns pas. Almal wil iewers 'n eie grens trek, geografies, bloed, ras, persoonlikhede en verskeie ander redes, om wie ons naaste is, presies af te baken. Soos die wetgeleerde wil ons ook weet, sodat ons kan weet wie om lief te hê en wie nie. Dit gaan nie oor wat die wêreld sê nie maar wat ek sê. Respek begin by myself want dit sê iets van my Skepper. Hy het my “baie goed” gemaak (Gen. 1:31), en net so Sy ander skepsels, daarom moet ek hulle behandel met dieselfde respek wat ek vir myself het.
Wie is ons naaste? Dit is beslis nie ‘n keurlysie van mensename van ons keuse, en die res is vyande, nie. Ons is geneig om iewers 'n eie grens te wil trek soos hierbo genoem, om wie ons naaste is, presies af te baken. Soos die wetgeleerde wil ons ook weet en bid selfs daaroor: Here, wys asseblief vir my wie my naaste is, sodat ek vir eens en vir altyd kan weet. Jesus antwoord nie die vraag nie, want die vraag is reg van die begin af 'n verkeerde vraag – die oomblik as jy definieer, beperk jy. Die antwoord is reeds gegee deur Dawid in Psalm 8: Dieselfde God wat ons deur genade met selfrespek gekroon het, het ons naaste ook geskep en hulle ook “met aansien en eer gekroon.”
Daarbenewens vertel Jesus vir ons 'n verhaal, 'n verhaal wat nie die naaste definieer nie, maar vir ons wil help om die verkeerde ingesteldheid van ons harte raak te sien en ons gesindheid te verander (Luk 10:30-37). In hierdie verhaal van die barmhartige Samaritaan, was die man wat aangeval is deur rowers identiteitsloos – dit kon dus enigiemand wees. Die man wat hom help was iemand wat deur die Jode gehaat is en gesien is as die vyand – ‘n Samaritaan. Kontrasterend is dit juis dié vyand wat hom ontferm oor die beseerde. Die Jood se vyand wéét immers wie sý naaste is!
Is die meeste van ons se naamlys van ongekeurdes nie ook dalk langer as ons “Keurlysie van ons Naastes” nie? Dit is al die mense wat ons bloeddruk laat styg – die regering, verkragters, moordenaars, kindermolesteerders, verkeersmanne, taxibestuurders, mense wat my sleg behandel het, almal wie ek nie kan vát nie! Want......“Ek is nou maar eenmaal so gemaak en so laat staan.”
Daardie gesegde dra nie water nie want God maak nie foute nie. Ons kán nie deel wees van daardie “so-gemaak-en-so-gelaat-staan” mense nie. Ons is na God se beeld gemaak (Gen 1:26) en as skepping van God, kan niemand ons verander nie! Daarom wil Jesus die Joodse rabbi’s en ons, se naamlys van haat, in liefde verander. Ons Koninkrykskinders is anders! Ons is nuutgemaak en respekteer daarom onsself! In Getsemane en op Golgota het Jesus die angs van die hel verander sodat ons as Sy dissipels in Sy vrede ingesluit kon word! As nuwe mense dink ons nuut oor ander en alles en tree ons in liefde en respek, nuut op! As sagmoediges maak ons vrede want ons is dankbaar dat ons afhanklik kan wees van God en Sy genade!
“Moenie tyd mors om te wonder wie jou naaste is nie. Tree op asof jy hulle liefhet soos wat jy jouself liefhet, dan sal jy ontdek dat jy hulle liefkry” (C.S. Lewis).
Gebed: Here, maak my ‘n instrument van U vrede. Waar daar haat is, laat ek liefde saai. U het vir my die gebod gegee om mekaar lief te hê sodat almal kan sien dat ek U gerespekteerde dissipel is. Maar Here, ek is eerder geneig om twyfel en onmin te saai. Help my om U voorbeeld te volg. U het om my ontwil uit liefde uit, U lewe as ‘n offergawe gegee by Golgota. Laat my mense liefhê ten spyte van hul houding teenoor my, want “U het elke mens net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon” en dit sluit my in! Amen.