E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Week 5 – Hoogmoed kom tot ‘n val (2)
Luk 18:9-14 – “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: ‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar.....”
Wanneer ons hierdie oorbekende “Storie” van Jesus weer begin lees, is die aanvanklike gedagte dat ons presies weet waaroor dit gaan – die hoogmoedige Fariseër teenoor die nederige tollenaar. In ons gedagtes het ons ook reeds kant gekies en klaar besluit ons hou nie van die verwaande en hoogmoedige Fariseër nie. Ons het heel moontlik hom ook al klaar veroordeel en die tollenaar as die held verklaar. Om die gedagte-prentjie te voltooi het ons heel moontlik reeds name van kennisse in ons daaglikse omgang, by hierdie twee gevoeg. Dankie tog, ek is nie soos die Fariseër en daardie kennisse nie! Of is ek?
Jesus praat soos baie van ons dink – Hy veroordeel óók die Fariseër. Maar Jesus....., is dit nie vreemd nie want eintlik is die Fariseër nie so slegte ou nie? Hy aard in baie opsigte na baie van ons en is selfs ‘n voorbeeld vir baie Christene van vandag. Die Fariseërs was die godsdienstige mense van daardie tyd soos ons kerkmense die godsdienstige mense is van ons tyd.
Daarenteen is die tollenaars eintlik onverskillige mense, die wêreldse mense van ons tyd. Die Fariseër was die geestelike man wat nie geskroom het om enige plek die Here aan te roep nie, terwyl die tollenaar die vleeslike man is wat bekend was vir hulle skelmstreke en bedrog wat hulle gepleeg het. Die Fariseërs was meestal rein in hulle lewe en het hulle godsdiens en aanbidding van God met erns beoefen. Die tollenaars was volksverraaiers in diens van die Romeinse regering. Hulle het nie geskroom om hulle eie volksgenote in te loop en te verneuk nie.
Selfs met hul gebede kan ons hoor dat die Fariseër die gereelde kerkbesoeker is terwyl die tollenaar waarskynlik baie ongereeld in die kerk gekom het – die sogenaamde DDT lidmate van vandag, die Doop, Dood en Trou lidmate. Hulle kom net kerk toe wanneer daar iets op hulle gegooi word. Water met die doop, konfetti met die troue en grond met die dood. Die Fariseër het gereeld elke dag ten minste drie keer gebid terwyl ons kan aflei dat die tollenaar net gebid het as hy in nood was. Die Fariseër dank God in sy gebed terwyl die tollenaar net VRA!
Die Fariseër was dus nie so slegte ou nie en behoort ons hom toegee wat hom toekom. Mens wil amper selfs sê ons sou dalk beter daaraan toe gewees het as ons vandag meer Fariseërs in die kerk gehad het en minder tollenaars. Meer mense wat erns maak met hulle godsdiens, wat ywerig is in hulle godsdiens, wat die Bybel bestudeer en lojaal is in hulle godsdiens. Minder tollenaars wat bloot met leuens en bedrog hulle lewens deurbring. En wat eintlik maar net as die krisis in hulle lewe werklik groot is aan die Here dink.
Wat is Jesus se punt dan? Wat is die storie agter die storie? Waarom het Jesus die uitspraak gemaak dat die tollenaar weggegaan het as iemand wie se saak met God reg is. Die geheim van Jesus se storie lê in die eerste vers daarvan. Daar lees ons: “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel......” Die Fariseër se fout was dat hy homself nie voor God gesien het nie maar langs die tollenaar en toe lyk hy skielik baie groot in sy eie oë. Hy dank God eintlik net oor alles wat hy het en die mooi eienskappe wat hy besit. Hy gee homself punte vir sy godsdiens en geloof en in sy oë slaag hy die toets. Volgens sy godsdientige lysie is al die boksies met selfvertroue, korrek afgemerk en net as ‘n kantlyn aantekening, dank hy God terloops daarvoor.
Is dit nie maar ‘n heenwyser na ons eie situasie nie? Is baie van ons nie soms ook soos hierdie Fariseër nie? Kan ons eerlik ontken dat ons nie al onsself dikwels gemeet het aan die lewe van ander mense nie? En so bepaal ons ons eie waardes – deur te let op die waardeloosheid van ander. My kerkbesoek in vergelyking met my buurman s’n is werklik indrukwekkend. O ja, dis net genade. Maar die bors swel terselfdertyd van trots. Neem nou maar my getrouheid – ek is altyd teenwoordig en ek bring my kant. Wanneer ons onsself ondersoek, maar meet met ander se swakhede – eindig ons dalk net met selftevredenheid en uiteindelik met selfverheffing en hoogmoed, en dit kom tot ‘n val!
“Mense wat hul eie voortreflikhede besing, is meestal soliste” (Onbekend).
Gebed: Hemel Vader, terwyl ons U dank vir U genade dat U ons sulke modelmense gemaak het, moet ons nie vergeet van ons eie misvormdheid, onvergeeflikheid en onversoenlikheid en misgrype in die lewe nie. Weerhou ons om ons tydelike waardes teenoor ander te meet en eerder dit aan U waardes te koppel – ewigheidswaardes! Laat ons onthou Here, dat U ons gemaak het om ons naaste lief te hê en nie met hoogmoed op hulle neer te sien nie. Amen.