top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE VERMEERDERING VAN DIE BROOD (1) - GELOOFSTOETS (Matt 14:13-21; Mark 6:30-44; Luk 9: 10-17)


Joh 6:1-7 – “Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. ’n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. Jesus het toe teen die berg opgegaan en met Sy dissipels daar gaan sit. Die paasfees van die Jode was naby. Toe Jesus rondkyk en sien dat ‘n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: ‘Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?’ Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen. Filippus antwoord Hom toe: ‘Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ‘n stukkie brood te laat kry nie.”


Vergelyk ook Matt. 14:15-16 – “Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: ‘Dit is ‘n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.’ Maar Jesus sê vir hulle: ‘Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”


Jesus het pas gehoor dat Johannes die Doper onthoof is (Matt. 14:13) en om alleen te wees, na ‘n stil plek gegaan. Hy en Sy dissipels het per skuit na die oorkant van die See van Galilea gevaar tot naby die stad Tiberias. Tiberias was vir die Jode ‘n onrein stad, 'n stad van die dood omdat dit op 'n plek gebou was waar voorheen grafte was. Blykbaar wil Jesus die mense vermy en gaan daarom die berg op om daar met sy dissipels ’n gesprek te hê. Intussen het ”die groot klomp mense agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het.” Hulle het padlangs die afstand afgelê en daar het waarskynlik ander mense (pelgrims) wat oppad was na Jerusalem, by hulle aangesluit, want “die paasfees van die Jode was naby.”


Daar was egter nie tyd vir stilte en afsondering nie, want die skare wat Jesus gevolg, het daar begin opdaag. ”Toe Jesus rondkyk en sien dat ‘n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: ‘Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” Filippus het van daardie omgewing gekom, (Betsaida), en sou weet waar om kos te gaan koop. Maar, die eintlike rede waarom Jesus hom die vraag vra, was om hom “op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.” Wat doen Filippus? Hy begin sommetjies maak. Kyk hoeveel mense daar min of meer is; kyk hoeveel geld beskikbaar is; nee, ons gaan dit nie maak nie. Hy val terug op sy eie denke en bronne en sien die onmoontlikheid van die situasie. Filippus verloor sy fokus op Jesus en konsentreer op rekenkundige formules, en wat geloof per slot van sake is, is om van die begin af op die lewende Jesus te fokus. Ja, Jesus kon wel lammes laat loop, blindes laat sien, maar om duisende kos te gee ..... nee wag, dis bietjie vergesog. Filippus faal sy geloofsvertroue toets!


In die lig van die menslike onvermoë, word die vermoë van God juis groter. Dit was moontlik dat sommige van daardie skare mense, veral die pelgrims oppad na Jerusalem, kos by hulle gehad het. Die ander Evangelie skrywers vertel dat dit reeds aand was en dat die dissipels wou hê hulle moet van die skare ontslae raak. Maar die Here was nie van plan om van hulle ontslae te raak nie! Hy het totaal ander planne gehad. Dié wat wel kosvoorrade by hulle gehad het, het hulle blind gestaar aan die duisende om hulle, en eerder – soos die mens is – die kos vir hulle self gehou het. Jesus egter, verander selfsugtige mense in ‘n gemeenskap om te deel, Een wat nie vis en brood verander nie, maar mense.


'n Groter wonder as die vermeerdering van die brood en vis, is die Here Jesus se liefde vir die massas wat Hom nie regtig wil volg nie. Hy weet hulle wil méér wondertekens sien, Hy weet hulle gaan Hom binnekort verlaat en verwerp, Hy weet hulle gaan aandadig wees aan Sy dood! Ten spyte daarvan, gee Hy sóveel om, want hulle is soos skape wat geen herder het nie. Sy liefde is so geweldig dat, ten spyte van hulle verkeerde motiewe, Hy steeds in hulle behoefte voorsien. Nooit stamp Hy iemand weg wat na Hom toe kom nie (6:37). Hy maak tyd, Hy is nie geïrriteerd nie, Hy laat hulle nie aan hulself oor nie!


“Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg” om die mense te voed nie. Menslike berekeninge laat dit net nie toe nie. Maar nie Filippus se rekenkunde, of enigiemand anders s’n, was al groot genoeg om die krag van God se genade te bereken nie. Jy is verstandig indien jy nie buite jou finansiële begroting spandeer nie. Leef binne jou vermoëns maar weet terselfdertyd dat God onbeperkte bronne tot Sy beskikking het. God se balansstaat toon altyd ‘n batige saldo!


“Dat die sorge van die lewe ons so verteer, het minder te doen met die omvang van ons probleme as met die omvang van ons onvermoë om God te vertrou” (Martin Luther).


Gebed: Here Jesus, vergewe my dat ek soms so onwillig is om my geld en goed aan U toe te vertrou, en leer my net weer dat U wonders kan doen met my besittings as ek gewillig is om aan U te gee. Geloof in U my Heer, oortref alle verwagtings. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page